Ranglysposisie | 2 | |
2021 ranglysposisie | 3 | |
Streek | Afrika | |
Bevolking | 16 842 000 | |
Christelike bevolking | Honderde (Geopende Deure-skatting) | |
Meederheidsgeloof | Islam |
2Somalië
Somalië is ʼn meerderheid Moslem-nasie en die samelewing verwag dat alle Somali’s Moslems moet wees. Imams in moskees en madrassas verklaar openlik dat daar geen plek vir Christenskap is nie. Die gewelddadige rebellegroep al-Shabaab het herhaaldelik sy ideaal uitgespreek om alle Christene in die land uit te roei. Christene vanuit ʼn Moslem-agtergrond word as hoë-waarde teikens geag en kan summier doodgemaak word as hulle ware identiteite aan die lig kom.
Christene ervaar ook ernstige vervolging vanaf hul families en gemeenskappe. Dit word as verraad teenoor die familie en stam gesien om Islam te verlaat, en familielede en stamleiers teister, intimideer en vermoor Somali-bekeerlinge. Enigeen wat daarvan verdink word dat hy ʼn Christen-bekeerling is, word fyn dopgehou deur die senior gemeenskapsleiers en selfs deur hul eie familielede. ʼn “Kerklewe” is onmoontlik, so die enkele gelowiges moet in die geheim ontmoet. Islamitiese militante het hul jagtog op Christene wat in ʼn leierskapposisie is, verskerp.
Al-Shabaab het die afgelope jaar verskeie gewelddadige aanvalle in die hoofstad, Mogadishu, uitgevoer en talle soldate en burgerlikes doodgemaak, met honderde meer wat gewond is. Die politieke landskap het versleg en jihadistiese groepe buit dit uit, wat daartoe lei dat hulle volgelinge toeneem en hul strewe om die land se gebiede te beheer versterk word.
Ontmoet “Nala”
“Toe ek by die huis kom, het die mans in my familie my ingewag. Hulle het my aangerand, my selfoon afgeneem en my in ʼn kamer toegesluit. Hulle het gesê: ‘Ons het gehoor dat jy korrup is’, maar nooit die woord ‘Christen’ gebruik nie.”
Nala is ʼn Somaliese gelowige wat gedwing is om uit die land te vlug.
Bid asseblief
- Gewelddadige Islamitiese ekstremisme neem toe. Bid vir vrede en vir God se beskerming oor Sy Kerk.
- Somaliese gelowiges staar ernstige isolering in die gesig. Bid dat hulle God se vertroosting sal ervaar en maniere sal vind om in hul geloof te groei.
- Vir God se wysheid en beskerming oor Geopende Deure se werk in die Horing van Afrika en dat dit baie vrugte sal dra.
Hoe ondersteun Geopende Deure ons familie in Somalië?
Geopende Deure ondersteun Somaliese gelowiges regoor die Horing van Afrika deur dissipelskapopleiding en rus hulle toe om ernstige vervolging te hanteer.