Skip to content

Sirië: Meer as 200 Siriërs Ontvoer deur die Islamitiese Staat

Volgens berigte uit Sirië, het die ekstremiste groep, die Islamitiese Staat (IS), minstens 200 Christene in Sirië aan die einde van verlede week ontvoer.

Verskeie bronne vanuit Sirië berig dat ten minste 200 Christene as gyselaars deur die Islamitiese Staat (IS) in die stad al-Quaryatayn, aan die einde van verlede week, ontvoer is. Die Assyrian International News Agency (AINA), berig egter in ʼn persverklaring, wat ontvang is vanaf die Siriese Ortodokse Aartsbiskop van Homs, dat 250 Siriërs gevange geneem is deur IS, waaronder vroue en kinders.

Die stad is omtrent 100 kilometer suidwes geleë vanaf die antieke stad van Palmyra, wat vroeër vanjaar deur IS ingeneem is. IS het die oorname van al-Quaryatayn, wat ʼn bevolking van bykans 40 000 inwoners het en wat bestaan uit hoofsaaklik Soenni-Moslems en Christene, bevestig.

Meer as 1 500 mense het reeds vanuit al-Quaryatayn gevlug sedert die aanslag ʼn week gelede aanvang geneem het.

IS is ook verantwoordelik vir die ontvoering van meer as 200 Siriese Christene vanuit die Khaboer-rivier streek in noordoostelike Sirië vroeër vanjaar. Die Christene is gevange geneem uit hul dorpies, nadat dié oorgeneem is deur Islamitiese terroriste einde Februarie. Meeste van die gyselaars word steeds vermis.

Sirië is nommer vier op die Geopende Deure 2015 Wêreldwaarnemingslys, wat die 50 plekke waar Christene die ergste vervolging ervaar, lys. Ten minste 4 miljoen Siriërs het reeds die land verlaat. Sirië huisves ook bykans 6.5 miljoen interne ontwortelde persone (IDP’s). ʼn Geskatte 700 000 Christene het ook reeds Sirië verlaat sedert die aanvang van die oorlog vier jaar gelede. Geopende Deure verleen steeds hulp, deur plaaslike kerke en vennote in Sirië, om kos, kleding, mediese benodighede, en traumaberading te voorsien.

Bid vir diegene wat ontvoer is en hul families. Bid vir die Christene wat steeds in al-Quaryatayn vasgevang is. Hou ook asseblief vol om vir Christene te bid wat in Februarie ontvoer is.

Back To Top
Soek