Skip to content

Geopende Deure is ʼn internasionale, nie-winsgewende bediening wat ondersteuning en versterking aan vervolgde Christene bied. Ons doel in Geopende Deure Suider-Afrika is om nouliks saam te werk met vervolgde gelowiges wêreldwyd, hulle te versterk en te bemagtig om op hul beurt, uit te reik in liefde na hul bure. Deur die verskaffing van inligting, hoop ons om gelowiges in Suider-Afrika te inspireer en te betrek in die bou van diep en blywende verhoudings binne die liggaam van Christus, en in die voortdurende behoeftes van vervolgde Christene te voorsien.

Geopende Deure strewe om die liggaam van Christus te versterk wat onder beperking en vervolging leef weens hul geloof in Christus, en om hulle betrokkenheid by wêreld-evangelisasie aan te moedig deur:

  • Die voorsiening van Bybels en Christelike literatuur, media, leierskapsopleiding, sosio-ekonomiese ontwikkeling en voorbidding;
  • Die liggaam van Christus wat in bedreigde en onstabiele areas woon, voor te berei op vervolging en lyding; en
  • Die liggaam van Christus in die vrye wêreld te mobiliseer en toe te rus om met bedreigde en vervolgde Christene te identifiseer en aktief betrokke te raak om hulle te ondersteun.

Ons doen dit omdat ons glo dat as een lid ly, ly al die lede saam (1 Korintiërs 12:26), alle deure is oop en God maak dit moontlik vir Sy Liggaam om die hele wêreld in te gaan en die Evangelie te verkondig.

Al is dit soms moeilik om die verskil te identifiseer tussen vervolging en die alledaagse ongerief van om te lewe in ʼn wêreld wat Christenskap vyandiggesind is, is daar duidelike faktore wat ʼn rol speel in die identifisering van vervolging.

Vervolging vind plaas wanneer gelowiges die beskerming van godsdiensvryheid ontken word, bekering tot Christenskap verhinder word as gevolg van wetlike of sosiale bedreigings, fisiek aangeval of vermoor word vanweë hul geloof, gedwing word om hul werk of huis te verlaat as gevolg van gewelddadige dreigemente, of in die tronk gegooi word en ondervra word omdat hulle weier om hul geloof te verraai.

Ongeveer 215 miljoen Christene, in die Top 50 Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys-lande, ervaar hoë vlakke van vervolging as gevolg van hul geloof. Hulle verduur vervolging in die vorm van ondervraging, inhegtenisname, en selfs soms die dood vir hulle geloof, terwyl miljoene meer diskriminasie en vervreemding in die gesig staar. Geopende Deure werk saam met, en versterk, hierdie gelowiges in meer as 60 van die mees geslote lande om die wêreld heen.

Die Ichthus-Simbool is gebruik as ʼn geheime vorm van kommunikasie tussen die vervolgde gelowiges van die vroeë Kerk in die Romeinse katakombes. Hulle het dikwels die Ichthus-simbool in die grond geteken om hulself aan medegelowiges te identifiseer. Geopende Deure se gespesialiseerde missie is om die vervolgde Kerk wêreldwyd te dien. Die Ichthus-teken maak dadelik hierdie verbinding duidelik.

Die Doringdraad verteenwoordig mense in die tronk of arbeidskampe; mense wat hul vryheid verloor het. Ons by Geopende Deure is geroep om broers en susters, wat agter doringdraad leef, as gevolg van hul geloof in Jesus Christus, te dien. Die kombinasie van die doringdraad en die vis, saamgevleg, maak dit baie uniek. Dit identifiseer die mense wat ons wil dien, Christene (vis), terwyl dit terselfdertyd hulle gebrek aan vryheid (doringdraad) duidelik maak.

Vervolging was en is ʼn konstante metgesel van die Kerk deur die eeue (Ichthus-simbool). Die Rots is ʼn Bybelse konsep. Die woord “rots” is dikwels figuurlik gebruik in die Bybel in verwysing na Christus. As Rots, is God die Skepper, gee Hy Sy mense krag, verdedig Hy hulle, en voorsien Hy hulle van ʼn toevlug asook verlossing. In die Nuwe Testament is Christus die Rots uit wie die Gees van die lewe vloei, Hy is die fondament van die Kerk en haar hoeksteen.

Die Kerwing in die Rots. Om ʼn teken in rots uit te kap is nie maklik nie. Dit neem tyd en deursettingsvermoë. Dit is harde werk. Dit herinner ons aan die hardloop van ʼn marathon. Om Christus te volg is ʼn voortdurende proses en volharding word benodig.

Back To Top
Soek