skip to Main Content

En in meer as 60 lande, is Geopende Deure betrokke by:

Die verskaffing van Bybels en Christelike literatuur

Geopende Deure verskaf ʼn verskeidenheid Bybelse materiaal in verskeie tale aan vervolgde Christene, insluitende Studiebybels, Kinderbybels, MP3 Bybels en dissipelskap literatuur.

Leierskap- en dissipelskapopleiding

Geopende Deure bied opleiding in effektiewe kerkleierskap en dissipelskap, ten einde gelowiges te help om in hul geloof te groei en om te leer hoe om sterk te staan te midde van vervolging.

Die voorsiening van lewensonderhoud

Geopende Deure ondersteun slagoffers van vervolging, geweld en natuurlike rampe op praktiese maniere. Ons ondersteun Christelike families, weduwees en weeskinders met geletterdheidsopleiding, sakegeleenthede, asook geleenthede om ʼn bestaan te kan voer.

Persoonlike besoeke aan vervolgde gelowiges

Geopende Deure bring persoonlike bemoediging aan baie vervolgde gelowiges op verskeie maniere, insluitende die skryf van briewe en kaartjies van bemoediging, asook die stuur van reisigers om vervolgde gelowiges in hul plaaslike gebiede te besoek en vir hulle te bid.

Voorspraak

Geopende Deure help vervolgde gelowiges, deur namens hulle voorspraak te maak, regshulp aan hul te verleen, positiewe beleidsveranderinge te bewerkstellig en voorspraakveldtogte in Suider-Afrika te loods.

Ons doen die bostaande bedieningswerk in die volgende streke:

DIE MIDDE-OOSTE

Die Midde-Ooste is die geboorteplek van die Christelike Kerk. Tog is die Kerk vandag, in sommige gebiede, byna uitgewis as gevolg van Islamitiese druk. Die agteruitgang van die Kerk en die Islamitiese herlewing wat groei dwarsdeur die Midde-Oosterse lande is kommerwekkend vir Geopende Deure. Ons visie is om die Kerk in die Midde-Ooste te versterk, en Christene toe te rus om die sout en die lig in hulle deel van die wêreld te wees, asook om hulle aan te moedig om in hul lande te bly en nie die streek sonder ʼn Christelike getuienis te laat nie.

AFRIKA

Die vooruitgang van Islam en tradisionele godsdienste in Afrika, plaas Christene in baie moeilike omstandighede. Die Kerk benodig om toegerus te word om hierdie uitdagings te oorkom of anders sal die stryd vir die harte en gedagtes van Afrikane verloor word. Geopende Deure mik om Afrika se toekomstige Christenleiers op te lei en hulle te voorsien met die nodige sleutels om die kontinent tot geloof in Christus te bring.

SENTRAAL-ASIË

Die Kerk in hierdie area staar ernstige beperkinge in die gesig. Christene het baie min vryheid en in sommige gevalle is dit onwettig vir hulle om mekaar te ontmoet. Christene staar verwydering, diskriminasie, tronkstraf en marteling vir hul getrouheid aan Christus in die gesig. Daar is ʼn groot behoefte aan inheemse kerkleierskap sowel as dissipelskap binne inheemse kontekste. Daar is ook ʼn groot gebrek aan Skrif en geestelike literatuur in inheemse tale.

CHINA

China het vandag ʼn Christenbevolking van ten minste 80 miljoen. Hoewel die aangesig van vervolging baie verander het, word die Kerk onder China se minderheidsgroepe – veral die Moslemse “Uyghurs” en die Boeddhistiese Tibettane – inderdaad steeds erg vervolg. Die regering vervolg hulle, want hulle word beskou as deel van ʼn lastige minderheid. Die plaaslike gemeenskapsleiers, Boeddhistiese priesters en Moslemse Mollahs, vervolg hulle ook, want hulle distansieer hulself van sekere praktyke in die gemeenskap as gevolg van hul Christengeloof. Tot die middel van die 1990’s was die Chinese Kerk se grootste behoefte Bybels. Maar vandag is die behoefte aan Bybels “grootliks bevredig” aangesien die plaaslike kerke in staat is om Bybels self te finansieer, te druk en te versprei. Die dringende behoefte vandag is om te verseker dat Christene gedissipel word en dat Christenleiers opgelei word, sodat die Chinese Kerk kan voortgaan om in volwassenheid te groei.

SUIDOOS-ASIË

Christene in Suidoos-Asië het te doen met heelwat vyandigheid vanaf ekstremistiese Moslems, Boeddhiste en Hindoes in hierdie streek. Hierdie groepe wil toenemend, so veel as moontlik, Christelike aanbidding en getuienis deur middel van wetgewing, intimidasie en diskriminasie beperk. Dit is besig om ʼn groot uitdaging te raak om ʼn dissipel van Christus te bly in hierdie streek. Christene staar diskriminasie, beperkings, die sluiting van kerke, tronkstraf en marteling vir hulle geloof in die gesig.

LATYNS-AMERIKA

Christene in Latyns-Amerika trotseer revolusionêre, dwelmhandelaars en godsdienstige ekstremiste in konflikte. Christene is dikwels vasgevang in die kruisvuur tussen hierdie strydende faksies. Versuim om kant te kies tussen die groepe lei dikwels tot gevangenisstraf op valse aanklagtes of selfs die dood. In Mexiko word Christene vervolg omdat hulle nie deelneem aan die tradisionele rituele wat voorgeskryf word deur opperhowe nie. Hulle word ook dikwels valslik beskuldig van misdade omdat hulle weier om Christus te ontken.

Back To Top
Soek