Skip to content

Elke dag waag miljoene Christene hul lewens om Jesus te volg. In meer as 70 lande ondersteun Geopende Deure hulle deur Bybels te voorsien, noodleniging te verskaf en vervolgde gelowiges te help om vir die langtermyn sterk te staan.

In Suider-Afrika help Geopende Deure die Kerk om te bid, te gee en op te staan vir die wat ons geloof deel, maar nie ons vryheid nie.

Sien Impakverslag

En in meer as 60 lande, is Geopende Deure betrokke by:

Die verskaffing van Bybels en Christelike literatuur

Geopende Deure verskaf ʼn verskeidenheid Bybelse materiaal in verskeie tale aan vervolgde Christene, insluitende Studiebybels, Kinderbybels, MP3 Bybels en dissipelskap literatuur.

Leierskap- en dissipelskapopleiding

Geopende Deure bied opleiding in effektiewe kerkleierskap en dissipelskap, ten einde gelowiges te help om in hul geloof te groei en om te leer hoe om sterk te staan te midde van vervolging.

Die voorsiening van lewensonderhoud

Geopende Deure ondersteun slagoffers van vervolging, geweld en natuurlike rampe op praktiese maniere. Ons ondersteun Christelike families, weduwees en weeskinders met geletterdheidsopleiding, sakegeleenthede, asook geleenthede om ʼn bestaan te kan voer.

Persoonlike besoeke aan vervolgde gelowiges

Geopende Deure bring persoonlike bemoediging aan baie vervolgde gelowiges op verskeie maniere, insluitende die skryf van briewe en kaartjies van bemoediging, asook die stuur van reisigers om vervolgde gelowiges in hul plaaslike gebiede te besoek en vir hulle te bid.

Voorspraak

Geopende Deure help vervolgde gelowiges, deur namens hulle voorspraak te maak, regshulp aan hul te verleen, positiewe beleidsveranderinge te bewerkstellig en voorspraakveldtogte in Suider-Afrika te loods.

Ons doen die bostaande bedieningswerk in die volgende streke:

Asië

Islam, Hindoeïsme en Boeddhisme is die drie grootste nie-Christelike geloofsoortuigings in Asië. Talle hier volg Christus in die geheim. In sommige lande ervaar gelowiges bedreigings van godsdienstige ekstremistiese groepe en selfs die regering. Hulle ervaar ook gewelddadige teenkanting van hul eie families en gemeenskappe. Prys God dat Sy Kerk in dié streek voortgaan om te groei, ten spyte van die vervolging. Bid dat meer ongelowiges tot bekering sal kom.

Afrika

Die vervolgde Kerk in Afrika is tot ʼn groot mate die ontwortelde Kerk, aangesien miljoene gelowiges van geweld gevlug het. Ontworteling het gebiede van hul Christelike teenwoordigheid ontneem en ontworteldes aan verdere uitbuiting en trauma blootgestel. Intussen gaan jihadistiese optrede voort om die eens verenigde Moslem- en Christelike gemeenskappe te verdeel. Prys God vir ons familie, wat alles waag om Hom te dien. Bid dat Hy diegene wat ter wille van Sy naam verlies verduur het, sal vertroos en vir hulle sal voorsien.

Latyns-Amerika

In Latyns-Amerika, veral in inheemse gemeenskappe, word Christene vervolg omdat hulle Jesus volg. In dié gemeenskappe word hulle toegang tot noodsaaklikhede geweier, tot arbeid gedwing, in die tronk gestop of uit die gemeenskap geskop. Ongelukkig beskik hulle nie oor die nodige hulpbronne of kennis om die ongeregtighede te beveg nie. Prys God dat Christene ten spyte hiervan aanhou om die waarheid te volg. Bid vir God se voorsiening in alles wat hulle vir hul geloof in die gesig staar.

Arabiese Skiereiland

Die Arabiese Skiereiland is die wieg van Islam. In talle lande hier het daar vir ʼn geruime tyd geen Christengroepe bestaan nie. Tans funksioneer daar ʼn opkomende Kerk en talle soek na die waarheid. Prys God vir wat Hy in die streek doen. Bid dat die Liggaam van Christus in krag en getalle sal groei om ʼn lig te midde van die duisternis te wees.

Die Midde-Ooste

Vervolging, oorloë, ontworteling en ʼn ekonomiese krisis het Christelike gemeenskappe in Sirië en Irak uiters kwesbaar gelaat. Die Kerk het gekrimp as gevolg van Islamitiese vervolging, wat talle gedwing het om uit hul huise te vlug – ʼn element wat steeds vir gelowiges ʼn bedreiging bly. Prys God vir diegene wat in die streek oorgebly het. Bid dat God ons familie sal ophef sodat hulle kan voortgaan om tot eer van God tot die Midde-Oosterse samelewing by te dra.

Back To Top
Soek