Skip to content

Op die oomblik, in Indië Ajay se besonderse geloof deur jou aangevuur

Namate ons binnekort na die stembus gaan, so gaan ons familie in Indië ook. En hulle verkiesingsuitslag is deurslaggewend vir die Kerk daar.

Ajay* is een van ons vennote. Sy getuienis wys hoe vervolging in Indië oor generasies strek. Maar ook hoe God die Kerk in Indië toerus met besonderse geloof!

Ajay het grootgeword met ʼn duidelike prentjie van wat vervolging is…

Sy broer was die eerste in hul Hindoe-familie wat Jesus begin volg het. Toe sy pa, ’n Hindoe-priester, sy seun se nuwe geloof ontdek het, het hy hom meedoënloos vervolg. Uiteindelik is Ajay se broer uit hul huis gedwing. Op pad uit het sy broer belangrike afskeidswoorde vir sy pa gesê: “Jesus is steeds lief vir pa.”

Die woorde het Ajay se pa se hart deurboor en oor die volgende paar jaar is sy hart verander. Die hele gesin het Jesus as hulle Verlosser aangeneem.

Prys die Here! Stories soos hierdie spoor my aan om voort te gaan met my werk en aan te hou bid.

Kyk hier vir gebedspunte vir Indië>>

Maar nou was die vervolging teen Ajay se hele familie. Hulle is voortdurend onderdruk en uiteindelik uit hul dorpie geskop.

Hulle het hulle in ‘n nabygeleë dorp gevestig en hier het hulle ‘n kerk begin. Maar die gesin het nie vervolging agtergelaat nie… Hul nuwe dorpie is in Indië se Manipur-staat. En in Mei 2023 het Ajay gesien hoe gewelddadig vervolging kan wees toe Hindoe-ekstremiste hul dorpie aangeval het.

Ekstremistiese groepe het hul huis en die huise van ander Christene aangeval. Ajay onthou hoe hulle geskree het vir die Christene om uit te kom. “Die ekstremiste het kerkgeboue gevandaliseer en die glasvensters en die deure gebreek,” onthou Ajay. “Nadat hulle die kerk aan die brand gesteek het, het hulle huise begin aanval, bakstene en klippe gegooi en die deure met byle stukkend geslaan. Al die voertuie wat aan Christen-gesinne behoort, is verbrand.”

Duisende Christene is aangeval en moes vlug. Sommige pastore was gedwing om ‘n ooreenkoms te onderteken wat verklaar dat hulle na hul vorige geloof sou terugkeer en nie hul kerke sou herbou nie. As hulle weier, is hulle met verskriklike gevolge gedreig.

Jy het saam met hulle in gebed en ondersteuning gestaan. Dit het beteken dat hulp onmiddellik beskikbaar was.

Al het hy sy eie gesin gehad om voor te sorg, het Ajay ‘n bykomende verantwoordelikheid vir die pastore en ander gelowiges gevoel. Die hulp wat Ajay en sy gesin ontvang het, het hom gehelp om sy werk met Geopende Deure voort te sit, vervolgingsgereedheid-opleiding aan te bied en praktiese hulp aan ander vervolgde gelowiges te verskaf.

Tydens die geweld het Ajay aan sy geloof vasgeklou: “Matteus 5:10-11 inspireer my: ‘Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.’”

En sy besonderse geloof inspireer my.

Gereelde geweld in Manipur-staat duur voort. Ajay woon steeds in dieselfde area. Hy gaan voort met die bediening, dien, en help pastore met hul bedienings. Hy is daartoe verbind om gelowiges te help om sout en lig te wees, ongeag die situasie.

“God beskerm ons,” sê hy. “Hierdie mense kan ons geboue vernietig, maar hulle kan nooit God se mense vernietig nie.”

Wanneer mense in Indië Christus vind, sal vervolging sekerlik volg. Jou ondersteuning beteken dat hulle ondersteun word, nooit alleen is nie en versterk word om staande te bly.

Dankie vir jou ondersteuning en gebede vir ons vervolgde familie. Dít is wat ons die volgende paar weke voor bid en ondersteun! Klik hier om te sien hoe jy kan bid en ondersteun >>

Saam kan ons die besonderse geloof van ons familie in Indië, soos Ajay aanvuur.

 

Vrede

Lynette Leibach

Geopende Deure Suider-Afrika

N.S. Sluit aan by ‘n spesiale aanlyn-gebedsbyeenkoms op 28 Mei 2024 om te bid vir die verkiesings in beide Indië en Suid-Afrika. Meer inligting volg.

Ondersteun vandag…

Back To Top
Soek