Skip to content

Opgesluit oor ‘n Facebook-plasing

Christendom het diep wortels in Egipte (gelys as #16 op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys*) wat reeds eeue voor die koms van Islam in Noord-Afrika gevestig is. Vandag is Islam die meerderheidsgeloof in Egipte met ongeveer 90% van die bevolking wat Moslems is. In moderne Egipte word die Christen-minderheid dikwels gemarginaliseer en as tweedeklasburgers behandel. En met die styging van meer radikale interpretasies van Islam, het die druk op Christene die afgelope paar dekades toegeneem.

Nou, in ‘n voortgesette poging om Christenskap sistematies te beskadig, gebruik ekstremiste ‘n nuwe taktiek om Christene aan te val. Gematigde Moslems word ingepraat om die sosiale media bladsye van hul Christen-bure te kaap en dan lasterlike inhoud teenoor Islam daarop te plaas. Geopende Deure se Direkteur van die Midde-Ooste beskryf die huidige ontwikkelinge in Egipte as ‘baie ontstellend’. Ons het met ‘n ooggetuie van ‘n onlangse aanval gepraat.

Onvoorsiene moeilikheid
Dit het alles ʼn paar maande gelede begin toe Nermin (20) saam met haar ouma in hul dorpie, Ashnin El-Nasara, tee gedrink het, toe sy harde stemme in die straat buite die huis hoor. “Ek het uitgegaan om te sien wat aangaan,” onthou Nermin. “Ek het honderde mense met knuppels en klippe sien aankom. Hulle het gedreunsing, ‘Allah Akbar’ (God is goed), en vyandige slagspreuke oor Christenskap geskree.”

Die woedende skare het in Nermin se rigting beweeg, sy het vinnig terug in die huis gegaan, net betyds om die deur te sluit. Binne in die huis het sy uit vrees gehuil en geskree, terwyl die aanvallers haar deur met klippe en bakstene bestook het. “Die situasie was vreeslik” sê Nermin. Maar haar vrese het net vererger toe sy hoor hoe die skare af in die straat na haar ouers se huis beweeg. “Ek was bang hulle maak my ouers dood,” sê sy.

Gekaapte Facebook-rekeninge

Onbekend aan Nermin, het daar ongeveer ʼn maand van te vore, lasterlike plasings op Nermin se ouer broer, Fady Youssef Todary (26), se Facebook-blad verskyn. Fady beweer dat sy Facebook-blad gekaap was en het verskoning gevra vir die plasing. Sy verskoning was egter nie aanvaar nie. ʼn Geleentheid is via Facebook gereël om hom te konfronteer en te straf. Menigte Moslems van oral uit die omliggende area het beloof om die geleentheid by te woon.

Gelukkig is Fady en sy ouers geen leed aangedoen nie, aangesien hulle by ʼn familielid se huis weggekruip het. Intussen het die aanvallers hulle huis ingevaar en alles binne verwoes. Nermin deel oor die toestand waarin sy die huis gevind het: “Hulle het die vensters, meubels, en elektriese toestelle vernietig. Hulle het die matrasse met messe flenters gesny. Hulle het ook ons oom, wat langs ons bly, se huis verwoes.”

Die polisie het by die huis opgedaag, die mense kalmeer en van die aanvallers in hegtenis geneem. Tot almal se skok is Fady ʼn paar dae later ook in hegtenis geneem. Die polisie het selfs drie van sy familielede in hegtenis geneem – sy 19-jarige broer sowel as twee van sy ooms.

Sistematiese ekstremisme

Ongelukkig is gevalle soos hierdie nie ongewoon nie. “My plaaslike bronne het my van ander gevalle vertel, en verskeie gevalle is in openlik oor berig. Dit blyk om ʼn nuwe taktiek deur die ekstremistiese Salafis-groepe te wees wat poog om Christene in die land te [vernietig], veral die Koptiese Christene in Noordelike-Egipte” sê Geopende Deure se Direkteur van die Midde-Ooste, na sy besoek aan Egipte.

Die Facebook-kapings pas in die raamwerk van hoe ekstremistiese Salafiste te werk gaan, sê die direkteur. “Hierdie is nie voorvalle nie, hierdie is ʼn geteikende strategie wat poog om Christendom in Egipte te vernietig. ʼn Strategie van ʼn groep wat die fondse beskikbaar het om kuberkrakers aan te stel.

Om konflik te veroorsaak

Vader Soliman, die priester van die kerk in Ashnin El-Nasarad, meen, “Ek ken vir Fady baie goed. Hy is ʼn vredeliewende mens, en hy sal nooit iets negatiefs oor Islam op Facebook plaas nie. Maar daar is mense wat mik om konflik tussen Christene en Moslems in hierdie land aan te vuur.”

Dit maak hom hartseer om te sien hoe die vrede in sy dorpie so verwoes word, “ Meeste van die Moslems en Christene hier is eenvoudige mense. Ons is lief vir mekaar… my Christelike gemeenskap keur die belediging van Moslems af. Jesus het ons duidelik geleer om alle mense lief te hê.”

Die toekoms

Hierdie nuwe ontwikkeling, te same met die voortdurende sistematiese aanvalle op Christene, sowel as die ontvoering van Christenvroue en -meisies, verg dat meer navorsing gedoen moet word sodat “hierdie gevalle in detail gerapporteer word en bewyse ingevorder word.”

“Ons hoop dat dít ons in staat stel om die Kerk op verskeie vlakke beter te dien,” sê die direkteur.

Vir Fady bly die toekoms onseker en onveilig. Terwyl van sy aanvallers en sy familielede vrygelaat is, wag Fady steeds vir sy vonnis oor die beweerde godslasterlike plasings.

Bid asseblief vir die Kerk in Egipte – vir bewaring vir ons broers en susters wat aanvalle en ontvoerings in die gesig staar. Bid ook vir Fady en baie ander soos hy wat geteiken word via hul Facebook-rekeninge. Mag God aan hulle die krag gee om sterk te staan.

*Die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys word jaarliks saamgestel, dit lys die Top 50 lande in die wêreld waar Christene die meeste vervolg word vir hulle geloof in Jesus. Die lys is gebaseer op gedetailleerde en uitgebreide navorsing in meer as 65 lande. Besoek https://www.opendoors.org.za/afr vir meer inligting.

Geopende Deure is toegewyd om die vervolgde Kerk wêreldwyd te dien en te ondersteun, asook bewusmaking en gebed vir die vervolgde Kerk aan te moedig.

 

Back To Top
Soek