Skip to content

Wat kan Christene in Egipte verwag hierdie Paasfees?

Sedert Desember 2016, ervaar Egiptiese Christene gewelddadige aanvalle van ʼn ongehoorde aard, met meer as ʼn honderd gelowiges wat in minder as ʼn jaar vermoor is. Namate aanval op aanval die Kerk in Egipte getref het, is baie volgelinge van Jesus beseer, vermink en vermoor deur Islamitiese ekstremistiese groepe. Op die voorgrond wil dit blyk asof die Islamitiese Staat vasbeslote is om hul belofte na te kom om die Koptiese Christene in Egipte “uit te wis”.

Dit kom voor asof aanvalle gedurende Christen-feesvieringe die modus operandi van hierdie ekstremistiese groepe is. Met Paasfees 2018 om die draai… wat kan ons vervolgde broers en susters verwag? Kerstyd, Paasfees en Hemelvaartdag herinner baie families aan hartseer en trauma. Min Christene is nie hierdeur geraak nie. Hieronder is maar ʼn kykie in die lewens van die mense wat verlies gely het of beseer is in hierdie aanvalle.

Die hartseer voor Kersfees

Samiha, toe sy deur verteenwoordigers van Geopende Deure besoek is hierdie jaar.

Op 11 Desember 2017, was die kerk in Kaïro volgepak met aanbidders. In die Koptiese Kerk sit die mans en vrouens tradisioneel in aparte rye. Gedurende die diens, het ʼn man met ʼn bom wat aan sy bors vasgemaak was tussen die vroue ingehardloop en homself opgeblaas. Die binnekant van die kerk was bestek met stukkende meubels, die vloer bespat met bloed en geskeurde klere. “Daar was kinders. Wat het hulle gedoen om dít te verdien?” het ʼn getuie gevra.

Onder die ernstige beseerde vroue, was Samiha Tawfiq Awad. Die bom wat 27 lewens geëis het, het reg langs haar afgegaan en die helfte van Samiha se gesig weggeblaas. Sy kan nou nie meer hoor, ruik of sien aan die een kant van haar gesig nie. Spanlede van Geopende Deure het Samiha ʼn ruk na die aanval gaan besoek.

Terwyl baie Christene nog die stukke opgetel het van die Desember-aanval, het nog ʼn tragedie ʼn terugslag gebring… hierdie keer met meer sterftes.

Die massamoord op Palmsondag

Magid en sy twee kinders met ‘n foto van Hannan

Magid en sy vrou Hannan, ʼn Christenpaartjie van Alexandria, was nie ryk nie, maar het die lewe saam met mekaar en hul twee kinders geniet. Elke jaar, vir ʼn bietjie ekstra inkomste, het Magid en Hannan versierde palmtakke voor die kerk verkoop vir Palmsondag (ʼn spesiale Paasfeesviering vir Christene in Egipte). Verlede jaar, op Palmsondag het hulle ʼn klein stalletjie by die ingang van die kerk opgestel.

Nege-uur daardie dag, het die nuus van ʼn bomaanval op ʼn kerk in nabygeleë Tanta, Alexandria bereik. Uit vrees vir nog aanvalle, het die priester vinnig sy diens afgehandel. Sy vrees was nie ongegrond nie.

Oomblikke na die diens, het ʼn Islamitiese fundamentalistiese selfmoordbomaanvaller ʼn bom by die ingang van die hek laat afgaan, naby Magid en Hannan se stalletjie. Magid sukkel om te verduidelik wat hy volgende gesien het. “Na die aanval was daar rook, toe die rook begin opklaar het, het ek los liggaamsdele orals gesien. En toe het ek vir Hannan gesien, my liewe vrou in ʼn plas bloed.”

Die twee aanvalle het minstens 48 lewens geëis, en baie meer is beseer gelaat. Hannan het nie die aanval oorleef nie. Magid maak nou sy twee kinders op sy eie groot. Die lewe is baie moeilik vir hulle, maar hy hoop dat sy kinders altyd hul ma se geloof sal onthou, “Sy het altyd saam met hulle die Bybel gelees. Sy het hulle geleer hoe om te bid.”

Die martelare van Hemelvaartdag

Nadia langs ‘n muur met fotos van haar seun, Hany

Twee maande later, op Hemelvaartdag, was ʼn groep Christene, oud en jonk, met ʼn bus onderweg op ʼn besoek aan ʼn klooster in Minya. Nadia was op die uitstappie, saam met haar seun, Hany, en ander familielede. Toe hulle by die klooster aankom was hulle steeds onbewus van die verskuilde gevare.

Eweskielik het mans in weermagklere na die wiele van die bus geskiet om die bus tot stilstand te bring en toe op die bus geklim. ʼn Gewelddadige en brutale toneel het gevolg…

Die terroriste het deur die bus geloop, en elke man voor dieselfde keuse gestel: verloën jou geloof of sterf. Een vir een is die mans geskiet. Die indringers het by Nadia se seun, Hany, gestop. Van haar plek agter in die bus, het Nadia die toneel met vreesvolle afwagting dopgehou. Hany het sy gewrig opgelig om sy kruis-tatoe te wys en Nadia het sy laaste word gehoor: “Nee, ek is ʼn Christen.”

Al die mans op die bus het hulle lewens neergelê vir Christus en is geskiet, tesame met twee kinders. Nadia het oorleef. Sy verlang elke dag na Hany. Sy weet dat hy op ʼn goeie plek is, saam met die Verlosser wat hy nie verloën het nie. Sy bid ook vir die aanvallers, “Ek bid dat hulle deur God aangeraak sal word, sodat hulle hul weë sal verander.”

Paasfees 2018

Christene in Egipte weet nie wat om volgende te verwag nie, en met Paasfees om die draai, kan vrees maklik die vreugde oorskadu van ons Verlosser wat die dood oorwin het. Maar soos Nadia verduidelik, hou hulle vas aan Mattheus 10:28, “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.” Gelowiges in Egipte sal aanhou om vas te staan vir Christus, selfs in die aangesig van die dood!

Dus, terwyl ons Paasfees saam met ons familie vier, in ʼn kerk en gemeenskap wat vry is van bedreigings, kom ons onthou ons vervolgde broers en susters in gebed. Mag hulle vasberadenheid en getrouheid ons bemoedig. Bid saam met ons en vra die Here om hulle te beskerm gedurende Paasfees en dat watter beproewinge hulle ook die jaar in die gesig mag staar, hulle oë gevestig sal wees op die Kruis.

Boegenoemde gebeure is maar net ʼn paar van duisende getuienisse en nuus vanuit die vervolgde Kerk. Kliek hier om op hoogte te bly van die jongste nuus en/of gebedsversoeke vanuit die vervolgde Kerk.

Back To Top
Soek