Skip to content

Vyf ‘vakansieparadyse’ wat g’n vakansie vir plaaslike Christene is nie

Wanneer jy ʼn vakansie na die buiteland beplan, kan dit nét goed wees om ʼn bietjie navorsing oor jou moontlike bestemmings te doen. ʼn Skokkende realiteit is dat van die gewildste internasionale vakansiebestemmings en strand-paradyse ook lande is waar plaaslike Christene daagliks, uiterste vlakke van vervolging ervaar. Hiérdie lande spog wel met natuurskoon, toeriste-aantreklikhede en ʼn ryk kultuur, maar vlak onder die oppervlak lê daar ʼn ander realiteit. Hiér volg ʼn lys van vyf gewilde toeristebestemmings wat ook op Geopende Deure se 2018 Wêreldwaarnemingslys is; ʼn lys van die top 50 lande waar Christene die ergste vervolging vir hul geloof ervaar.

Maledive

Sonsondergang in Maledive.

Bekend vir sy tropiese eilandgebergtes wat uit meer as ʼn duisend koraaleilande bestaan, is Maledive ʼn gunsteling bestemming vir toeriste en veral paartjies. Maar as nommer 13 op die 2018 Wêreldwaarnemingslys, is Christenskap nie welkom in hierdie land nie.

Die regering van Maledive dring aan dat die land volgens konserwatiewe Islamitiese beginsels regeer word en dat alle landsburgers Moslems moet wees. Daar is geen godsdiensvryheid in Maledive nie, behalwe vir buitelandse Christenwerkers wat hul geloof in uiterste privaatheid mag beoefen.

Minder as 1% van die land se bevolking is Christene. Met die streng waarneming deur die regering, kan gelowiges nie met mekaar ontmoet nie en verlang hulle na geestelike voeding en samesyn.

Verenigde Arabiese Emirate (VAE)

Die Burj Al Arab, die 7-ster hotel in Dubai.

Die VAE (nommer 40) is bekend vir luukse stede soos Dubai, met top hotelle en winkelsentrums, uitsonderlike argitektuur en pragtige strande, maar om ʼn Christen in die Emirate te wees gaan met baie uitdagings gepaard.

Alhoewel buitelandse Christengemeenskappe relatief vry is om hul geloof te beoefen, is dit vir landsburgers ʼn ander storie. Volgens wetgewing kan burgerlikes, wat van Islam bekeer, doodgemaak word, alhoewel dit in baie jare nog nie uitgevoer is nie. Bekeerlinge vanuit ʼn Moslemagtergrond hou daarom dikwels hul geloof ʼn geheim uit vrees vir die nagevolge.

Indië

Taj Mahal in Indië

ʼn Ontploffing van kultuur, helderkleurige sari’s, unieke blare soos die Frangipani en natuurlik die Taj Mahal is net van die aantreklikhede in Indië. Maar in hierdie digbevolkte land, heers daar ook uiterse godsdienstige en nasionalistiese spanning.

In die laaste paar jaar het Indië vinnig geklim op die Wêreldwaarnemingslys  en is tans in posisie 11 op die lys van lande met die ergste vervolging van Christene.

Die radikale Hindoe-nasionalistiese beweging beskou Christene in Indië as buitestaanders en hierdie groep het ten doel om die nasie van beide, Islam en Christenskap te reinig.

Vervolging in Indië gaan gepaard met baie geweld. Gelowiges word dikwels fisiek aangerand of soms vermoor. Christenvroue is dubbeld so kwesbaar weens hul geslag asook hul geloof en die vervolging wat hulle ervaar is baie meer intens. Tog draai die regering ʼn blinde oog vir die aanvalle op godsdienstige minderhede.

Mexiko

Ou geboue in Oaxaca.

Met die ryk kultuur, pragtige weer en eersteklas strande, is Mexiko deesdae ʼn gunsteling reis- en vakansiebestemming, veral vir toeriste van die VSA. Ten spyte dat Mexiko (nommer 39) ʼn land is met ʼn Christenmeerderheid is die vervolging van Christene steeds ʼn probleem. Mexiko gaan gebuk onder korrupsie op alle vlakke, wat verskeie vorme van vervolging tot gevolg het.

Die uitbuiting van kerkleiers en Christelike besigheidseienaars deur kriminele groepe en dwelmkartelle is ʼn algemene probleem. Om kerkdienste by te woon, verhoog die moontlikheid van ontvoerings, en jongmense is veral in gevaar om deur bendes gewerf te word. Dwelmrehabilitasieprogramme en jeugwerk word as ʼn direkte bedreiging van die belange van dwelmkartelle gesien. Christene wat betrokke is by dwelmrehabilitasieprogramme word veral geteiken en vervolg.

Viëtnam

Vietnamese vrou wat toeriste items verkoop.

Viëtnam  is bekend vir sy borrelende stede, lewendige kultuur, en Boeddhistiese pagodes. Dit is ʼn gewilde reisbestemming en onlangs ook ʼn plek waarheen baie mense van Engelssprekende lande (insluitende Suid-Afrika) gaan om skool te gee. Maar, in posisie 18 op die 2018 Wêreldwaarnemingslys, is Viëtnam een van slegs vyf lande in die wêreld wat steeds deur ʼn Kommunistiese regering beheer word.

Christene in Viëtnam ervaar beduidende vervolging. Christengemeenskappe gaan gebuk onder arrestasies en die konfiskering van eiendom deur owerhede. Bekeerlinge van Boeddhisme, of ander gelowe, tot Christenskap ervaar die ergste vervolging, nie net deur die owerhede nie, maar ook deur familie, vriende en bure.

Kyk uit vir die aanlyn bekendstelling van Geopende Deure se 2019 Wêreldwaarnemingslys op 16 Januarie 2019 van die top 50 lande waar Christene die ergste vervolging vir hul geloof ervaar.

Back To Top
Soek