Skip to content

Van China tot Sub-Sahara Afrika ervaar Christene hoë vlakke van vervolging in 73 lande

Vyf jaar gelede was Noord-Korea (#1) die enigste land wat as ‘uiters’ geklassifiseer is vir sy vlak van vervolging van Christene. Hierdie jaar, op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys vir 2019, net soos in 2018, het 11 lande genoeg punte behaal om in daardie kategorie te val.

Die Wêreldwaarnemingslys (WWL) van 2019 is die nuutste jaarlikse opname van 150 lande met die doel om te meet waar dit die moeilikste is om as ʼn Christen te leef. Die algehele tendens in vanjaar se lys is dat byna die helfte (73) van die lande uiterse, baie hoë of hoë vlakke van vervolging getoon het. ʼn Jaar vantevore was dit 58 lande.

Die WWL, wat deur die wêreldwye bediening, Geopende Deure Internasionaal, gegenereer word en gebaseer is op uitgebreide opnames van interne en eksterne kundiges, kyk na wat agter die wêreldwye nuusopskrifte aangaan van sake soos Pakistani, Asia Bibi en Protestantse pastoor, Andrew Brunson, nou bevry van ʼn Turkse gevangenis, om uit te vind hoe moeilik dit is om ʼn daaglikse lewe as ʼn aktiewe Christen te lei.

In hierdie 73 lande, meen Geopende Deure dat die syfers daarop dui dat 1 uit elke 9 Christene wêreldwyd ‘hoë’ vlakke van vervolging ervaar. Verlede jaar was dit die ekwivalent van 1 in elke 12 Christene. In Asië (volgens die VN-definisie, insluitende die Midde-Ooste), val dit egter tot 1 uit 3, terwyl dit in Afrika 1 uit 6 is en in Latyns-Amerika 1 uit 21. Geopende Deure Internasionaal meen dat na raming 245 miljoen Christene in die Top 50-lande op die Wêreldwaarnemingslys ‘hoë’ vlakke van vervolging ervaar.

Christen-vervolging word deur die Wêreldwaarnemingslys-metodologie gedefinieer as “enige vyandige ervaring as gevolg van ʼn identifisering met Christus. Dit kan vyandige gesindhede, woorde en aksies teenoor Christene insluit.” Die navorsingsmetodologie onderskei ook twee hoofuitdrukkings van vervolging as, squeeze (die druk wat Christene op alle terreine van hul lewe ervaar) en smash (geweld). Terwyl smash gemeet kan word en gemonitor word deur die verslagdoening van konkrete insidente, word squeeze gedokumenteer deur te onderskei hoe die uitleef van Christenskap en ʼn Christelike getuienis onder druk geplaas word in vyf spesifieke sfere van die lewe. Die vyf sfere is: privaat-, familie-, gemeenskap-, nasionale- en kerksfeer.

Die WWL, wat sedert 1993 saamgestel word, word as die mees outoritêre lys van sy soort geag en jaarliks ekstern deur die International Institute of Religious Freedom (IIRF) geoudit. “Die resultate van die Geopende Deure 2019 Wêreldwaarnemingslys word akkuraat voorgehou binne die parameters van noukeurigheid wat in die prosessering van die inligting bereik is. … Die dokumentasiemeganismes is verbeter en die aantal lande wat omvattend bestudeer en voorgehou is, het noemenswaardig toegeneem wat lei tot ʼn beter dekking van sub-Sahara Afrika, asook Latyns-Amerika en Europa,” het die IRRF ouditverslag gesê.

Die 2019 Wêreldwaarnemingslys wys dat van ʼn globale perspektief kom vervolging van verskeie rigtings: van gelowiges se familie, vriende, medeburgers en werkskollegas, gemeenskapsrade, plaaslike regeringsamptenare asook van die polisie en regstelsels. Wanneer geslag in ag geneem word, wys die navorsing dat Christenvroue en -meisies meer vervolgingsdruk in families- en sosiale gebiede ervaar, terwyl mans en seuns meer geneig is om die ergste druk van die owerhede of militante te ervaar.

“Hierdie statistiese bewyse en navorsing toon dat die vervolging van Christene steeds toeneem en bevestig die belangrikheid van Geopende Deure se werk om die vervolgde Kerk wêreldwyd te versterk,” sê Jan Gouws, Uitvoerende Direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika. “Die jaarlikse Wêreldwaarnemingslys dui op die nuutste tendense van Christelike vervolging en help ons organisasie om te weet waar om ons werk te fokus.”

Die Top 10 lande op die 2019 Wêreldwaarnemingslys is: #1 Noord-Korea, #2 Afganistan, #3 Somalië #4 Libië, #5 Pakistan, #6 Soedan, #7 Eritrea, #8 Jemen, #9 Iran, en #10 Indië.

Enkele Hoogtepunte van die 2019 Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys

Asië

Nuwe wette in China (#27) en Vietnam (#20) poog om alle uitdrukking van godsdiens te beheer. Vervolging in China is die ergste in meer as ʼn dekade; sommige sê selfs sedert die Kulturele Rewolusie in 1976 geëindig het.

Indië (#10) se vervolging is ’uiters hoog’ en China ‘baie hoog’ en hierdie twee lande huisves die wêreld se grootste Christenbevolkings, een in ʼn sekulêre demokrasie en die ander in ʼn kommunistiese staat – in albei lande ervaar hulle ongekende vervolging – alhoewel dit op baie verskillende maniere uitgedruk word.

Nasionalistiese regerings soos Indië en Mianmar (#18) ontken steeds die godsdiensvryheid van hul groot Christenminderhede. Hulle stuur die baie duidelike boodskap dat om Indies te wees, moet ʼn persoon Hindoe wees, of om Birmaans te wees, moet ʼn persoon Boeddhisme omhels.

In Suidoos-Asië neem Islamitiese ekstremisme toe met selfmoordbomaanvalle in Indonesië (#30) wat op een dag drie kerke geteiken het.

Afrika

In die noordelike en Middel-Belt van Nigerië (#12) is meer as 3,700 Christene vir hul geloof doodgemaak – byna dubbeld die getal van verlede jaar (ongeveer 2,000) – met dorpe wat heeltemal deur Christene verlaat is wat gedwing was om te vlug. Gewapende aanvallers beweeg dan in en vestig hulleself in die dorpies sonder enige nagevolge. Van die 4,136 sterftes, wat direk verband hou met die Christelike geloof, wat die lys vir die Top 50-lande rapporteer, verteenwoordig Nigerië alleenlik sowat 90% daarvan (3,731).

Midde-Ooste en Noord-Afrika

Uiterste vervolging kom ook aan die hande van radikale Islamitiese militante voor, soos in Egipte (#16) – waar die Islamitiese Staat in Sinai in 2017 beloof het om die Koptiese Kerk uit te wis – asook in Libië (#4) en baie ander lande suid van die Sahara.

Latyns-Amerika

Latyns-Amerika, wat nie deur baie beskou word as ʼn plek van Christelike vervolging nie, vertoon lande soos Mexiko (#39) en Colombië (#47) op die Wêreldwaarnemingslys van 2019. Hier ervaar Christene vervolging wat hoofsaaklik kerkleiers en ander Christene teiken wanneer hulle opstaan teen korrupsie, die kartels en inheemse gebruike.

Vir meer inligting oor die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys 2019, kan jy by ons aansluit vir ons Facebook Live-Geleentheid wat op 16 Januarie om 13h00 plaasvind. Sluit hier by ons aan: https://www.facebook.com/OpendoorsSA/

Vir enige versoeke na onderhoude of meer inligting, kontak asseblief:
Lucilia Moleko (Mediaskakelbeampte)
011 888 9341
[email protected]

Back To Top
Soek