Skip to content

Nuwe navorsing wys ernstige wêreldwye toename in die vervolging van Christene

Afganistan is ná die Taliban-oorname die gevaarlikste plek om ʼn Christen te wees

Geopende Deure Internasionaal het sy 2022 Wêreldwaarnemingslys (WWL) op 19 Januarie bekendgestel. Hierdie lys word jaarliks saamgestel en bevat die top 50 lande waar Christene die ergste vervolging weens hul geloof ervaar. In dié wêreldwye opname, wat monitor hoe moeilik die lewe vir Christene is, wys die algehele tendense dat die vervolging van Christene teen ʼn kommerwekkende tempo toeneem – veral in Afrika.

Die WWL, wat die vlakke van vervolging en diskriminasie regoor die wêreld weerspieël, het bevind dat meer as 360 miljoen Christene hoë vlakke van vervolging en diskriminasie weens hul geloof ervaar – ʼn styging van 20 miljoen sedert verlede jaar. Hierdie syfer verteenwoordig een uit sewe Christene wêreldwyd, wat hoër is as die een uit agt op die 2021 WWL. Die hoogste vlakke van vervolging sedert die lys 29 jaar gelede vir die eerste keer gepubliseer is, is vanjaar aangeteken en die afgelope jare is gekenmerk deur ʼn bestendige toename.

Behalwe vir die top 50, het nog vyf addisionele lande besondere hoë tellings behaal. Algeheel het 76 lande uiterste, baie hoë of hoë vlakke van vervolging en diskriminasie behaal.

Afganistan is ná die Taliban-oorname nou die gevaarlikste plek in die wêreld om ʼn Christen te wees, wat ook Islamitiese ekstremiste wêreldwyd tot nog meer drastiese optrede aanhits – volgens die syfers wat vandag in die 2022 Wêreldwaarnemingslys (WWL) bekendgestel is. Afganistan vervang Noord-Korea na 20 jaar in die topposisie op die lys – ondanks vervolging in Noord-Korea wat ook vanjaar erg toegeneem het. Dié land is sedert 2002 aaneenlopend as die land met die ergste vervolging van Christene aangewys. Dit word gevolg deur Somalië in die derde plek.

Afganistan – die brutale werklikheid

Die verslag skets ʼn skokkende prentjie van die lewe vir Afganistan se klein, ver weggesteekte, Christelike bevolking. Dit dui op die volgende:

  • Christen-mans staar feitlik verseker dood in die gesig as hul geloof ontdek word.
  • Vroue en kinders kan die dood vryspring, maar hulle word gedwing om met jong Taliban-vegters te trou wat op soek is na “oorlogsbuit”. Vroue en meisies word verkrag en daarna deur mensehandel verkoop.
  • Die inkomende Taliban-regering het toegang verkry tot opnames en verslae wat hulle gehelp het om Christene te identifiseer, wat dikwels aangehou word om Christelike netwerke aan die kaak te stel voordat hulle doodgemaak word.
  • Taliban-vegters doen alles in hul vermoë om Christene deur hul huidige intelligensiestelsels op te spoor. Hulle gaan selfs van deur tot deur om hulle te vind.
  • Die grootste deel van die Christelike bevolking het na landelike gebiede of vlugtelingkampe in buurlande gevlug – wat almal op die WWL aangedui word as lande wat vyandig teenoor Christene is.

Noord-Korea

Ondanks die feit dat Noord-Korea na die tweede plek op die lys gedaal het, het die vlakke van vervolging in dié land vanjaar rekordhoogtes bereik. Nuwe teenreaksionêre wetgewing is ingestel, wat gelei het tot ʼn styging in die aantal Christene wat gearresteer is. Arrestasie lei onvermydelik tot tronkstraf in een van die land se brutale “heropvoedingskampe”, waar baie min mense lewendig uitkom.

Stygende geweld, onophoudelike druk

Die aangetekende sterftes van Christene wat weens hul geloof doodgemaak is, het gestyg vanaf 4 761 geregistreerde gevalle (WWL 2021) tot 5 898 (WWL 2022). Sub-Sahara Afrika, en veral Nigerië, is grootliks vir dié styging verantwoordelik. Die totale aantal kerke wat aangeval is, het gestyg vanaf 4 488 geregistreerde gevalle (WWL 2021) tot 5 110 (WWL 2022), en die aanhouding en arrestasies van Christene het met 44% (WWL 2021) tot 6 175 gestyg, met 1 315 van hierdie gevalle in Indië.

Hoewel openlike geweld meer aandag trek, is die daaglikse onophoudelike druk op Christelike gemeenskappe net so belangrik en hou dit aan styg. Hierdie druk word op ʼn verskeidenheid van subtiele en onverbiddelike maniere toegepas: Diskriminasie by die werk, druk vanaf familielede vir ʼn persoon om sy geloof te verwerp, laaste in die ry vir hulp en medisyne (veral gedurende Covid-19), burokrasie wat die lisensiëring van kerke verhoed en baie meer.

Wanneer ʼn mens spesifiek na die gewelddadige vervolging van Christene kyk, is drie van die vyf lande in die top 5 vir geweld op die Afrika-kontinent. Nigerië, wat algeheel in die sewende posisie op die WWL is, is weereens in die topposisie op die lys as die mees gewelddadige land vir Christene in die wêreld.

Volgens Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, skets vanjaar se Wêreldwaarnemingslys ʼn somber prentjie. “Afganistan se styging tot die topposisie op die Wêreldwaarnemingslys is uiters kommerwekkend. Behalwe vir die ontelbare gevalle van swaarkry wat dit verteenwoordig, stuur dit ook ʼn baie duidelike boodskap aan Islamitiese ekstremiste regoor die wêreld dat hulle sonder enige vervolging kan voortgaan met hul brutale stryd vir invloed.

“Met Islamitiese ekstremiste wat aangemoedig word, die herlewing van nasionalisme en baie lande wat meer gesofistikeerde vorme van vervolging ontwikkel, betree ons ʼn nuwe era van ʼn afname in menseregte. Aangesien godsdiensvryheid ʼn fondasie skep vir talle ander vryhede, is dit van kardinale belang dat ons in 2022 ʼn hernude verbintenis tot die nakoming van menseregte moet sien. In ʼn tyd waartydens mondelinge verbintenisse tot menseregte al meer afneem, is die bevordering en beskerming van godsdiensvryheid dringender as ooit tevore,” sê sy.

Belangrikste tendense op die lys

Die belangrikste veranderinge op die lys sedert WWL 2021 is:

  • Katar (#18 vanaf #29), die gasheer van vanjaar se Wêreldbeker, waar bekeerlinge vanaf Islam veral ernstige fisiese, sielkundige en seksuele geweld teenoor vroue ervaar.
  • Indonesië (#28 vanaf #47), waar Christene twee aanvalle in Sentrale Sulawesi, sowel as ʼn bomaanval by ʼn katedraal in Makassar, moes trotseer.
  • Mianmar (#12 vanaf #18), waar die weermag Christelike dorpe en kerke aangeval het, en meer as 200 000 mense na interne ontwortelingskampe verdryf het.
  • Bhoetan (#34 vanaf #43), waar bekeerlinge veral gemeenskapsdruk en geweld ervaar – en in die geval van vroue, ook seksuele geweld.
  • Geopende Deure se onlangse verslag oor Indië (#10) beskryf ʼn bevolking wat al meer by die nasionalistiese Hindutva-ideologie ingetrek word, waarvolgens elke Indiër ʼn Hindoe moet wees. ʼn Vlaag van vigilante-geweld teenoor Christene en ander godsdienstige minderhede word deur die owerhede oor die hoof gesien en selfs deur politieke leiers regoor die bevolking aangemoedig; en verder aangevul deur ʼn oplewing in verkeerde inligting en propaganda deur die hoofstroom- en sosiale media.
  • ʼn Soortgelyke model van lojaliteit en homogeniteit word in nasies so uiteenlopend soos Mianmar, (#12), Maleisië (#50), Sri Lanka (#52) en die sentrale Asiatiese state gesien. Al hierdie lande ervaar toenemende beperkings vir diegene wat van die siening “een land, een volk, een siening” afwyk.
  • Die Covid-19-pandemie word onder die kommunistiese ideologie in die Amerika-vastelande gebruik as ʼn voorwendsel om kerke te monitor en verdere beperkings af te dwing. In Kuba (wat die lys op #37 betree) is kerkleiers wat ná die Julie-betogings hul stemme dik gemaak het aangehou en gemartel.
  • ʼn Bietjie goeie nuus: Irak (#14 vanaf #11), Sirië (#15 vanaf #12), Egipte (#20 vanaf #16) en Turkye (#42 vanaf #25) het ʼn afname in geweld ervaar. Hoewel dit dalk weens die feit kan wees dat daar minder geleenthede vir aktiewe vervolging gedurende die Covid-19-pandenmie was, word dit steeds verwelkom.

Die situasie in Afrika

Intussen het die val van Kaboel tot ʼn nuwe gevoel van onaantasbaarheid onder jihadiste-groepe wêreldwyd gelei. Dié groepe glo dat hulle nie ernstige teenkanting vanaf die Weste sal kry vir hul ekspansionistiese agendas nie, en hulle buit nasies met swak of korrupte regerings uit.

Die uitwerking hiervan word nog nie volledig gevoel in die WWL 2022-rapporteringstydperk (1 Oktober 2020 tot 30 September 2021) nie, maar daar is sterk tekens dat dit geweld gaan aanhits in lande soos Nigerië (#7), Mali (#24), die Sentraal-Afrikaanse Republiek (#31), Burkina Faso (#32), Niger (#33) en die Demokratiese Republiek van die Kongo (#40) – lande wat alreeds hoë vlakke van geweld het.

In Nigerië is aangemeld dat altesaam 4 650 Christene doodgemaak is – 79% van die wêreldwye totaal. ʼn Soortgelyke strategie deur jihadiste-groepe en hul ondersteuners kan elders in dié streek gesien word:

  • Sub-Sahara Afrika, wat alreeds die streek is waar die geweld teen Christene die ergste is, het verdere skerp stygings in jihadiste-geweld ervaar, met vrese vir die destabilisering van ʼn groot deel van die streek.
  • Die sosiale orde in Mali, (#24 op die WWL) is besig om vinnig agteruit te gaan, met vrese dat dit die “volgende Afganistan” gaan word en opstande wat na naburige lande soos Niger en Burkina Faso oorspoel.
  • Beide die Demokratiese Republiek van die Kongo, wat deur die Alliansie van Demokratiese Magte geteister word, en die Sentraal-Afrikaanse Republiek het by Nigerië aangesluit op die top 10-lys vir vlakke van geweld.

Die “vlugteling-kerk”

Die voortslepende geweld en destabilisering in hierdie gebiede gaan waarskynlik tot ernstige gevolge lei, aangesien duisende mense wêreldwyd vir veiligheidsredes van hul huise wegvlug. ʼn Beraamde 84 miljoen mense is gedwing om hul huise te verlaat, dikwels omdat hulle ontwortel is, en ʼn beraamde 26,6 miljoen is vlugtelinge in ander lande.

ʼn Groot hoeveelheid van hierdie mense is Christene wat vir godsdienstige vervolging vlug:

  • In dele van Sub-Sahara Afrika het die meerderheid van die Christelike bevolking hulle huise ontruim en padgegee. Volgens die huidige rapporteringstydperk se rekords is honderde kerke in Burkina Faso, Mali, Niger en 470 in Nigerië die afgelope paar jaar gesluit.
  • Honderdduisende mense het van Islamitiese geweld (bv. in die Sahel-streek) gevlug of vlug van gedwonge diensplig (Eritrea #6), burgerlike konflik (Soedan #13), staatsonderdrukking (Iran #9) en/of familie-onderdrukking weens hul geloof.
  • Christene wat intern ontwortel word en vlugtelinge bly steeds in lande soos Irak (#14), Sirië (#15), Libanon en Jordanië (#39). Die owerhede weier dikwels om aan hulle humanitêre en ander praktiese bystand te gee omdat hulle Christene is.
  • In Mianmar (#12) is minstens 200 000 Christene intern ontwortel en 20 000 het uit die land gevlug omdat Christelike streke in die voortslepende konflik geteiken word.

Mense wat van hul huise wegvlug, is dikwels meer kwesbaar. Christelike vroue wat van hul huise wegvlug en na veiligheid soek, rapporteer dat seksuele aanranding die hoofoorsaak van vervolging is. Daar is ook talle berigte van vroue en kinders wat aan verkragting, seksuele slawerny en nog ander gruweldade blootgestel word, beide in kampe en terwyl hulle reisigers op soek na veiligheid is. Soos wat jihadisme versprei en nasies destabiliseer, kan ons verwag dat hierdie Christen-eksodus nog verder gaan vermenigvuldig.

Meer inligting

Besoek www.opendoors.org.za om die volledige 2022 Wêreldwaarnemingslys, die top 50 landprofiele en vervolgingstatistieke te besigtig.

Vir enige vrae oor die 2022 Wêreldwaarnemingslys, die navorsingsmetodologie of om ʼn onderhoud te reël, kontak Elizabeth Botha, Media- en Voorspraakbeampte, by [email protected], 083 227 8164 of 011 888 9341.

Geopende Deure Suider-Afrika (ODSA) is deel van die Geopende Deure Internasionaal-bediening, wat vervolgde Christene in meer as 60 lande wêreldwyd bystaan met die lewering van Bybels en Christelike literatuur, besoeke aan vervolgde Christene, dissipelskap en opleiding, noodleniging aan slagoffers van vervolging en natuurrampe, en die verkondiging en bevordering van bewustheid deur voorspraak.

Mediaverklaring uitgereik deur Elizabeth Botha

Media- en Voorspraakbeampte: Geopende Deure Suider-Afrika

Tel: 083 227 8164 / (011) 888 9341

Epos: [email protected]

 

Back To Top
Soek