Skip to content

Nuwe verslag wys Christen-kinders ervaar ernstige gewelddadige vervolging

Met Wêreldkinderdag wat op 20 November gevier word om die Verklaring van die Regte van die Kind deur die Verenigde Nasies in 1959 te herdenk, val die kollig opnuut op kinders regoor die wêreld en die verbetering van kinders se welstand.

Dit is daarom skokkend om te verneem dat die vervolging van Christen-kinders regoor die wêreld skerp toeneem en dat hulle dikwels ʼn verskriklike prys vir hul ouers se Christelike geloof betaal. In minstens 28 lande word die kinders van Christene en kerkleiers met ernstige gewelddadige vervolging geteiken en as kommoditeite behandel.

In lande met vervolging is kinders uiters kwesbaar om vervolg te word, veral in gebiede met voortslepende konflik. Christen-seuns word dikwels gedwing om by militêre groepe aan te sluit en meisies word aan seksuele geweld en gedwonge huwelike blootgestel.

Nuwe verslag oor vervolging van kinders

Dit is sommige van die bevindings in ʼn skokkende nuwe verslag deur die bedieningsorganisasie Geopende Deure Internasionaal. Die verslag, getitel “Kinders en jeug-spesifieke godsdienstige vervolging 2021”, beskryf die uiterste vervolging wat kinders in lande wat tot vervolging geneig is weens hul geloof in die gesig staar.

Duisende kinders regoor die wêreld ervaar vervolging, geweld en diskriminasie weens hul geloof. Hulle word geteiken om te voorkom dat die Kerk deur die volgende generasie groei en uitbrei.

Die verslag bevat die bevindings oor vervolgde kinders en jeug in die top 50 lande op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys, wat ʼn jaarlikse lys is van die 50 lande in die wêreld waar dit die moeilikste is om ʼn Christen te wees, met vervolging wat baie hoog of ekstreem is. Vir die doeleindes van die studie is kinders en jeug gereken as individue wat jonger as 18 jaar is.

Belangrikste bevindings

Die sewe belangrikste bevindings in die verslag is:

  • Kinders en jeug word geteiken om te verhoed dat die volgende generasie die Kerk opbou. Christen-gemeenskappe loop die gevaar om van die huidige jong generasie ontneem te word, sowel as van die toekomstige stigters van families of leiers in die Christen-geloof, aangesien kinders en jeug die potensiaal het om die Kerk te laat herleef en te verewig.
  • Die kinders van kerkleiers en bekeerlinge in minstens 28 lande word deur oortreders geteiken, met oortredings teen die kerk se kwesbaarste en mees magtelose lede. Dit is ʼn vorm van straf wat teen hul ouers gemik is.
  • Die vervolging van kinders is daarop gemik om jongmense se emosionele, sielkundige en godsdienstige identiteit negatief te verander. Aangesien hulle op ʼn stadium van hul lewens is waar hul identiteit beïnvloedbaar en in die proses van vorming is, beperk dit die keuses wat aan hulle beskikbaar is deur hulle te beïnvloed om selfbeperkend op te tree rakende die geleenthede en regte wat hulle nastreef en internaliseer dit die dominante godsdienstige of ideologiese identiteit.
  • Die top drie drukpunte vanaf staatsinstellings en die samelewing is diskriminasie en teistering deur onderrig; die weiering van toegang tot Christelike materiaal, onderrig en rituele; en die weiering van toegang tot Christen-ouers. Gesamentlik verhoed dit die volgende generasie om in hul vormingsjare meer oor die Christelike geloof te leer.
  • Kinders en jeug word as kommoditeite en produkte behandel, wat by ander geloofsgroepe ingelyf word of gedwing word om hulle te dien, eerder as om hulle soos individue te behandel wat integrale lede van hul gemeenskappe met inherente waardes en individuele menseregte is.
  • Breedweg word beide wettelose optrede en wetgewing in verskillende grade en kontekste gebruik as ʼn manier van godsdienstige diskriminasie en/of vervolging. Christen-kinders en jeug is veral kwesbaar in gebiede wat erg deur konflik geraak word. In sub-Sahara Afrika is onwettige geweld ʼn algemene metode van onderdrukking, terwyl staatswetgewing in die Midde-Ooste en Noord-Afrika dikwels gebruik word om toegang tot ʼn wettige identiteit as Christene en Christelike godsdienstige onderrig te weier.
  • Die vervolging van kinders en jeug is onlosmaaklik verbind tot geslagspesifieke godsdienstige vervolgingsdinamika. Soos wat seuns en dogters hul adolessensie nader, word die godsdienstige vervolging wat hulle ervaar toenemend deur hul geslag bepaal. Seuns in sommige Afrikalande en Latyns-Amerikaanse lande ervaar dikwels die bedreiging van gedwonge werwing vir militante groepe, terwyl meisies wêreldwyd teen ʼn hoë tempo aan seksuele geweld en gedwonge kinderhuwelike blootgestel word.

Die belangrikste drukpunte wat vervolgde kinders en jeug in die gesig staar, is diskriminasie en teistering deur onderrig, die weiering van toegang tot Christelike godsdienstige materiaal, onderrig en rituele, die weiering van toegang tot Christen-ouers, verbale, fisiese (insluitende marteling), seksuele en sielkundige geweld, gedwonge huwelike, die weiering van hul wettige identiteit as ʼn Christen en ontvoering.

Kinders moet beskerm word

Die uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, Lynette Leibach, sê: “Kinders en jeug-spesifieke vervolging is ʼn baie ernstige kwessie wat kinders se welstand en geleenthede direk beïnvloed. Soos wat die onlangse verslag wys, kom vervolging in baie verskillende vorms voor. Die bedoeling daaragter is egter deurentyd om die Christelike geloof en die voortsetting van die Kerk te stop of te bemoeilik.

“Ek is hartseer oor die realiteit van hierdie kwessie en die vernietiging wat veroorsaak word deur vervolging wat op ons geloofsfamilie se kinders gemik is. Ons moet saamstaan om hulle te beskerm.”

Ingrid Smit, ʼn bekende Suid-Afrikaanse maatskaplike werker, voeg by: “As ʼn vrou, Christen en maatskaplike werker, breek die vervolging van kinders my hart. Kinders is so kwesbaar en weerloos. Hulle is van volwassenes afhanklik vir beskerming, leiding en voorsiening.

“Kinders moet gekoester word, want die Bybel waarsku ons om hulle nie op ʼn dwaalspoor te lei of skade te berokken nie. Daarom is enige vorm van kindervervolging minagtend, donker en boos; dit het ʼn vernietigende uitwerking op die hele samelewing.”

Volgens pastoor Jackie Gouws, ʼn senior pastoor by die Rustenburg Baptistekerk, moet kinders goed ingelig word oor vervolging en geleer word oor die gevare wat hulle weens hul geloof kan ervaar. “Vervolgde kinders moet besef dat Jesus ook weens Sy geloof vervolg is en dat Sy volgelinge weens hul geloof vervolg sal word. Dit is van kardinale belang om kinders in die ‘vrye’ Westerse wêreld in te lig oor die lewe in lande waar daar ernstige vervolging is – dit sal hulle help om bewus te wees van die swaarkry wat vervolgde kinders ervaar.”

Errol Otto, jeugleier by die Pinksterkerk in Kraaifontein, sê: “Kinders is ʼn lewende boodskap van die toekoms wat ons generasie nie sal sien nie. Ons moet onskuldige jeugdiges in ons gemeenskap help om sterk te staan teen vervolging. Dankie aan Geopende Deure vir hulle ondersteuning om vervolgde kinders met kos, ʼn veilige blyplek en geleenthede om skool toe te gaan, te help. Mag die Here aanhou om hierdie bedieningsorganisasie te gebruik om Sy werk te doen en om kennis oor vervolging regoor die wêreld te versprei.”

Metodologie van navorsing

Die verslag is deur Geopende Deure Wêreldnavorsing (WWR) saamgestel. Die inligting is van Geopende Deure se veldpersoneel en bydraers in die veld, eksterne kenners en WWR-vervolgingsanaliste verkry. As deel van die proses om data in te samel, het streeksgebaseerde kenners kwalitatiewe data by traumaspesialiste, kerkleiers, fokusgroepe en plaaslike vervolgingskenners gekry.

Hoewel die navorsing die ervarings van Christen-kinders en jeug bestudeer, het die outeurs aangeneem dat hierdie taktieke nie uniek tot Christelike bevolkings is nie. Daar is dus ʼn behoefte aan baie groter begrip oor kinders en jeug wêreldwyd wat kwesbaar is vir vervolging, diskriminasie en teistering weens hul geloof en hul verbintenis tot Christen-ouers en gemeenskappe.

Geopende Deure Suider-Afrika (ODSA) is deel van die Geopende Deure Internasionaal-bediening, wat vervolgde Christene in meer as 60 lande wêreldwyd bystaan met die lewering van Bybels en Christelike literatuur, besoeke aan vervolgde Christene, dissipelskap en opleiding, noodleniging aan slagoffers van vervolging en natuurrampe, en die verkondiging en bevordering van bewustheid deur voorspraak.

Back To Top
Soek