Skip to content

Indonesië: Godsdienstige Geweld Laat Duisende Christene Ontwortel

Een persoon is dood en agt beseer nadat godsdienstige geweld tussen Moslems en Christene uitgebreek het in Indonesië se Aceh-provinsie op 13 Oktober.

Godsdienstige geweld het uitgebreek tussen Moslems en Christene in Indonesië se Aceh-provinsie op 13 Oktober, drie maande nadat ʼn inter-godsdienstige oproer opgevlam het in Papoea. Ten minste een persoon is dood en agt mense is beseer in konflikte wat gevolg het na die brandstigting van ʼn kerk deur Islamitiese ekstremiste in die Aceh Singkil-streek.

As gevolg van die onrus het duisende Christene na die naburige provinsie, Noord-Sumatra, gevlug. “Uit vrees vir verdere aanvalle het bykans 8 000 mense na die Sentraal Tapanuli en Wes Pakpak-streke gevlug die aand nadat die kerk afgebrand is,” het Ds. Erde Berutu van die Pakpak Dairi Christian Protestant Church (GKPPD) aan ʼn Geopende Deure-verteenwoordiger gesê.

Die plaaslike regerings is tans besig om na die repatriasie van vlugtelinge om te sien. Baie van die ontwortelde Christene is egter steeds vreesbevange. “Daar is geen waarborg van veiligheid vanaf die staat nie. Vir ons beteken veiligheid meer as bloot fisiese veiligheid; dit beteken dat ons, ons kerk kan terugkry en ons godsdiensvryheid kan uitoefen,” sê Ds. Erde, wat se kerk ook tot as verbrand het verlede maand. Boodskappe wat poog om Christene die skrik op die lyf te jaag is ook deur radikale Moslems versprei en verhoed Christene om terug te keer.

“Die ontwortelde Christene leef in gebrek en het ʼn desperate behoefte aan skoon water, kos, klere, babakos, komberse en medisyne,” berig ʼn Geopende Deure-informant.

Aceh is die enigste provinsie wat sjaria (Islamitiese) wetgewing implementeer, wat dit een van die mees vyandige plekke vir Indonesiese nie-Moslems en spesifiek vir Christene maak. Die streek het drie dekades van bloedige separatistiese konflik beleef, wat eers in 2005 tot ʼn einde gekom het. Dit het gebeur nadat die regering spesiale onafhanklikheid aan die streek toegestaan het, wat die voorreg om sjaria-strafreg te implementeer, ingesluit het.

Indonesië is die 47ste plek waar Christene die ergste vervolging ervaar soos gelys op die 2015 Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys. Alhoewel dit ʼn sekulêre nasie is, huisves Indonesië die wêreld se grootste Moslem-populasie. Islamitiese fundamentalisme en gewelddadige aanvalle, nie alleenlik teen kerke nie, maar ook teen Islamitiese sektes wat as ‘afwykend’ beskou word, neem drasties toe.

Back To Top
Soek