Skip to content

Ethiopië: Aanranding, Gevangenskap en Boetes op Christengemeenskap

ʼn Evangelistiese uitreik deur 15 Ethiopiese Christenjeugdiges van Addis Ababa, na die Moslembeheerde dorp van Karamile, het ʼn aaklige nadraai gehad nadat twee jong vroulike lede van die groep aangerand is deur plaaslike mense wat hul uitreikpogings teengestaan het. Die jong ‘sendelinge’ is in hegtenis geneem en die plaaslike Christengemeenskap staar gevolglik ongekende en ongrondwetlike beperkinge op hul geloof in die gesig.

Toe ʼn groep van 15 Ethiopiese Christenjeugdiges aangesluit het by ʼn evangelistiese uitreik na ʼn ander dorp, het hulle nie voorsien dat hul uitreik fisiese aanranding, gevangeneskap en beperkinge op die plaaslike Christengemeeskap tot gevolg sou hê nie.

Dit is egter presies wat gebeur het toe die groep jong Christene besluit het om 430 kilometer te reis vanuit die hoofstad van Addis Ababa na die oostelike Ethiopiese dorp van Karamile. Dié dorpie is in ʼn Moslem-beheerde area van Oromia-staat geleë en die doel van die besoek was om uit te reik na die plaaslike jeug.

Die moeilikheid het op die eerste dag van hul besoek begin toe ʼn groep plaaslike mense hul evangelisasie-pogings teengestaan het en twee van die vroulike lede fisies aangerand het. Die polisie het vinnig tussenbeide getree, maar in plaas daarvan om die aanvallers in hegtenis te neem, is die groep van 15 jeugdiges gearresteer. Die groep is later dieselfde dag vrygelaat nadat plaaslike kerkleiers toegetree het en om hul onthalwe vir hul vrylating gepleit het.

Die insident het egter groter nagevolge opgelewer. Dorpsadministrateurs en sekuriteitsbeamptes het die kerkleiers in Karamile na ʼn vergadering ontbied en hulle beveel om alle evangelisasie-aktiwiteite, buite die kerkterrein, te staak.

Die beamptes het gesê dat Christene nie toegelaat word om met enigiemand oor hul godsdiens te praat buite die grense van hul kerkterrein nie. Hulle het ook gesê dat hoewel Christene oor die reg beskik om in die privaatheid van hul tuistes saam met hul families te bid, hulle nie toegelaat word om ander uit te nooi na sulke gebedsgeleenthede nie.

Hierdie regulasies is teenstrydig met die grondwet van Ethiopië, wat godsdiensvryheid en die vryheid van uitdrukking sonder inmenging waarborg.

Kerkleiers in Karamile het gevra dat Christene wêreldwyd saam met hulle sal bid:

  • Bid vir wysheid vir die kerkleiers terwyl hulle, hul terugvoer rondom hierdie beperkinge oorweeg;
  • Bid dat die dorpsadministrateurs en sekuriteitsbeamptes sal besef dat hierdie beperkinge lynreg in stryd is met die grondwet en dat hulle die beperkinge sal afskaf;
  • Bid vir die jeugdiges wat aangerand en in hegtenis geneem is. Bid dat hierdie verwikkelinge hulle nie met vrees sal vul nie, maar dat hulle vuurvas in die geloof sal bly staan;
  • Bid vir die volle herstel en genesing van die twee vroue wat seergekry het in die aanval.

Ethiopië is #22 op die Geopende Deure 2015 Wêreldwaarnemingslys, van plekke waar die vervolging van Christene die ergste is.

Back To Top
Soek