Skip to content

Egipte: Kommerwekkende tekens van onstabiliteit – bid asseblief!

Bid asseblief vir die land van Egipte; baie Egiptenare se harte is vasgevang in ʼn wurggreep van angs en hopeloosheid as gevolg van die nypende ekonomiese toestand, asook die groeiende atmosfeer van onsekerheid wat heers in die land.

Die Egiptiese regering is tans in gesprekvoering rakende die implementering van nuwe belastingwette en ekonomiese maatreëls om die land se enorme internasionale en nasionale skuld te delg. Hierdie verwikkelinge veroorsaak egter dat kospryse en lewenskostes die hoogte in skiet.

Verder word daar vermoed dat radikale groepe groot hoeveelhede kosvoorraad, soos suiker, smokkel en stoor – wat voedseltekorte veroorsaak – om ontevredenheid en woede jeens die regering en President Al-Sisi aan te hits. Verder hits die Moslembroederbond die Egiptenare via sosialemedia aan, om teen die huidige regime te rebelleer op die 11de November.

Bid dat die Here Egipte sal vrymaak van die wurggreep van angs en hopeloosheid, dat alle boseplanne en korrupsie aan die lig sal kom en dat die Egiptiese Kerk standvastig sal bly in die krag van die Here se sterkte.

Egipte is #22 op Geopende Deure se 2016 Wêreldwaarnemingslys.

Dankie dat jy bid!

Back To Top
Soek