Skip to content

Die “onsigbare” geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging van vroue

Die Taliban-oorname in Afghanistan, dwelmverwante godsdienstige vervolging en die Covid-19-impak is sommige van die belangrikste faktore wat ʼn vinnig groeiende, dikwels “onsigbare” pandemie van geslagsgebaseerde geweld, ontvoering en mensehandel aanvuur, wat op Christen-vroue en -meisies regoor die wêreld gemik is. Dit is een van die bevindings in ʼn nuwe verslag deur die bedieningsorganisasie Geopende Deure Internasionaal, wat Christene wêreldwyd ondersteun en versterk.

Die verslag, getitel “Invisible: The Gender Report 2022”, is op Internasionale Vrouedag bekendgestel. Met die viering van Internasionale Vrouedag op Dinsdag, 8 Maart, val die kollig weereens op die lot van vroue en meisies – veral op die Afrika-kontinent.

Christen-vroue wat slagoffers is van geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging in gebiede soos sub-Sahara Afrika, die Midde-Ooste en Noord-Afrika, Asië, Latyns-Amerika en Afghanistan leef in vrees vir seksuele geweld, gedwonge huwelike, gedwonge egskeidings en om van die samelewing versteek te word.

 

Sigbaar versus versteek

Die dinamika van geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging wat mans gewoonlik raak, is gefokus en sigbaar. Daarenteen ervaar vroue patrone en vorms van vervolging wat kompleks en versteek is. Hoewel albei deur geweld gekenmerk word, ervaar Christen-mans tipiesmeer ernstige en selfs dodelike geweld, terwyl die verraderlike geweld wat deur vroue ervaar word geneig is om onsigbaar en langdurig te wees.

Die verslag onthul dat die Covid-19-pandemie Christen-vroue en -meisies selfs nog meer kwesbaar as tevore gemaak het. Tydens die inperkings het hulle vervolging en teenkanting deur hul eie families en gemeenskappe ervaar – wat vyandig teenoor hul geloof is.

Die verslag ontleed die aard en omvang van geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging teenoor beide vroue en mans oor twaalf maande, en dek die tydperk van Oktober 2020 tot September 2021. Die fokus is grootliks op die 50 lande op Geopende Deure se jaarlikse Wêreldwaarnemingslys, waar Christene die ergste vervolging en onderdrukking ervaar.

 

Belangrikste bevindings in die verslag

Onder die belangrikste bevindings vir vroue is die volgende:

  • Geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging is endemies, strategies en word verskerp gedurende konflik, misdaad en krisisse. Vervolgers buit sosio-kulturele norme en waardes uit, wat dikwels deel vorm van die regstelsel of daardeur gefasiliteer word, om Christen-mans en -vroue onder druk te plaas en uiteindelik die Christen-gemeenskap te verswak.
  • Die vervolging van Christen-vroue en meisies teiken hulle as seksuele voorwerpe en instrumente van skaamte. Gemarginaliseerde Christen-vroue en -meisies in verskillende uiteenlopende wêrelddele ervaar seksuele geweld, gedwonge huwelike en mensehandel, dikwels as ʼn manier om Christelike gesinne en gemeenskappe te straf en in die skande te steek. Aangesien hulle dikwels as minderwaardig geag word, word hul vermoë om kinders te hê en seksuele reinheid geteiken. Hulle is boonop ook kwesbaar om in mensehandel as bruide gebruik te word, veral in Asiatiese lande, of om as seksuele slawe gebruik te word deur ekstremistiese groepe in Afrika, wat hulle as oorlogstrofeë sien wat in staat is om aan toekomstige vegters geboorte te gee.
  • Die dwelmhandelbedryf vererger die dinamika van geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging wat Christene in die gesig staar. Die mag en oorweldigende beheer van dwelmkartelle en kriminele bendes in sommige streke skep ʼn geleentheid vir die godsdienstige vervolging van Christene deur dwelmverwante geslagsgebaseerde geweld, insluitende fisiese en sielkundige manipulasie deur gedwonge dwelmmisbruik. Dwelm-gegenereerde onbevoegdheid kan gebruik word om die misbruik van Christen-vroue en -meisies te fasiliteer, sowel as ontvoering vir die doel van seksuele slawerny en gedwonge prostitusie. Die gedwonge werwing van Christene vir dwelmverwante kriminele aktiwiteite verskans dwelmmisbruik en vervreem jongmense van hul gemeenskappe.
  • Globale krisisse laat die kwesbaarheid van Christen-mans en -vroue vinnig eskaleer, wat beteken dat geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging intenser raak. Nuwe geleenthede word deur globale krisisse geskep om ongewenste Christelike bevolkings skade aan te doen, en dit kan binne ʼn wye verskeidenheid kontekste voorkom, soos konflik, kriminaliteit parallelle godsdienstige regstelsels of selfs diegene wat positiewe stappe neem om geslagsgelykheid te bevorder. Akute situasies soos die Taliban-oorname in Afghanistan of die Covid-19-pandemie beklemtoon die weerloosheid van die kwesbaarste mense en veroorsaak gevolglik dat geslagsgebaseerde vervolgingstendense intensiewer raak.
  • Vroue van godsdienstige minderhede, soos die Christendom, is besonder kwesbaar onder die Taliban se slegs manlike, hoogs konserwatiewe Islamitiese regering in Afghanistan. Indien hulle Christenskap ontdek word, word ongetroude vroulike burgers as vroue en moeders gebruik om aan ʼn nuwe generasie Taliban-vegters geboorte te gee.
  • Sedert die begin van die Covid-19-pandemie het die maniere om Christen-vroue te skaad erg toegeneem. Die krisis rondom die pandemie het sosiale, kulturele, ekonomiese en ander strukturele kwesbaarhede vir vroue vererger. Gedurende die Covid-19-inperkings het miljoene mense – hoofsaaklik vroue en kinders – oornag meer kwesbaar geword. Slagoffers het die onvermydelike gevrees terwyl hulle saam met hul mishandelaars ingeperk was, met staatshulpbronne vir die pandemie wat van hulle weggehou is. Volgens ʼn verslag van die Verenigde Nasies het vroue sedert die begin van die pandemie deurlopend ʼn hoër vlak van fisiese, seksuele en emosionele misbruik ervaar.

 

Belangrikste drukpunte

Volgens die verslag verskil die drukpunte wat mans en vroue ervaar dikwels, maar die doelwitte is dieselfde.

Die top tien drukpunte wat Christen-vroue en -meisies beïnvloed, is: Seksuele geweld, gedwonge huwelike, fisiese geweld, sielkundige geweld, opsluiting deur familie (huisarres), ontvoering, gedwonge egskeidings, verbale geweld, die weiering van toegang tot sosiale gemeenskappe/netwerke en die weiering van toesig oor kinders.

Die top vyf drukpunte wat Christen-mans en -seuns beïnvloed, is: Fisiese geweld, sielkundige geweld, ekonomiese teistering, gevangenisstraf en gedwonge militêre/burgermagdiens.

 

Soek geregtigheid vir vroue en meisies

Helene Fisher, mede-outeur van die verslag, sê: “Die globale Kerk moet die omvang en erns van geweld teen Christen-vroue en -meisies openlik erken, veral in gemeenskappe wat weens hul geloof onder druk is. Ons moet bid vir vroue en meisies wat dubbel kwesbaar is weens hul geslag en geloof, en voorspraak doen vir vroue en meisies wat hierdie dubbele kwesbaarheid ervaar.

“Ons moet geregtigheid soek vir vroue en meisies wat enige vorm van diskriminasie, vervolging of geweld in die gesig staar, deur ʼn Bybelse begrip van God se hart vir geregtigheid en die waardigheid van alle mense te propageer. Vroue en meisies moet bemagtig word om toegang tot geregtigheid te kry sodat oortreders tot verantwoording te roep.”

Volgens dr Lydia Meshoe, senior lid van die African Christian Democratic Party se nasionale uitvoerende komitee en president van die bemagtigingsorganisasie Women of Destiny, is vroue regoor die wêreld die belangrikste sektor van elke samelewing en moet hulle met waardigheid, liefde en sorg behandel word. “Ons doen ʼn beroep op die Kerk om vroue te beskerm en namens hulle te praat. Ons doen ʼn beroep op regerings om die vervolging en doodmaak van vroue te beëindig. Genoeg is genoeg! Hulle moet toegelaat word om hul geloof sonder inmenging te beoefen.”

Leigh Beukes, president van Trinity Metodistekerk Vrouebediening, voeg by: “Ons bid en dink aan die lot van vroue in Suid-Afrika en regoor die wêreld. Die moorde, vervolging en mishandeling – ons gebede gaan uit na hierdie onbesonge helde, van wie baie voortydig stilgemaak is.”

 

Meer oor die verslag

Die verslag oor geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging word sedert 2018 jaarliks vrygestel. Die 2022-verslag bevat data wat deur Open Doors World Watch Research verkry is vir die 2022 Wêreldwaarnemingslys. Streeksgebaseerde kundiges het die primêre data vanaf globale versorgers, kerkleiers, fokusgroepe en streekskundiges versamel. Geopende Deure se geslagspan het die data geanaliseer om te bepaal hoe Christen-mans en -vroue in hierdie lande verskeie vorms van druk ervaar, om die algehele vervolgingstendense volgens geslag uit te lig.

 

Meer inligting

Besoek www.opendoors.org.za om na die volledige 2022 Wêreldwaarnemingslys, die top 50 lande se profiele en vervolgingstatistieke te kyk.

Vir enige vrae oor die verslag of om ʼn onderhoud te reël, kontak Elizabeth Botha, Media- en Voorspraakbeampte, by [email protected], 083 227 8164 of 011 888 9341.

Foto’s:

Foto 1: Esther, ʼn Christen-vrou van Nigerië, was ʼn slagoffer van vervolging weens haar geloof. Hier is sy saam met haar twee kinders.

Foto 2: ʼn Christen-vrou met Covid-19-noodleniging in Mianmar.

 

Geopende Deure Suider-Afrika (ODSA) is deel van die Geopende Deure Internasionaal-bediening, wat vervolgde Christene in meer as 60 lande wêreldwyd bystaan met die lewering van Bybels en Christelike literatuur, besoeke aan vervolgde Christene, dissipelskap en opleiding, noodleniging aan slagoffers van vervolging en natuurrampe, en die verkondiging en bevordering van bewustheid deur voorspraak.

Mediaverklaring uitgereik deur: Elizabeth Botha

Media- en Voorspraakbeampte: Geopende Deure Suider-Afrika

Tel: 083 227 8164 / (011) 888 9341

Epos: [email protected]

 

Back To Top
Soek