Skip to content

Colombië: Wie erf die FARC se kriminele ekonomieë nou dat ʼn vredesooreenkoms gesluit is?

Terwyl ʼn historiese skietstilstand ooreengekom is tussen die Colombiese regering en Colombië se grootste guerrilla-insurgensie, die FARC, spreek hierdie vredesooreenkoms nie die winsgewende bedryf van dwelmhandel in Colombië aan nie.

Die BBC-nuusagentskap het op 23 Junie, 2016, berig, dat ʼn “historiese skietstilstand ooreenkoms” tussen die Colombiese regering en die FARC, Colombië se grootste guerrilla-insurgensie, gesluit is en dat dit “hulle nader bring aan die beëindiging van meer as vyf dekades se konflik.” InsightCrime vra die onvermydelike vraag in ʼn verslag wat op 24 Junie, 2016, gepubliseer is: Wie erf die FARC se kriminele ekonomieë? Die verslag verklaar: “Alhoewel dit ʼn belangrike deurbraak is, spreek die vredesooreenkoms nie die saak van dwelmhandel aan nie.” Verder is daar reeds tekens van splintergroepe binne-in die FARC wat wegbreek om hulle eie dwelmhandel-bendegroepe te vorm.

Dennis Petri, vervolgingsanalis vir Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys, lewer kommentaar: “Vredesamesprekinge tussen die Colombiese regering en die FARC het in Augustus, 2012, begin. Op 30 Maart, 2016, het die Colombiese regering ook vredesamesprekinge met nog ʼn insurgensiegroep, die kleiner Ejército de Liberación Nacional (ELN/Nasionale Bevrydingsweermag), geïnisieer. Hierdie vredesamesprekinge moet verwelkom word, maar daar is baie uitdagings.

“Moenie vergeet dat Colombië se mense al vir dekades onder mekaar oorlogvoer nie. Dit sal nie so eenvoudig wees om blywende vrede te bewerkstellig nie. My grootste kommer is die omvang van die vredesamesprekinge: hulle bind slegs die FARC en nou die ELN. Ander guerrilla- en opponerende insurgensiegroepe en kriminele bendes wat teenwoordig is in die land, gaan nog steeds aktief wees. Bowendien is daar kommer dat die guerrilla-lede op die grond nie die vredesooreenkoms wat deur hulle leiers ooreengekom is, gaan onderhou nie en gaan voortgaan met hulle winsgewende dwelmhandel. Dit impliseer dat die druk, wat beide guerrilla groepe uitoefen op diegene wat hulle Christengeloof in plattelandse gemeenskappe beoefen, nie binnekort sal verminder nie.”

Colombië is #46 op die Geopende Deure 2016 Wêreldwaarnemingslys van plekke waar Christene die ergste vervolging ervaar.

Back To Top
Soek