Skip to content

Waar die hart van Jesus is…

“Salig is die wat arm van gees is,

want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Salig is die wat treur,

want hulle sal vertroos word.

Salig is die sagmoediges,

want hulle sal die aarde beërwe.

Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid,

want hulle sal versadig word.

Salig is die barmhartiges,

want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

Salig is die wat rein van hart is,

want hulle sal God sien.

Salig is die vredemakers,

want hulle sal kinders van God genoem word.

Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid,

want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” – Matteus 5:3-10

Jesus was besig om by ʼn diens op die Berg te preek, en het gepraat oor wie in die Koninkryk geseënd sal wees. Maar in hierdie deel van die Skrif lê Hy klem op hoe die harte en karakters van mense teenoor Hom behoort te wees. Jesus wys vir ons hoe om na Hom te soek en Hom te vind, en wys ook vir ons waar Sy hart is. Dit herinner ons aan die hart van die vervolgde Kerk en hoe hul harte op Jesus gerig is. Afgesien van wat hulle verduur, weet hulle dat God hul grootste skat is. Sitara is een van talle jong gelowiges in Indië wat God gekies het, ondanks haar beproewings.

Sitara* is ʼn 21-jarige meisie vanaf Indië, wat alreeds vir ses jaar as pleegouer instaan vir haar jonger sibbe. Hulle is wees gelaat toe Sitara slegs 15 jaar oud was. Hul gemeenskap het geweier om hulle te help en was van mening dat haar ouers se dood die gevolg was van hul Christen-geloof. Sitara en haar broer, Shekar, wat nou 15 is, werk gewoonlik as dagarbeiders om hulself en hul agtjarige sussie te onderhou. Maar toe die Covid-19-pandemie die land tref, was dit selfs moeiliker vir hulle om werk te kry. Daar was dae wat hulle honger moes gaan slaap.

Afgesien van die ontberings en verwerping wat sy verduur het, het sy voortdurend haar hart aan God gewy en Hom genader in al haar omstandighede. Ons het haar gevra hoe sy en haar sibbe die Here leer ken het, en sy het gesê: “Ons ma het verlam geraak toe ons nog klein was, so ek het my studies gestaak om haar te versorg. My pa het ook sy bes probeer, maar sy het nie gesond geword nie.”

Iemand het voorgestel dat haar ma na ʼn kerk geneem word, waar mense vir haar kon bid. Sy het vir byna ʼn jaar op die kerkgronde gebly, waar mense daagliks vir haar kom bid het. Op Sondae het al die lidmate van die kerk vir haar gebid. Haar ma se gesondheid het begin verbeter, maar na ʼn ruk het die verbetering opgehou en is sy uiteindelik oorlede. Haar pa is kort oorlede.

“Ek kon myself egter nie keer om kerk toe te gaan nie,” sê Sitara.

 “Al het my ma nie gesond geword nie, het ek geweet God bestaan. Ek het Sy liefde vir my aangevoel. Ek het geweet dat dit God is wat die leemte in my gevul het, wat niks anders kon nie. Ek het skelm saam met my broer en suster kerk toe gegaan. Ons het ook gebedsbyeenkomste bygewoon. Toe my pa daarvan uitgevind [voor hy oorlede was], is ons voor al die bure geslaan. Ons is ook verbied om daardie dag aandete by te woon.” Sitara se stem kraak terwyl sy van hulle stryd vertel.

“Net God het in hierdie tyd tot ons redding gekom, en Hy doen dit vandag nog,” sê sy.

Jou ondersteuning en gebede maak dit vir Geopende Deure se plaaslike vennote moontlik om hulle van noodsaaklike voedselhulp te voorsien en om hulle te herinner dat hulle ʼn wêreldwye familie in Christus het.

Dit maak nie saak wat Sitara en haar sibbe deurgemaak het nie, God sê in Matteus 5 dat hulle geseënd is. Nie net hulle nie, maar die hele Kerk in Indië. Afgesien van die verwerping en brutaliteit wat hulle verduur het, is hul harte en onverbiddelike karakter om God te soek en heelhartig te eer vir God aanneemlik en noem Hy hulle geseënd.

Laat ons aanhou bid vir Sitara, en haar broer en suster. Bid dat God in al hulle behoeftes sal voorsien, en hulle sal help om sterk te staan in hul geloof. Laat ons ook voortdurend bid vir haar broers en susters in Indië om sterk en op die Here gefokus te bly te midde van hul omstandighede. Mag die Koninkryk van God seëvier in Indië, en die wil van God sal oor Sy kinders heers. Jy kan by ons aansluit in gebed en ondersteuning vir die gelowiges in Indië. Kliek hier. #standfortruthindia

*Naam verander vir sekuriteit redes.

Back To Top
Soek