Skip to content

Die godsdienstige ‘koue oorlog’ in Algerië

ʼn Nuwe gety is aan die opkom in Algerië… ʼn Sistematiese veldtog wat stadig en strategies, die geloofsregte van die landsburgers skend… En een waarop geen nuusagentskap ag gee nie.

In die grootste land in Afrika identifiseer 99% van die Algeriese bevolking as Moslems. Dit plaas geweldige druk op die skramme 0.2% Christene, wat meestal almal bekeerlinge van Islam is.

In 2006 het die Algeriese regering ʼn nuwe wet bekendgestel wat byeenkomste, vir die doel om ʼn geloof buiten Islam te beoefen, verbied. Hierdie wetgewing stipuleer dat nie-Moslem-aanbidding slegs kan geskied in ʼn gebou wat deur die ‘Nasionale Kommissie vir Nie-Moslem Geloofsgroepe’ goedgekeur is. Deur die jare is kerke deur die owerhede gedreig dat hulle deure toegemaak sal word, omdat hulle nie die toestemming het om hulle geboue vir geloofsdoeleindes te gebruik nie. Tog, ten spyte van talle versoeke, het hierdie selfde komitee nog nooit ʼn permit uitgereik nie.

Kerk in Ouargla, Algerië

Nou, in onlangse maande, het die Algeriese owerhede ʼn komitee gestig met die doel om kerke te inspekteer en vas te stel of hulle aan veiligheidsmaatreëls voldoen. Maar volgens ‘Middle East Concern’ (MEC), ʼn groep wat voorspraak maak vir Christene, is hierdie inspeksies eenvoudig net ʼn rookskerm om verdere beperkinge op die godsdiensvryheid van Christen in Algerië te bewerkstellig… en onlangse aktiwiteite getuig hiervan.

Sedert November 2017 is ses Protestantse kerke in Algerië gesluit, met baie ander wat geforseer is om dieselfde te doen. Terselfdertyd is daar ook ʼn kommerwekkende toename in die druk op Christene.

Twee Bybelskole en ʼn boekwinkel, wat deur ʼn Christen besit word, is toegemaak. In minstens een geval is ʼn pastoor daarteen gewaarsku om besoekers by sy huis te ontvang. In Desember is drie Christene gearresteer omdat hulle in besit van Christelike literatuur was. En, in die suide van Algerië, het ʼn ander kerk, wat al vir meer as 10 jaar aan die gang is, na bewering “’n bevel vanaf die provinsiale Goewerneur gekry om alle geloofsaktiwiteite te staak.”

Christene aanbid tydens ‘n kerkdiens in Algerië.

In die lig hiervan het die organisasie van Protestante kerke van Algerië (EPA) nou ʼn beroep op die Algeriese regering gedoen om sy maatreëls rakende die sluiting van kerke te lig, en gelyke behandeling onder die land se grondwet te verseker. “As volle burgers, doen ons ʼn beroep op die hoogste owerheid in die land om te verseker dat al die fundamentele regte van die burger beskerm word, ongeag van hulle godsdienstige affiliasie,” het die EPA gesê.

Hierdie druk dui op “’n sistematiese veldtog deur die Algeriese regering om kerke in Algerië te sluit en Christene te arresteer” (MEC, 2018). En, sonder die optrede van die regering, en sonder die aandag van die internasionale media om hul saak te help, mag hierdie onwettige dade teenoor Christene moontlik net die begin wees.

Bronne: World Watch MonitorMiddle East Concern

Back To Top
Soek