Vroue van die vervolgde Kerk: Ji Ho
Ji Ho*, ʼn jong Christenvrou van Noord-Korea, onthou nog hoe polisiemanne haar kinderhuis geplunder het vir bewyse dat haar pa ʼn Christen was. En hulle het gekry waarna hulle gesoek het…
“Die polisiemanne het ons huis verwoes en die tuin opgegrawe. Hulle het ʼn Bybel gekry, wat in plastiek toegedraai en in die tuin begrawe was. Hierna is my pa uit die huis gesleep en weggeneem,” sê sy.
Tot vandag toe weet sy nie wat met haar pa gebeur het nie.
Ji Ho luister elke aand na haar pa se geheime radio, desperaat vir nuus oor kos sodat sy nie soos haar bure verhonger nie. Op ʼn dag het ʼn nuwe stem die luggolwe onderbreek.
“Julle is die sout van die aarde,” sê die radiostem. “Dit is die woorde van Jesus, en dit herinner ons daaraan dat ons nooit ons liefde vir ander moet verloor nie.”
Sy was verstom en het skielik onthou: “Dit was wat my pa baie jare gelede vir my gesê het.”
Hierna het Ji Ho haar lewe aan Christus gegee. Maar net soos die geskatte 400 000 gelowiges in Noord-Korea, moet haar geloof ʼn geheim bly en staar sy daagliks hongersnood in die gesig.
“Ek weet nie hoeveel ander Christene daar in die land is nie, en ek hoop dat ek eendag nog ʼn volgeling van Jesus kan ontmoet. Intussen sal ek voortgaan om na die radio te luister en Jesus te volg. Ek wil voortgaan om sout en lig te wees.”
Danksy die gawes en gebede van ons ondersteuners word Noord-Koreaanse Christene aan die lewe gehou en ontvang hulle geestelike ondersteuning – met hul geloof wat versterk word deur die uitsaai van geheime Christelike radioprogramme.
Geïsoleerde gelowiges soos Ji Ho het nou meer as ooit gebede en ondersteuning nodig. Jou geskenk hieronder sal help om gelowiges regoor die wêreld te ondersteun, wat Jesus op die gevaarlikste plekke volg.
*Naam verander, en verteenwoordigende foto gebruik vir sekuriteitsredes.