Skip to content

Sentraal-Afrikaanse Republiek: Vervolging Steeds Volop en Gebed en Ondersteuning is Nodig

Die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) word nie meer genoem in die wêreld se hoofopskrifte nie en dit veroorsaak dat ʼn mens mag dink die swaarkry van haar mense het tot ʼn einde gekom.

Geopende Deure het egter onlangs met Christene ontmoet wat ons daaraan herinner het dat gebed vir en ondersteuning aan SAR steeds nodig is. Afgesien van die feit dat ʼn vredesooreenkoms in plek gestel is, is ons broers en susters, veral diegene in die noordoostelike deel van die land, steeds die slagoffers van voortdurende geweld.

Lucien* is ʼn pastor wat nie by sy kudde kan wees nie, omdat rebelle juis kerkleiers teiken. Omer*, ʼn regeringsbeampte, bewonder pastors vir hul dapperheid tydens die krisis en hou steeds vol om by God te pleit om die beskerming van sy gemeenskap, wat twyfelagtig op die randjie van geweld staan. Daud*, ʼn Christen vanuit ʼn Moslemagtergrond, is dankbaar om die krisis tot dusver te oorleef het en glo dat slegs die Evangelie, genesing aan hierdie land kan bring.

Genesing is nodig in etlike streke waar onsekerheid steeds voortduur. In areas om Kaga Bandoro, het Fulani-migrante honderde mense ontvoer om te dien as hul arbeiders of seks-slawe. Hulle het ook die dorpe, Mbres, nie ver vanaf Kaga Bandoro nie, en Bria binnegeval waar hulle mense verjaag het, talle Christene doodgemaak het, en hul huise en kerke afgebrand het. Pastors is spesifiek geteiken en doodgemaak.

Christene in die mynersdorpie, Ndassima, staar boonop volwaardige slawerny onder die bewind van die Moslem Fulani-heerskappy in die gesig. Seleka magte het outoriteit oor die Christene se goud- en diamantmynbedryf en bedryf hul handel teen ʼn baie lae rentekoers. Minerale word gereeld deur geweld afgevat. Geen besoekers word in dié gebied toegelaat nie.

Daar is baie vlugtelingkampe met ʼn tekort aan voedsel en skuiling. Die kamphoof in Kaga Bandoro het die tekorte bevestig en besondere kommer oor die bejaardes uitgespreek. Die hoof van die kamp het aan Geopende Deure vertel dat hulle, hul hulpbronne so ver as moontlik strek terwyl vlugtelinge steeds invloei. Vlugtelinge het aan ons spanne vertel dat hul voedselrantsoene drie maandeliks ontvang, maar dat die voedsel hulle slegs een maand deursien. Met die reënseisoen wat spoedig op pad is, het een leier die behoefte aan skuiling benadruk. Sommige vlugtelinge het reeds probeer om tente uit plante te prakseer om onder te slaap.

Tot Kunze*, ʼn Geopende Deure-kollega, se verbasing, is hy soos ʼn familie-lid verwelkom toe hy die area besoek het.

“Ek is so geraak deur die ontvangs vanaf die vervolgde Kerk en pastors,” deel hy. “Hulle het gehoor dat Geopende Deure die vervolgde Kerk gedurende die krisis in SAR gehelp het, so hulle was baie verwelkomend. Een pastor het aan my vertel dat hulle verlate gevoel het, maar dat my besoek hulle daaraan herinner het dat hul nie alleen is nie. Dit was baie moeilik om te hoor van hul swaarkry – pastors wat doodgemaak word, die verkragting, die tekort aan kos en klere, die verwoesting en plundering van kerke, die dood van gemeentelede en die verbod op aanbidding. Toe ek deur die kamp geloop het en sommiges gegroet het en met ander gesels het, was hulle so gelukkig om met my te gesels. Baie van hulle het hul gehaas na my om hul swaarkry met my te deel.”

Hoewel hierdie gelowiges swaarkry, hou hulle vas aan die Here en het hul nie hoop op uitkoms laat vaar nie. Vir Kunze is die eenvoudige feit dat sommiges, soos Lucien, steeds Christus verkondig en aanbid baie bemoedigend. “Hulle was so entoesiasties in hul sang en dans, so vol vreugde in hul gebede aan God vir vrede en uitkoms. Ek het die vasberadenheid van hierdie vervolgde Christene gesien.”

Sentraal-Afrikaanse Republiek is #17 op die 2015 Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys.

*Regte name beskerm as gevolg van sekuriteitsrede

Back To Top
Soek