Skip to content

Pakistanse Christen-skoonmaker sterf by die werk

In Pakistan word talle Christene gedwing om beroepe te beoefen wat vernederend is, omdat hulle beskou word as “onrein” of as deel van die “laagste Hindoekaste” – wat oorgedra is vanuit Indië, gedurende die Britse koloniale tydperk. (Baie mense vanuit dié groep het tot Christenskap bekeer in die laat 19de eeu.)

Een só ʼn Christen is Shahzad Masih (24), ʼn rioolskoonmaker wat op 20 Januarie oorlede is nadat hy gifstowwe by die werk ingeasem het. Hy word oorleef deur sy vrou, sy seun Michael (3), en sy dogtertjie Neha (18 maande oud).

Shahzad het sy bewussyn verloor terwyl hy in die afvoer inbeweeg het om ʼn blokkasie skoon te maak. Hy is by ʼn nabye hospitaal aan ʼn ventilator gekoppel en na ʼn ander hospitaal verplaas waar hy dood is. Shahzad het as tydelike arbeider gewerk wat  maak dat jy nie in aanmerking kom vir enige vergoeding of voordele nie. Sy familie weet nie hoe hulle sy twee kinders gaan versorg nie, siende dat sy vrou ʼn tuisbly-ma, en ongeletterd is.

Shahzad is een van honderde werkers wat al dood is terwyl hulle verstopte rioolpype moes skoonmaak. Verlede Junie is ʼn ander Christen-skoonmaker dood nadat hy sy bewussyn in die afvoer verloor het. Dokters het geweier om aan hom te raak, omdat hulle besig was om te vas tydens Ramadan. Indien hulle aan hom geraak het, sou dit hul hele vastydperk ongeldig gemaak het.

Bid asseblief vir God se vertroosting en voorsiening aan Shahzad se familie. Bid ook vir krag en beskerming vir die talle Christene wat onder sulke haglike omstandighede werk omdat daar geen ander opsies vir hulle beskikbaar is nie.

Pakistan is tans #5 op die 2018 Wêreldwaarnemingslys van lande waar vervolging die ergste is

*World Watch Monitor. “Pakistan: Christian cleaner dies at work, leaving wife and two children.” 25 January 2018.

Back To Top
Soek