ʼn Ontwortelingskrisis bedreig die Christene in sub-Sahara Afrika
Die geweld teenoor Christene regoor sub-Sahara Afrika is besig om ʼn enorme ontwortelingskrisis te veroorsaak. Teen die einde van 2022 was daar reeds ʼn verbysterende 16,2 miljoen Christene in sub-Sahara Afrika wat weens vervolging gewelddadig uit hulle huise en vanaf hulle grond verdryf is. Hierdie toename word toegeskryf aan die teenwoordigheid van jihadistiese groepe in ʼn toenemende aantal lande.
In 2024, die tweede jaar van die Arise Africa-veldtog, val die kollig op die ontwortelingskrisis in sub-Sahara Afrika. Christene wat gedwing is om hulle huise en grond te verlaat as gevolg van hulle geloof in Jesus, leef in ondraaglike toestande in vlugtelingkampe vir interne ontwortelde mense (IDP’s).
Verslag oor ontworteling
Geopende Deure Internasionaal het onlangs ʼn in-diepte verslag oor die kwessie van ontworteling vrygestel, met die titel “No road home: Christian IDPs displaced by extremist violence in Nigeria”. Hierdie verslag, wat saamgestel is in samewerking met die Internasionale Instituut vir Godsdiensvryheid (IIRF) en die Wêreld Evangeliese Alliansie (WEA), bevat uitgebreide navorsing wat wys hoe godsdienstige samewerking die ervarings van ontwortelde Christene vorm in die gebiede van Nigerië wat die ergste geraak word.
Bestaande bewyse skets ʼn komplekse prentjie van die oorsake van ontworteling – faktore soos armoede, omgewingstoestande, etnisiteit en ʼn voedseltekort word ook verbind met voortslepende geweld en godsdienstige ekstremisme.
Belangrikste bevindings
Gewelddadige optrede deur ekstremistiese groepe in dele van Nigerië oor die laaste dekade het tot die massa-ontworteling van Christen-gemeenskappe gelei. In die noordelike deelstaat Borno, waar Islamitiese militante floreer en Christene teiken, en in Plateau-staat, waar geweld deur Fulani-militante tot die ontworteling van Christene lei, is die probleem meedoënloos.
Alhoewel die geweld beide Christene en nie-Christene beïnvloed, dui getuienisse daarop dat Boko Haram, die Islamitiese Staat Wes-Afrika Provinsie (ISWAP) en Fulani-militante opsetlik Christene of Christen-gemeenskappe, hulle lewendehawe, geestelike leiers en plekke van aanbidding teiken deur moord, ontvoering en die verwoesting van kerkgeboue.
IDP’s vanuit Christen-gemeenskappe in beide Borno- en Plateau-state het ook berig dat aanvallers ontwortelde Christene se grond beset en dan daar aanbly. Die aanvallers bly dus ʼn aktiewe bedreiging vir die ontwortelde Christene terwyl hulle grond verwoes word, beset word en nie deur die veiligheidsmagte beveilig word nie.
Pastoor Barnabas, een van die ontwortelde gelowiges in Nigerië, sê: “Miljoene Christene is ontwortel, maar niemand praat daaroor nie. Ons bly in die duister.”
ʼn Ander ontwortelde gelowige voeg by: “Ons kerke se deure bly toe. Ons is nog steeds in dieselfde situasie. Niemand kan ons verhaal beter as onsself vertel nie. Ons wil hê die wêreld moet weet dat ons nog steeds te midde van ʼn probleemsituasie leef.”
ʼn Donker prentjie
Nigerië is onder die top 10 lande regoor die wêreld wat IDP’s huisves. Dié land is tans nommer ses op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys (WWL) vir 2024, ʼn jaarlikse ranglys van lande met hoë vlakke van godsdienstige vervolging en diskriminasie teen Christene.
Borno- en Plateau-state in Nigerië is twee streke met ʼn aansienlike hoë aantal IDP’s, en tog duidelike dinamika van geweld. Daar is van Januarie tot April 2024 met altesaam 292 mense, wat deur plaaslike vennote geïdentifiseer is, onderhoude gevoer. Hierdie mense was hoofsaaklik IDP’s, asook ʼn paar werkers van humanitêre agentskappe. Die navorsing het gefokus op die plaaslike regeringsgebiede van Gwoza en Ngala in Borno-staat, asook die plaaslike regeringsgebiede van Bassa en Mangu in Plateau-staat.
In 2023 was daar 3,4 miljoen IDP’s in Nigerië. Ongeveer 82% van die IDP’s in Plateau-staat bly in gasheergemeenskappe. Sommige rig informele IDP-vlugtelingkampe op, terwyl ʼn minderheid in kampe bly wat deur die regering bestuur word. Die patroon verander effens in Borno-staat – teen April 2024 het 58% van die ontwortelde gesinne in vlugtelingkampe of soortgelyke plekke gebly.
Lewensomstandighede
In beide Borno- en Plateau-state is die lewensomstandighede in die IDP-kampe ʼn groot bron van kommer. Kwessies wat uitgewys is, is onvoldoende skuiling, oorbevolking, ʼn gebrek aan kos en water, die onvermoë om ʼn bestaan te kan maak, gedwonge werwing vir ekstremistiese groepe en beperkte toegang tot mediese sorg, opvoeding, vaardigheidsopleiding en wasfasiliteite.
“Dinge is regtig sleg in die kamp, maar ons word met vreugde en opgewondenheid gevul as ons Geopende Deure se mense sien. Julle vra altyd hoe dit met ons gaan, en net dit alleen maak ons baie gelukkig. Ons weet dat God ons help,” sê Abraham, nog ʼn ontwortelde gelowige in Nigerië.
IDP’s kan onwelkom voel in die plekke waar hulle skuiling soek en hierdie “veilige” plekke kan selfs aangeval word, wat die gevaar van geslagsgebaseerde geweld insluit. Wanneer IDP’s nie in formele kampe bly nie, sukkel hulle om regeringsondersteuning te kry en vind hulle dit meer uitdagend om humanitêre bystand te ontvang, soos in Benue-staat.
Wyer as Nigerië
Gedwonge ontworteling is regoor sub-Sahara Afrika ʼn aansienlike uitdaging in talle lande met kwesbare Christen-gemeenskappe. Kameroen huisves byvoorbeeld meer as 1 miljoen IDP’s en Burkino Faso meer as 2 miljoen. Die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) huisves meer as 6 miljoen IDP’s en Soedan meer as 9 miljoen.
Elkeen van hierdie lande word onder die top 50 lande op die 2024 WWL gelys, wat ʼn aanduiding is daarvan dat daar Christen-gemeenskappe in hierdie lande teenwoordig is wat baie hoë of uiterste vlakke van diskriminasie en vervolging as gevolg van hulle geloof ervaar. Met die teenwoordigheid van Islamitiese militante wat wydverspreid toeneem in die omgewing, ontwikkelende en opkomende konflik soos in Soedan, asook geteikende geweld teen Christene wat reeds aangemeld is, is Nigerië nie alleen in die ontworteling-verwante uitdagings wat dit in die gesig staar nie.
Die skaal waarop en tydsduur waarteen ontworteling plaasvind, is aansienlik. Teen Desember 2023 was daar al ʼn totaal van 1 711 481 IDP’s wat in Borno-staat alleen gehuisves is. Borno huisves 74% van die IDP’s in die noordoostelike gebied van Nigerië. Van die 1,7 miljoen in Borno, was 74% reeds voor 2021 ontwortel, wat ʼn aanduiding is van hoe baie IDP’s al vir baie jare met die harde werklikheid van ontworteling moet saamleef. ʼn Verdere 68% van die IDP’s is al twee of meer kere ontwortel.
Skokkende syfers
ʼn Totaal van 54 457 IDP’s was teen Desember 2023 in Plateau-staat gehuisves. Plaaslike agentskappe soos die Mwaghavul Ontwikkelingsvereniging (MDA) het egter aansienlike hoër getalle van IDP’s gerapporteer. Die MDA het byvoorbeeld gedokumenteer dat daar teen Januarie 2024 altesaam 103 000 IDP’s in die Mangu-regeringsgebied was.
Die behoefte aan humanitêre hulp en ondersteuning is uiters groot. Volgens een IDP is voedsel skaars omdat die gewasse deur Fulani verwoes is. “Die kos wat ons uit die grond kry, is nie genoeg nie. Daar is ook kwessies soos siektes en trauma. Ons dank God vir die Christen-organisasies wat traumaberading kom doen het. Daar is geen beskerming teen siektes nie weens die omstandighede waarin mense in die kampe leef. Die IDP’s benodig kos, klere en ander produkte.”
In die Mangu-regeringsgebied is 51 131,69 hektaar landbougrond en gewasse tussen April 2023 en Januarie 2024 vernietig. Daar word verder berig dat meer as 448 plase in die Bassa-regeringsgebied tussen 2018 en 2023 vernietig is.
ʼn Persoon in die Mangu-regeringsgebied in Plateau-staat, met wie ʼn onderhoud gevoer is, sê: “Die globale Kerk het nodig om te weet dat baie mense ontwortel is. Die globale Kerk het nodig om te bid dat die ontwortelde mense sal kan terugkeer.”