Skip to content

ʼn Sentrum van Hoop, gebou deur kreatiewe, “eetbare” maniere

Die koskultuur is Suider-Afrika is nie net ʼn baie prominente een nie, maar ook ʼn manier om gemeenskappe en groot verbruikersmarkte te ontwikkel. Dit kan ook ʼn rede wees om mense te besoek en uit te vind hoe dit met hulle gaan, of om ʼn gesprek aan te knoop met vriende en vreemdelinge in ʼn winkel. Dit is ook ʼn manier om jou ondersteuning aan diegene te wys wat swaarkry en deur ʼn moeilike tyd gaan.

En vir baie mense kan koffie voor kerk of gedurende die week, of sommer net ʼn spontane kuier by die huis, die wêreld se verskil maak in verskeie gemeenskappe rondom ons. Dié tipe koskultuur is nie net algemeen in Suider-Afrika nie, maar ook in die Midde-Ooste. In Irbin, Sirië, het Joseph die enigste kafee-restaurant in sy gebied oopgemaak. Ons bid dat dit ʼn Sentrum van Hoop sal word en die boodskap van Jesus se liefde hier met talle ontwortelde gelowiges in die land gedeel sal word.

Die oorlog in Sirië duur al vir tien jaar voort, en in Julie 2012 moes honderde inwoners uit Irbin, ʼn voorstad van Damaskus, vlug terwyl militante beheer oor die gebied verkry het. Soos baie ander inwoners, het Joseph, ʼn Christen-man, ook gevlug.

Maar sedert die streek in 2018 onder regeringsbeheer gekom het, het mense begin terugkeer, en Joseph het onlangs die eerste kafee-restaurant in Irbin oopgemaak. Dit is een van vyf inkomste-genererende projekte wat ons, te danke aan jou ondersteuning en gebede, in dié streek kon vestig.

“Die eerste keer wat ek na Irbin teruggekeer het, het die gedagte van ʼn restaurant by my opgekom. Daar is glad nie so ʼn plek in die hele streek nie. Ek het met pastoor Daniel daaroor gepraat, waarna hy julle gekontak het. Teen die begin van 2021 was die restaurant reg om oop te maak,” verduidelik Joseph.

Baie gelowiges wat deur rebelle in hul gebiede ontwortel gelaat is, voel dikwels ongemaklik om terug te gaan, of hulle kan nie terugkeer nie omdat hulle hul huise verloor het.

“Al Yousef’ Café is ʼn plek waar die jeug bymekaar kan kom om speletjies te speel, sokker te kyk en ook vir families om ʼn lekker aandete saam te geniet. Ons spasie word ook vir konferensies gebruik. Ons het alreeds ʼn dokter hier gehad wat ʼn opvoedkundige konferensie vir vroue aangebied het. Dis die enigste ruim saal in die stad.

“My droom is dat Irbin tot sy volle glorie herstel sal word, soos voor die oorlog. Ek is daar gebore, asook my vrou en ons drie kinders. Ek wil my familie terugbring en hulle hier kom vestig. Die gemeenskap van Irbin is baie familievriendelik. Die Kerk het ons geleer van lojaliteit en omgee, en dat ons een familie is. Ek is so grootgemaak, en ek wil hê my kinders moet dit ook ervaar.” Joseph vertel in ʼn oortuigende, ferm stem: “Ek is baie hoopvol vir die toekoms; my kinders is my bron van hoop.”

Joseph is een van die begunstigdes van die inkomste-genererende projekte wat Geopende Deure ondersteun. Deur plaaslike vennote kon ons al belê in 1 734 inkomste-genererende projekte vir die Sentrums van Hoop. Die projekte het mense soos Joseph gehelp om ʼn restaurant te begin en vir ander mense om ʼn winkel, klein fabriek of werkswinkel te begin. Ander is gehelp met landbou-aktiwiteite, wat ook baie ander lede van die gemeenskap help om ʼn vorm van inkomste vir hul families te genereer.

“Dit gee hulle die geleentheid om hul families te ondersteun en om aan ʼn toekoms vir hul land te bou. Dit bemoedig broers en susters om hulle as hulle suksesvol is. Julle bring hoop aan so baie Siriërs. Te midde van die verwoesting in die land, is dit brandende kerse van hoop wat wys dat die situasie in die land nie een is van diepgewortelde smart en hartseer nie. Die oorlog het nie die laaste sê nie,” sê ʼn personeellid van Geopende Deure.

So die volgende keer wanneer julle saam met familie en vriende kuier, bid vir die gelowiges in Sirië wat hul lewens herbou en ʼn baken van hoop en lig vir Jesus is in hul gemeenskappe deur hierdie inkomste-genererende projekte. Sluit by ons familie in Sirië aan deur ʼn baken van hoop te word en gelowiges in Sirië te help om hul gemeenskappe te herbou en die boodskap van Jesus te versprei. Klik hier om ʼn lig en hoop te wees, en seker te maak dat hulle wat vervolg word nooit alleen is nie.

 

Back To Top
Soek