Skip to content

Minstens 50 mense dood in bloedbad deur gewapende mans by Nigeriese kerk

Die bedieningsorganisasie Geopende Deure, wat vervolgde Christene regoor die wêreld ondersteun, is geskok deur die bloedbad by ʼn kerk in suidwestelike Nigerië waarin minstens 50 mense dood is, talle beseer is en ʼn onbekende aantal mense ontvoer is – met die oorledenes wat ʼn groot aantal kinders insluit.

Geopende Deure is uiters bekommerd oor die stygende geweld in Nigerië, veral teenoor kerke. Die geweld was in die verlede tot die noorde van Nigerië beperk, maar dit versprei nou na die suidweste en ander dele van hierdie Noord-Afrikaland.

 

Brutale aanval op aanbidders

Onbekende gewapende mans het die St. Francis Katolieke Kerk in die dorp Owo, Ondo-staat, suidwestelike Nigerië, op Sondag, 5 Junie, aangeval terwyl gemeentelede bymekaargekom het om Pinkster te vier. Hulle het ʼn beraamde 50 mense doodgemaak en die leidende priester en ʼn onbekende aantal teenwoordiges ontvoer.

ʼn Polisie-woordvoerder vir Ondo-staat, Funmilayo Ibukun Odunlami, sê die gewapende mans het op mense buite en binne-in die kerkgebou geskiet, wat gelei het tot dood en beserings van aanbidders. Volgens ooggetuies het die aanvallers ook plofstowwe laat ontplof. Volgens ʼn BBC-verslag het die aanvallers hierna die priester en sommige ander kerkgangers ontvoer.

Daar is tot dusver nog geen amptelike dodetal nie. Adelegbe Timileyin, wat die Owo-gebied in Nigerië se laer wetgewende gesag verteenwoordig, sê minstens 50 mense is dood. Ander beweer egter dat dié syfer heelwat hoër is en skat dat die dodetal tot 70 mense kan styg. ʼn Staatspolitikus, Ogunmolasuyi Oluwole, sê daar is heelwat kinders onder die dooies.

ʼn Dokter by ʼn hospitaal, wat geweier het om sy naam bekend te maak, sê minstens 50 liggame is na twee hospitale gebring. Dosyne gewondes het ook mediese aandag benodig, wat die hospitaalpersoneel oorweldig het.

Die goewerneur van Ondo-staat, Arakunrin Oluwarotimi Akeredolu, het die toneel van die aanval en sommige van die beseerdes in die hospitaal besoek. Hy het Sondag se insident as “ʼn groot bloedbad” beskryf, wat nie toegelaat moet word om weer te gebeur nie.

 

Onbekende motief

Niemand het sover verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.

Hoewel sommige bronne sê dat die motief nog nie duidelik is nie, het Adeyemi Olayemi, ʼn wetstoepasser in Ondo, gesê die aanval is waarskynlik die handewerk van etniese Fulani-terroriste, na wie soms as bandiete verwys word. Hulle het al heelwat meedoënlose aanvalle in oorwegend noordelike Nigerië uitgevoer, maar ook in ander dele van die land.

Olayemi sê die aanval was waarskynlik uit wraak vir onlangse beperkings deur die regering op weiding in Ondo, insluitende in woude waar die aanvallers aanvalle uitgevoer het. Die beperkings is ingestel ná ʼn toename in ontvoerings in dié staat.

“Ons het verbeterde sekuriteit geniet nadat veewagters deur die administrasie uit ons woude weggedryf is,” sê Olayemi. “Dit is ʼn vergeldingsaanval om ʼn diaboliese boodskap aan die goewerneur te stuur.”

Geopende Deure ondersoek hierdie bewerings en wil bewustheid skep oor die stygende geweld in Nigerië deur nuusverslae, gebed en bewusmakingsveldtogte.

 

Ander onlangse aanvalle op Christene

Hoewel sulke aanvalle oor die algemeen skaars is in die suide van Nigerië, word geteikende aanvalle soos hierdie een gereeld in die skadu van wetteloosheid op Christene in noordelike Nigerië uitgevoer.

Die aanval volg slegs etlike weke ná die brutale aanval op Deborah, ʼn jong vroulike student, wat weens haar Christen-geloof op ʼn uiters wrede manier doodgemaak is.

ʼn Week gelede is die leier van die Metodistekerk in Nigerië en twee ander godsdienstige leiers ook in die suidooste van die land ontvoer. Die Metodisteleier en sy metgeselle moes $240 000 (£190 000) betaal om vrygelaat te word.

Twee weke gelede is twee Katolieke priesters in Katsina, president Muhammadu Buhari se tuisstaat in die noorde van die land, ontvoer. Hulle is nog nie vrygelaat nie.

 

Vreedsame aanbidding verander in verwoesting

Dominee Augustine Ikwu, ʼn sekretaris van die Katolieke Kerk in Ondo, sê in ʼn verklaring dat “die gemeenskap verpletterd gelaat is” deur die aanval. “Ons draai na God om dié wat hul lewens verloor het se families te vertroos,” sê hy.

Die Vatikaan sê pous Francis bid vir die slagoffers, wat “pynlik getref is in ʼn oomblik van feesviering”.

Geopende Deure se woordvoerder vir die werk in sub-Sahara Afrika, Jo Newhouse*, het die volgende kommentaar gelewer: “Ons veroordeel die aanval op Christene terwyl hulle in vrede bymekaargekom het om God te aanbid, in die sterkste moontlike terme. Ons doen ʼn beroep op die Nigeriese regering om sy wetlike verpligtinge om burgers te beskerm, ten volle na te kom, beide onder internasionale en binnelandse wettige regimes.

“Ons doen ook ʼn beroep op die owerhede om sterk standpunt in te neem teen alle vorme van geweld, insluitende geweld deur Fulani-militante. Die owerhede moet ondersoek instel teen die oortreders, hulle verantwoordbaar hou volgens die regstelsel en die siklus van geweld breek wat na ander dele van die land uitbrei, soos wat duidelik deur hierdie voorval geïllustreer word. Hoe langer hierdie dade ongestraf bly, hoe langer sal dit voortduur.”

Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, voeg by: “Dit is verpletterend om die geweld en verwoesting te sien wat families getref het terwyl hulle besig was om te aanbid. Ons gebede en ondersteuning gaan aan almal wat hierdeur geraak word. Om mense te teiken terwyl hulle besig is om aan hul geloof uiting te gee, is ʼn daad van vervolging. Dit is van die uiterste belang dat die owerhede die basiese mensereg van godsdiens- en geloofsvryheid beskerm.”

Back To Top
Soek