Skip to content

Mediaverklaring: Reuse ontwortelingskrisis bedreig Christene in sub-Sahara Afrika

Miljoene beland in vlugtelingkampe te midde van voortdurende gevaar

Die geweld teenoor Christene regoor sub-Sahara Afrika is besig om ʼn enorme ontwortelingskrisis te veroorsaak. Teen die einde van 2023 was daar reeds ʼn verbysterende 16,2 miljoen Christene in sub-Sahara Afrika wat weens vervolging gewelddadig uit hulle huise en vanaf hulle grond verdryf is. Hierdie toename word toegeskryf aan die teenwoordigheid van jihadistiese groepe in ʼn toenemende aantal lande. Verder is nege uit elke tien Christene wat weens hul geloof doodgemaak word in Afrika.

In 2024, die tweede jaar van Geopende Deure Internasionaal se meerjarige Arise Africa-veldtog, val die kollig op die ontwortelingskrisis in sub-Sahara Afrika. Christene wat as gevolg van hulle geloof in Jesus gedwing is om hulle huise en grond te verlaat, leef in ondraaglike toestande in vlugtelingkampe vir interne ontwortelde mense (IDP’s).

Talle gewelddadige insidente
Die algehele tendens wys dat die vervolging van Christene en geweld teenoor hulle in sub-Sahara Afrika teen ʼn kommerwekkende tempo gestyg het.

Die afgelope jaar het verskeie skokkende voorvalle van vervolging en ontworteling in sub-Sahara Afrika die nuusopskrifte gehaal, insluitende afgryslike voorvalle in Nigerië, Burkina Faso, Ethiopië, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Mali, Mosambiek, Somalië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Kameroen, Soedan en ander lande. Twee voorvalle in Nigerië en Burkina Faso, waar honderde mense met hul lewens betaal het vir hul Christelike geloof, het die nuus die afgelope week oorskadu.

Militante van groepe soos Fulani, Boko Haram, al-Shabaab en Islamitiese Staat Wes-Afrika Provinsie (ISWAP) voer strooptogte op Christelike gemeenskappe uit waartydens mense vir lospryse of seksuele slawerny doodgemaak, vermink, verkrag en ontvoer word. Meer as 82% van die Christene wat wêreldwyd weens geloofsredes doodgemaak word, was in Nigerië, en geloofsverwante moorde in sub-Sahara Afrika het dié in enige ander streek op die jaarlikse lys ver oortref.

Verslag oor ontworteling
Geopende Deure Internasionaal het onlangs ʼn in-diepte verslag oor die kwessie van ontworteling vrygestel, met die titel “No road home: Christian IDPs displaced by extremist violence in Nigeria”. Hierdie verslag, wat saamgestel is in samewerking met die Internasionale Instituut vir Godsdiensvryheid (IIRF) en die Wêreld Evangeliese Alliansie (WEA), bevat uitgebreide navorsing wat wys hoe godsdienstige affiliasie die ervarings van ontwortelde Christene vorm, in die gebiede van Nigerië wat die ergste geraak word.

Bestaande bewyse skets ʼn komplekse prentjie van die oorsake van ontworteling – faktore soos armoede, omgewingstoestande, etnisiteit en ʼn voedseltekort word ook verbind met voortslepende geweld en godsdienstige ekstremisme.

Belangrikste bevindings
Gewelddadige optrede deur ekstremistiese groepe in dele van Nigerië oor die laaste dekade het tot die massa-ontworteling van Christen-gemeenskappe gelei. In die noordelike staat Borno, waar Islamitiese militante floreer en Christene teiken, en in Plateau-staat, waar geweld deur Fulani-militante tot die ontworteling van Christene lei, is die probleem meedoënloos.

Alhoewel die geweld beide Christene en nie-Christene beïnvloed, dui getuienisse daarop dat Boko Haram, die Islamitiese Staat Wes-Afrika Provinsie (ISWAP) en Fulani-militante opsetlik Christene of Christen-gemeenskappe, hulle lewensbestaan, geestelike leiers en plekke van aanbidding teiken deur moord, ontvoering en die verwoesting van kerkgeboue.

IDP’s vanuit Christen-gemeenskappe in beide Borno- en Plateau-state het ook berig dat aanvallers ontwortelde Christene se grond beset en dan daar aanbly. Die aanvallers bly dus ʼn aktiewe bedreiging vir die ontwortelde Christene terwyl hulle grond verwoes word, beset word en nie deur die veiligheidsmagte beveilig word nie.

ʼn Donker prentjie
Nigerië is onder die top 10 lande regoor die wêreld wat IDP’s huisves. Dié land is tans nommer ses op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys (WWL) vir 2024, ʼn jaarlikse ranglys van lande met hoë vlakke van godsdienstige vervolging en diskriminasie teen Christene.

Borno- en Plateau-state in Nigerië is twee streke met ʼn aansienlike hoë aantal IDP’s, en tog duidelike dinamika van geweld. Daar is van Januarie tot April 2024 met altesaam 292 mense, wat deur plaaslike vennote geïdentifiseer is, onderhoude gevoer. Hierdie mense was hoofsaaklik IDP’s, asook ʼn paar werkers van humanitêre agentskappe. Die navorsing het gefokus op die plaaslike regeringsgebiede van Gwoza en Ngala in Borno-staat, asook die plaaslike regeringsgebiede van Bassa en Mangu in Plateau-staat.

In 2023 was daar 3,4 miljoen IDP’s in Nigerië. Ongeveer 82% van die IDP’s in Plateau-staat bly in gasheergemeenskappe. Sommige rig informele IDP-vlugtelingkampe op, terwyl ʼn minderheid in kampe bly wat deur die regering bestuur word. Die patroon verander effens in Borno-staat – teen April 2024 het 58% van die ontwortelde gesinne in vlugtelingkampe of soortgelyke plekke gebly.

Lewensomstandighede in kampe
In beide Borno- en Plateau-state is die lewensomstandighede in die IDP-kampe ʼn groot bron van kommer. Kwessies wat uitgewys is, is onvoldoende skuiling, oorbevolking, ʼn gebrek aan kos en water, die onvermoë om ʼn bestaan te kan maak, gedwonge werwing vir ekstremistiese groepe, en beperkte toegang tot mediese sorg, opvoeding, vaardigheidsopleiding en wasfasiliteite.

IDP’s kan onwelkom voel in die plekke waar hulle skuiling soek en hierdie “veilige” plekke kan selfs aangeval word, wat die gevaar van geslagsgebaseerde geweld insluit. Wanneer IDP’s nie in formele kampe bly nie, sukkel hulle om regeringsondersteuning te kry en vind hulle dit meer uitdagend om humanitêre bystand te ontvang, soos in Benue-staat.

Wyer as Nigerië
Gedwonge ontworteling is regoor sub-Sahara Afrika ʼn aansienlike uitdaging in talle lande met kwesbare Christen-gemeenskappe. Kameroen huisves byvoorbeeld meer as 1 miljoen IDP’s en Burkino Faso meer as 2 miljoen. Die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) huisves meer as 6 miljoen IDP’s en Soedan meer as 9 miljoen.

Elkeen van hierdie lande is onder die top 50 lande op die 2024 WWL, wat ʼn aanduiding is van die teenwoordigheid van Christen-gemeenskappe in hierdie lande wat baie hoë of uiterste vlakke van diskriminasie en vervolging as gevolg van hulle geloof ervaar. Met die teenwoordigheid van Islamitiese militante wat wydverspreid toeneem in die omgewing, die ontwikkelende en opkomende konflik soos in Soedan, asook geteikende geweld teen Christene wat reeds aangemeld is, is Nigerië nie alleen in die ontworteling-verwante uitdagings wat dit in die gesig staar nie.

Die skaal waarop en tydsduur waarteen ontworteling plaasvind, is aansienlik. Teen Desember 2023 was daar al ʼn totaal van 1 711 481 IDP’s wat in Borno-staat alleen gehuisves is. Borno huisves 74% van die IDP’s in die noordoostelike gebied van Nigerië. Van die 1,7 miljoen in Borno, was 74% reeds voor 2021 ontwortel, wat ʼn aanduiding is van hoe baie IDP’s al vir baie jare met die harde werklikheid van ontworteling moet saamleef. ʼn Verdere 68% van die IDP’s is al twee of meer kere ontwortel.

Skokkende syfers
ʼn Totaal van 54 457 IDP’s was teen Desember 2023 in Plateau-staat gehuisves. Plaaslike agentskappe soos die Mwaghavul Ontwikkelingsvereniging (MDA) het egter aansienlike hoër getalle van IDP’s gerapporteer. Die MDA het byvoorbeeld gedokumenteer dat daar teen Januarie 2024 altesaam 103 000 IDP’s in die Mangu-regeringsgebied was.

Die behoefte aan humanitêre hulp en ondersteuning is uiters groot. Volgens een IDP is voedsel skaars omdat die gewasse deur Fulani verwoes is. “Die kos wat ons uit die grond kry, is nie genoeg nie. Daar is ook kwessies soos siektes en trauma. Ons dank God vir die Christen-organisasies wat traumaberading kom doen het. Daar is geen beskerming teen siektes nie weens die omstandighede waarin mense in die kampe leef. Die IDP’s benodig kos, klere en ander produkte.”

In die Mangu-regeringsgebied is 51 131,69 hektaar landbougrond en gewasse tussen April 2023 en Januarie 2024 vernietig. Daar word verder berig dat meer as 448 plase in die Bassa-regeringsgebied tussen 2018 en 2023 vernietig is.

Stop die geweld, begin die genesing
Volgens Lynette Leibach, direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, beklemtoon die “No Road Home”-navorsingsverslag die kwesbaarheid van Christene te midde van ʼn humanitêre krisis in Nigerië en sub-Sahara Afrika. “Die situasie is uiters erg, met Christene wat oor die hoof gesien word in hulppogings en spesifiek geteiken word deur ekstremiste. Dit is noodsaaklik dat ons bewus moet wees van die situasie op ons kontinent en deur die Arise Africa-veldtog aksie moet neem om die geweld te stop en die genesing te begin,” sê sy.

Geopende Deure doen ʼn beroep op mense regoor die wêreld om hul wêreldwye petisie te onderteken, wat daarop aandring dat Christene en ander kwesbare individue in sub-Sahara Afrika met waardigheid en respek behandel moet word deur robuuste beskerming teen gewelddadige militante aanvalle aan hulle te bied. Dit sal geregtigheid deur die regverdige vervolging van aanvallers verseker, asook herstel om genesing vir geraakte gemeenskappe te bring.

Amka Afrika-gebedsbyeenkoms, Boom van Gebed en Geregtigheid en uitstalling
ʼn Beeldhouwerk van ʼn kamferboom, genoem die Boom van Gebed en Geregtigheid, is deur ʼn 33-jarige Nigeriese kunstenaar, Asiegbu Collins, gemaak. Die kamferboom is die nasionale boom van Nigerië en die simbool van die Arise Africa-veldtog. Die boom sal na Geopende Deure-basisse regoor die wêreld reis.

Geopende Deure gaan ook op Saterdag, 14 September, van 10:00 tot 12:00 ʼn spesiale Amka Afrika (wat die Swahili vir Arise Africa is) gebedsbyeenkoms by Rosebank Union Church hou. Hierdie byeenkoms, wat gratis en oop vir die publiek is, bied ʼn geleentheid vir mense om in gebed te verenig vir die vervolgde Kerk in sub-Sahara Afrika en die ontwortelingskrisis onder Christene. Manga, ʼn vervolgde Christen van Nigerië, gaan sy kragtige getuienis deel. Die eerste 100 mense wat op die Geopende Deure-webtuiste (www.opendoors.org.za) registreer en die byeenkoms bywoon, sal elkeen ʼn gratis geskenkpakkie en koepon vir koffie kry.

Verder is daar ook van 11-15 September ʼn spesiale uitstalling wat die realiteite van vervolging in sub-Sahara Afrika en die lewe in ʼn ontwortelingskamp uitbeeld. Nadat mense deur die uitstalling geloop het, kan hulle hul gebede neerskryf en ʼn petisie onderteken.

Meer inligting
Besoek www.opendoors.org.za vir meer inligting oor die ontwortelingskrisis in sub-Sahara Afrika en die Arise Africa-veldtog.

Vir enige navrae of om ʼn onderhoud te reël, kontak asseblief vir Elizabeth Botha, mediabeampte, by [email protected], 083 227 8164 of 011 888 9341.

Geopende Deure Suider-Afrika (ODSA) vorm deel van die Geopende Deure Internasionaal-bediening, wat vervolgde Christene in meer as 70 lande regoor die wêreld bystaan en ondersteun met die lewering van Bybels en Christelike literatuur, besoeke aan vervolgde Christene, dissipelskap en opleiding, en die verkondiging en bevordering van bewustheid deur voorspraak.

Foto’s:
Foto 1: Pastoor Barnabas, een van die kampleiers in die vlugtelingkamp vir Christene in Benue-staat, Nigerië, en sy vrou voor hulle tent.
Photo 2: Twee vroue berei voedsel voor in ʼn vlugtelingkamp, met honderde tente wat tydelike skuiling verskaf in die agtergrond.

Mediaverklaring uitgereik deur Elizabeth Botha
Mediabeampte: Geopende Deure Suider-Afrika
Tel: 083 227 8164 / (011) 888 9341
E-pos: [email protected]

Back To Top
Soek