Skip to content

Mediaverklaring: Christen-vroue en meisies is meer kwesbaar vir vervolging

Nuwe geslagsverslag wys skokkende toename

Die geslagspesifieke godsdienstige vervolging wat Christen-vroue en meisies in die gesig staar, is deurlopend meer kompleks en omvattend as die vervolging wat mans en seuns ervaar. Gewelddadige vorms van onveiligheid bring mee dat vroue en meisies meer kwesbaar vir seksuele geweld is, terwyl mans en seuns ʼn verhoogde risiko vir fisiese geweld ervaar. Dít is sommige van die bevindings in ʼn nuwe verslag oor geslagspesifieke godsdienstige vervolging wat van stapel gestuur is deur die bedieningsorganisasie, Geopende Deure Internasionaal, wat vervolgde Christene regoor die wêreld ondersteun en versterk.

Die verslag, getiteld “Insecurity: The 2024 Gender Report”, is op Internasionale Vrouedag vrygestel. Met die viering van Internasionale Vrouedag op Vrydag, 8 Maart, val die kollig opnuut op die lot van vroue en meisies – veral op die Afrika-kontinent.

Volgens Geopende Deure se nuwe verslag staar vroulike bekeerlinge na Christenskap ʼn groeiende bedreiging van vervolging in die gesig. Vervolging is kompleks, weggesteek en gewelddadig vir vroue en meisies – gekenmerk deur seksuele geweld en gedwonge huwelike, sowel as verraderlike, onsigbare geweld agter geslote deure. Aan die ander kant is die vervolging van mans en seuns gefokus, sigbaar en ernstig – gekenmerk deur geteikende fisiese geweld, insluitende dodelike geweld, sowel as ekonomiese en staatsdruk.

Mans word dikwels met vervolging geteiken vir hul krag as leiers en finansiële verskaffers, en vroue vir hul seksuele en familie-eer. In lande waar Christene akute vlakke van vervolging weens hul geloof ervaar – ongeag of dit deur gewelddadige godsdienstige groepe, uitgebreide familielede of ander drywers van godsdienstige vervolging aangevuur word – is ʼn persoon se geslag een van die faktore wat bepaal watter soort vervolging hulle in die gesig staar.

Belangrikste drukpunte wat Christen-vroue en -meisies beïnvloed

Vroue en meisies regoor die wêreld word aan talle vorms van druk en nadele in hulle alledaagse lewens onderwerp. Dié druk is omvattend vir Christen-vroue en meisies, wat beteken dat hulle spesifieke vorms van godsdienstige vervolging weens hul geslag ervaar.

In al die lande op die Wêreldwaarnemingslys (WWL) is dit algemeen vir vroue en meisies om vervolging in die private sfeer te ervaar, dikwels agter geslote deure of gepleeg deur mense wat hulle alreeds ken in hul bestaande gemeenskappe en verhoudings.

Vanjaar is geloofsgebaseerde gedwonge huwelike as ʼn risiko geïdentifiseer in 84% van die WWL-lande – ʼn kommerwekkende algemene praktyk. Gedwonge huwelike is ʼn vorm van uitbuiting en beheer, en die risiko is verweef met seksuele geweld. Só mag jong Moslem-mans in Kameroen byvoorbeeld, te midde van die gewelddadige onveiligheid in die noorde van die land, vroue by markte met krag oorrompel en wegneem… en hulle word vir weke, selfs maande, aangehou om hulle te verkrag en swanger te maak, wat beteken die vroue moet dan met hulle trou. Hulle versteek die meisies in verafgeleë dorpe, en die meisies het dan nie die finansiële vermoë om terug te keer na hul eie dorpe nie.

Seksuele geweld en gedwonge huwelike word as maniere van intimidasie en beheer aangewend, en dié strategieë is daarop gemik om te verhoed dat Christen-vroue en -meisies hul geloof in Christus uitleef.

In sommige dele van Mali, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Kirgistan en Mosambiek is die ontvoering van bruide op geloofsgebaseerde gronde ʼn groot risiko. Christen-vroue en -meisies word ontvoer vir gedwonge huwelike met soldate en ander mans wat nie Christene is nie, dikwels Moslem-mans.

Vroue en meisies wat vanaf ʼn ander geloof, soos Islam, tot bekering gekom het regoor die Midde-Ooste en Noord-Afrika (MENA)-streek, ervaar die risiko dat hulle gedwing kan word om met ʼn nie-Christen-man te trou wat ʼn mate van godsdienstige gesag het of toegewyd is aan sy geloof, met die hoop dat hy haar sal beïnvloed om haar geloof te verwerp. Dit sluit ook jong meisies in wat gedwing word om met veel ouer mans te trou.

Top 5 drukpunte vir vroue:

  1. Gedwonge huwelike.
  2. Seksuele geweld.
  3. Fisiese geweld.
  4. Sielkundige geweld.
  5. Ontvoering.

Die geslagspesifieke godsdienstige vervolging wat vroue en meisies in die gesig staar, is deurlopend meer kompleks en omvattend as die vervolging wat mans en seuns ervaar. Die gemiddelde aantal drukpunte per land vir vroue en meisies in 2024 was 8,4 in vergelyking met 6,6 drukpunte per land vir mans en seuns.

Belangrikste drukpunte wat Christen-mans en -seuns beïnvloed

Mans en seuns ervaar veral die risiko van geloofsverwante fisiese geweld in 39 van die 50 WWL-lande, plekke waar Christene ernstige vyandigheid weens hul godsdienstige affiliasie in die gesig staar.

In talle van die lande wat bestudeer is, is kerkleiers hoofsaaklik manlik. Dus word hulle blootgestel aan spesifieke en gewelddadige vervolging vir hul rol as leiers en geestelike voorsieners vir die geloofsgemeenskap. In lande soos Colombië word pastore gedwing om van hul huise te vlug weens die risiko van aanvalle en afpersing.

Mans se rol as “beskermer” word strategies ondermyn deur groepe wat manlike hoofde van huishoudings teiken met herhaalde dade van marteling, wat die druk verhoog om hul geloof te verwerp en ʼn impak het op hul vermoë om hul gesinne veilig te hou. Selfs kinders kan teikens van fisiese geweld wees, met berigte van laerskoolseuns wat aangerand word omdat hulle Christene is.

In ʼn militêre konteks en vir dié wat vanaf ʼn ander godsdienstige agtergrond tot bekering gekom het, is die risiko van fisiese mishandeling en marteling selfs nog hoër en die koste selfs nog groter omdat hulle die Christelike geloof gekies het. In die oostelike DRK word Christen-mans en seuns onderwerp aan werwing deur burgermaggroepe, geteikende ontvoerings en moord.

Sielkundige geweld is ʼn ander leidende vorm van vervolging vir mans en seuns. Hulle word as deel van die sielkundige druk wat op Christen-mans in MENA toegepas word, gedwing om Vrydae gebedsessies by te woon en selfs om op ʼn gedwonge “hajj”, ʼn pelgrimstog na Mekka, te gaan.

Die impak van herhaalde siklusse van geweld, beide fisies en emosioneel, kan nie onderskat word nie. Dit veroorsaak langdurige sielkundige skade vir Christen-mans en -seuns. Die rimpeleffek hiervan brei uit na hul gesinne, gemeenskappe en kerke.

Top 5 drukpunte vir mans:

  1. Fisiese geweld.
  2. Sielkundige geweld.
  3. Tronkstraf deur die regering.
  4. Ekonomiese teistering via besigheid/werk.
  5. Militêre/burgermag diensplig/diens wat met hul gewete bots.

 Ander bevindings van die verslag

Die 2024-verslag onthul ook die volgende:

  • Onveilige kontekste en geassosieerde geweld deur ekonomiese ineenstorting, natuurrampe, politieke onstabiliteit en konflik vererger bestaande kwesbaarhede, wat sekere vorms van geslagspesifieke godsdienstige geweld vererger. Geweld dien as ʼn vonk wat bestaande kwesbaarhede ontbloot en vererger. Dienooreenkomstig is geloofsverwante seksuele geweld vir vroue en fisiese geweld vir mans, insluitende dodelike geweld, algemener in kontekste waar ernstige geweld voorkom. Gewelddadige vorms van onveiligheid soos godsdienstig geteikende geweld, gewapende konflik en kriminele geweld kan lei tot verarming, gedwonge ontworteling en die normalisering van geweld.
  • Gemarginaliseerde Christene, veral vroue, kan besonder kwesbaar wees in onveilige kontekste soos plekke waar konflik voorkom, gedwonge ontworteling en kriminele geweld. Diegene wat alreeds kwesbaar is, se risiko vererger wanneer geweld eskaleer. Vroue wat aan godsdienstige minderhede behoort, is dikwels só ʼn groep.
  • Gewelddadige onveiligheid los vir dekades ʼn onuitwisbare stempel op gemeenskappe. Selfs wanneer die geweld formeel ophou, staar mans en vroue van gemarginaliseerde gemeenskappe steeds omvattende uitdagings in die gesig. Dit kan trauma, gedwonge ontworteling en volgehoue marginalisering insluit wanneer gemeenskappe herstruktureer, wat alles deur godsdiens en geslag beïnvloed kan word.

Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, sê: “Vervolging gebeur nie toevallig nie – dit is opsetlik, bestaan uit verskillende lae en teiken die waargenome waarde van mans, vroue en kinders in die samelewing om die godsdienstige minderheid af te breek. Wat veral kommerwekkend is, is dat kwesbare meisies en vroue deur gedwonge huwelike geteiken word as ʼn manier om hulle te verhoed om hul Christelike geloof uit te leef. Dit is noodsaaklik om bewustheid te skep oor die realiteit wat baie gemarginaliseerde Christene, veral vroue, in die gesig staar. Hierdie bevindings vereis aksie.”

Metodologie van die verslag

Die verslag oor geslagspesifieke godsdienstige vervolging word sedert 2018 jaarliks vrygestel. Die 2024-verslag het data gebruik wat deur Open Doors World Watch Research (WWR) verkry is vir die 2024-WWL. Streeksgebaseerde kundiges het die primêre data vanaf versorgers, kerkleiers, fokusgroepe en streekskundiges regoor die wêreld versamel. Geopende Deure se geslagspan het die data geanaliseer om te bepaal hoe Christen-mans en -vroue in hierdie lande verskeie vorms van druk ervaar, om die algehele vervolgingstendense volgens geslag uit te lig.

Die spesifieke godsdienstige vervolgingseenheid van Open Doors WWR het data vir die 2024-verslag ingesamel en geanaliseer deur ʼn benadering van gemengde metodes, wat uit beide kwalitatiewe en kwantitatiewe elemente bestaan. WWR het godsdienstige vervolgingsdinamika in meer as 100 lande gemonitor gedurende die 2024-rapporteringstydperk, wat vanaf 1 Oktober 2022 tot 30 September 2023 is.

Analiste het data vanaf 78 lande bestudeer waar daar hoë, baie hoë of uiterste vervolging is. Die verslag verteenwoordig hoofsaaklik ʼn analise van die top 50 lande op Geopende Deure se 2024-WWL, waar dit die moeilikste is om ʼn Christen te wees.

Die data wat Geopende Deure se spesifieke godsdienstige vervolgingseenheid bestudeer, is afkomstig vanaf Geopende Deure se veldwerkers en veldbydraers, eksterne kundiges en WWR-vervolgingsanaliste. As ʼn deel van die data-insamelingsproses het streeksgebaseerde kundiges kwalitatiewe data by traumaspesialiste, kerkleiers, fokusgroepe en kundiges ingesamel.

Verder bied die verslag ook inligting oor gevallestudies wat gebaseer is op onderhoude met Christen-mans en -vroue wat geweld weens hul geloof ervaar het, ingesamel deur Geopende Deure-veldwerkers of vennote. Die eenheid se analiste konsolideer hierdie navorsing met lessenaarnavorsing vanaf media-publikasies, die Verenigde Nasies (VN) en regeringsinstansies, akademici en nie-regeringsorganisasies (NGOs).

Meer inligting

Vir enige navrae oor die verslag oor geslagspesifieke godsdienstige vervolging of om ʼn onderhoud te reël, kontak asseblief vir Elizabeth Botha, mediabeampte, by [email protected], 083 227 8164 of 011 888 9341.

Back To Top
Soek