Skip to content

Hulp vir fisiese en geestelike oorlog

Was jy al ooit in ʼn oorloggeteisterde plek of land? Het jy na die ou, gebombardeerde, verbrande en leë geboue en vuil stadsruimtes gekyk, en gewonder hoe die mense in die omgewing ná die onrus leef? Stel jouself nou voor hoe dit sou wees as die oorlog nog aan die gang was en jy en jou geliefdes in een van hierdie stede moes bly waar daar geen vrede is nie, en geweerskote elke nou en dan afgevuur word, wat jou herinner aan die onrus in ʼn plek wat jy jou huis noem. Dit is dalk nie jou realiteit nie, maar vir baie gelowiges is oorlog al vir jare deel van hul lewens – en in plekke soos Afrika nie net oorlog nie, maar ook vervolging…

Noordelike Nigerië is ʼn oorlogsone vir baie gelowiges wat in dié land bly. Islamitiese ekstremiste het sekere gebiede met geweld oorgeneem, wat meegebring het dat baie inwoners vir hul lewens moes vlug en weens die terreur ontwortel is.

Dit het oorgespoel na naburige lande soos die verre noordelike streek van Kameroen, wat erg deurgeloop het onder die ekstremiste se geweld. In 2020 het Geopende Deure minstens 41 aanvalle in dorpe in noordelike Kameroen en ander naburige lande gerapporteer. Met baie mense wat ontwortel is, is Christelike dorpe ʼn maklike teiken vir militante groepe wat daarop konsentreer om gelowiges te vervolg. Dit skep die gevaar van individuele aanrandings en ontvoerings. Aangesien hulle ontwortel is, het hulle geen kos, skuiling, klere ens. nie.

Dit is gevolglik nie net ʼn fisiese oorlog weens die onrus in hierdie lande nie, maar ook ʼn geestelike oorlog weens die aanslag op gelowiges se geloof in Christus.

Die bejaarde Baldina en haar siek man is erg geraak deur die aanvalle in Kameroen, wat meegebring het dat hulle te swak is om te boer en vir hulself te sorg. Genadiglik het die Kerk te midde van die onrus ʼn toevlugsoord vir Baldina geword – beide fisies en geestelik.

Kerke in die verre noordelike streek van Kameroen is Sentrums van Hoop. Wanneer mense hul aardse vastrapplek verloor, is samesyn en aanbidding saam met ander gelowiges dikwels hul geestelike anker. Die Kerk vertolk hierdie rol vir Baldina en haar man, wat in ʼn klein dorpie in dié streek bly. Hulle woon alleen nadat hul oudste seun deur Boko Haram-vegters doodgemaak is en hul ander seun uit vrees vir Boko Haram na ʼn ander dorp gevlug het.

“Ek het besluit om kerk toe te gaan omdat daar nie vrede in my hart was nie,” deel Baldina. Dit was weens die verlies van haar seun. “My hart was baie onstuimig. Ek het myself vertel dat ek vrede in die kerk sal vind. Ek word vertroos wanneer ek die boodskap hoor en na die liedere luister. Ek dank God vir alles… Hy help my om vandag sterk te wees,” sê sy.

Jou ondersteuning het Baldina ook gehelp om haar pyn te verwerk. Sy en haar man was deel van meer as 400 gesinne in die verre noorde van Kameroen wat vroeër in 2021 Geopende Deure-noodleniging ontvang het.

“Nadat julle al hierdie dinge aan my gegee het, het ek aan my suster gesê: ‘Kyk wat het ek ontvang.’ Ek het haar ook die volgende vertel: ‘Hulle het my regtig baie gehelp. Ek sou van die honger gesterf het sonder hierdie kos. Mag God aan hulle ʼn lang lewe gee.’ Ek is uiters dankbaar. Ek het rys en manna ontvang, asook klere, ʼn mat en sout. Baie dankie. Julle het dit aan my gegee, en God het dit aan my gegee.”

Geopende Deure het gedurende die eerste sewe maande van 2021 noodleniging aan meer as 3 000 Christene in Kameroen versprei. Hierdie bystand help die Kerk om hul lidmate te ondersteun in hul stryd teen vervolging en die realiteite wat daarmee saamgaan. Jou saad van geloof help om baie gelowiges in fisies verwoeste plekke geestelik te bemoedig en te versterk sodat hulle sterk kan staan te midde van die fisiese en geestelike oorlog in hul lande. Klik hier om voort te gaan om ʼn verskil in nog baie meer gelowiges se lewens te maak.

Back To Top
Soek