Skip to content

Hou jou suster se hand vas

Ek onthou dat ek een keer ʼn storie by ʼn familiebyeenkoms gehoor het, waar my ouma ons vertel het hoe sy by die skool en in hul woonbuurt geboelie is. Sy is ʼn stil introvert met ʼn vriendelike en sagmoedige gees, so baie van die ander leerlinge en haar vriende het daarvan misbruik gemaak. Haar ouer suster het egter nie toegelaat dat dit gebeur nie. Elke keer wanneer die boelies haar geteiken het, sou sy voel hoe haar suster se hand haar hand styf vashou en haar klein lyfie agter haar suster se liggaam ingetrek word om haar te beskerm. Sy sou dinge hoor soos:

“Jy sal nie aan haar raak nie!”

“Los my suster uit!”

“Jy sal deur my moet kom om by haar uit te kom”

Dié uitroepe was in die hoop dat sy beskerm en alleen gelaat sou word. Haar suster sou al hierdie dinge sê terwyl sy haar hand vashou en sou haar eers los nadat die boelies opgegee het en haar uitgelos het. Die ouer suster was haar jonger broers en susters se beskermer. Sy het haar broers en susters se integriteit beskerm, en niemand sou dit naby hulle waag wanneer sy in die omgewing was nie. Tot vandag toe, meer as 70 jaar later, het niks verander nie…

Ek het myself na aanleiding van hierdie storie afgevra watter soort suster ek is en wie se hand ek vashou.

Dit laat my aan ons susters en vriende in Christus dink. Aangesien dit Nasionale Vrouemaand is, laat dit my aan ons vervolgde susters dink, jonk en oud regoor die wêreld, wat weens hul geloof swaarkry.

Volgens “Invisible: The Gender Report 2022”, wat deur Geopende Deure gepubliseer is, is Christen-vroue die slagoffers van geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging in gebiede soos sub-Sahara Afrika, die Midde-Ooste, Noord-Afrika, Asië, Latyns-Amerika en Afganistan – en hulle leef in vrees vir seksuele geweld, gedwonge huwelike, gedwonge egskeidings en om vir die samelewing weggesteek te word.

Christen-vroue en -meisies – wat dikwels alreeds deur die samelewing benadeel word weens die feit dat hulle vroulik is – is besonder kwesbaar vir vervolging. Ongelukkig is hul lyding dikwels onsigbaar of word dit deur diegene rondom hulle geïgnoreer.

Wie hou hulle hand vas wanneer hulle terugslae, afknouery, diskriminasie en vervolging ervaar? Kan ek hul hand vashou, selfs al is hulle so ver van my af weg?

Ja, jy kan…

Geopende Deure is verbind tot omgee, beskerming, voorsiening en voorspraak vir vervolgde Christen-meisies en -vroue wat moeilike lewens het omdat hulle gekies het om Jesus te volg. Jy kan die suster wees wat hul hand vashou en saam met hulle stap.

Klik hier om verandering te bring vir vroue wat kwesbaar vir vervolging en uitbuiting is, en voorsien hulle van jou Geskenk van Hoop om hulle te help om sterk te staan en deur te druk tydens die las van vervolging – deur seker te maak dat hulle ondanks vervolging nooit alleen is nie.

Back To Top
Soek