Skip to content

Geheime gelowige gestraf vir haar geloof

Geheime gelowiges in Sentraal-Asië kom dikwels voor ’n groot uitdaging te staan rakende die kwessie van eer en skande, aangesien dit een van die belangrikste pligte is om die eer van die familie te verseker, veral as jy ’n vrou is. Samida*, ’n 26-jarige Christen-vrou van Sentraal-Asië, het haar familie op twee maniere in die skande gesteek: Sy is steeds enkellopend en sy het van haar familie se tradisies en kultuur afgewyk deur ’n “uitheemse godsdiens” aan te hang.

’n Skande om enkellopend te wees

In Samida se kultuur is dit ongewoon om nie getroud te wees en kinders te hê teen die tyd dat jy 21 is nie – om nie te praat van as jy reeds 26 is nie. Die huwelik word as ’n manier beskou vir vroue om ’n gerespekteerde status te bereik – ’n vlak van waardigheid. Samida se ouers is egter nooit genader vir onderhandelinge oor ’n moontlike huwelik met hulle dogter nie, wat tot skinderstories in die gemeenskap en verleentheid vir die familie gelei het.

Bly getrou aan Jesus

Toe Samida ’n tiener was, het haar ouers Christene geword in die hoop dat haar pa, wat amper blind is, genees sou word. Haar ouers was diep teleurgesteld met die Christendom en die Here Jesus toe haar pa nie genees is nie. Hulle het gevolglik besluit om terug te keer na Islam.
Samida het egter getrou gebly aan Jesus en vasgehou aan haar nuutgevonde hoop – ondanks die lang pad van lyding wat op haar gewag het. Haar ouers haal hulle frustrasie op haar uit en sê dinge soos: “Dit is jou skuld; jy bring skande oor ons huishouding omdat jy ’n Christen bly. Dit is geen wonder dat niemand met jou wil trou nie!” Sy moet elke dag na hierdie woorde luister, wat dikwels met aanranding gepaardgaan.

 

In die skuur saam met die diere
Een van Samida se take in die gesin is om die skape en bokke te versorg. Sy gaan elke dag saam met die diere veld toe en grawe dan haar Nuwe Testament op, wat sy in die veld begrawe. Om dit te lees, hou haar aan die gang wanneer sy wanhopig voel. Haar ma het haar egter eendag betrap. Sy het Samida woedend aangerand en die Bybel voor haar oë verbrand. Onlangs het ander Christene in die omgewing vir Samida sien huil en opgemerk dat sy ’n blouoog het. Dit was nadat sy deur haar ma aan die hare gegryp, na die markplein in die dorp gesleep en voor almal met ’n stok geslaan is. “Ek werk dag en nag vir my ouers. Hulle behandel my soos ’n slaaf en vertel vir almal dat ek sleg en ’n luiaard is. Hulle het vir my gesê dat daar nie meer plek vir my in die huis is nie en dat dit beter is dat ek die skuur met die diere deel.”

Steun om sterk te staan
Danksy die geskenke en gebede van ondersteuners kon Geopende Deure vir Samida deur die geheime Kerk in Sentraal- Asië help met praktiese en emosionele ondersteuning, ’n Bybel en opleiding uit God se Woord, wat haar geleer het hoe om as ’n Christen in ’n vyandige omgewing sterk te bly staan.

Deur jou finansiële geskenk kan jy vroue bemagtig om standvastig te bly wanneer hulle vervolg word. Vir so min as R250 kan jy een vervolgde vrou met noodleniging en veilige behuising ondersteun. Klik hier om vandag ’n geskenk te gee.

*Verteenwoordige foto en naam gebruik vir sekuriteit redes.

Back To Top
Soek