Skip to content

Gebedsversoek | Bid vir Katar terwyl die Wêreldbeker plaasvind

Die FIFA Wêreldbeker het op 20 November afgeskop in Katar, wat tans die 18de posisie op die Wêreldwaarnemingslys beklee. Duisende mense van verskillende nasies sal byeenkom om hul liefde vir sokker te vier – ʼn sport wat daarvoor bekend is om vrede, liefde en verdraagsaamheid aan te moedig, ongeag van mense se verskille.

Byeenkomste soos die Olimpiese Spele en die FIFA Wêreldbeker is ʼn gulde geleentheid vir internasionale bedieningspanne om tussen die skare te evangeliseer, wat ook vanjaar te wagte is in Katar. Die bestaande kerke vir buitelanders hoop egter dat hul teenwoordigheid nie ʼn negatiewe uitwerking op Christene in die land sal hê nie.

“ Sommiges in die buitelandse Kerk vrees dat hulle die blaam sal dra indien Christene vanaf ander nasies die Evangelie openlik verkondig, en die Katarese reëls vir kerke verbreek,” meen Daniel, wat toesig hou oor Geopende Deure se werk in die Arabiese Skiereiland. Daniel hoop dat die Wêreldbeker ʼn positiewe uitwerking op Katar sal hê en glo dat dit gesprekke oor die land en sy waardes sal aanwakker.

Nes Daniel, hoop ons dat die Wêreldbeker ʼn positiewe uitwerking op Katar sal hê en dat die Liggaam van Christus in hierdie land sal verenig.

Net soos sokker miljoene mense van regoor die wêreld bymekaar bring, kan jy by ons aansluit in gebed vir Katar en gelowiges in dié land:

• Bid vir Christelike emigrante in Katar. Bid vir hul beskerming teen die brutale en misbruikende behandeling wat talle buitelandse werkers in die land verduur.
• Bid vir die monargie in Katar. Vra dat God die harte van Emir en sy regering sal versag om die waarheid van Jesus se liefde en genade te ontvang.
• Bid vir die Christen-groepe wat gedurende dié tyd uitreike beplan. Bid vir onderskeiding en beskerming terwyl hulle geleenthede kry om openlik oor Christus te praat.
• Bid vir gelowiges wat gedwing word om hul bekering geheim te hou van hul families en gemeenskappe.

Dankie dat jy saam met ons in gebed staan as een Liggaam.

Lees meer oor hoe gelowiges in Katar ʼn groot ingryping van die Heilige Gees te wagte is tydens die Wêreldbeker.

Back To Top
Soek