Skip to content

GEBEDSNUUS: Magsooreenkoms bereik in Soedan

Na twee dae van samesprekings in Kartoem verlede week, het Soedan se Transitional Military Council (TMC) en die Forces for Freedom and Change (FFC), ʼn oorkoepelende burgerlike organisasie, op Vrydag, 5 Julie aangekondig dat hulle ʼn magsooreenkoms gesluit het om die dooie punt in hul land te beëindig.

Volgens ʼn Reuters getuie, het die strate in Kartoem se tweelingstad, Omdurman oorkant die Nylrivier, in feesviering uitgebars toe die nuus bekend gemaak is. Duisende mense van verskillende ouderdomme het die strate ingevaar en gedreun-sing “Burger! Burger! Burger!” Daar was op tromme geslaan, toeters geblaas en vrouens het vol vreugde gesing en gefluit.

Te midde van hierdie deurbraak, is dit egter nog onseker of die TMC regverdig sal kan regeer in die afwesigheid van ʼn wetgewer, veral weens hul betrokkenheid by menseregteskendings in Soedan, en of hulle vertrou kan word om na 18 maande mag oor te gee aan die FFC. Ook, moet daar gesien word of die FFC kan oorbeweeg van ʼn protesbeweging na ʼn politieke mag wat die land goed kan regeer in die afwesigheid van ʼn sterk ideologiese basis wat hulle saambind. Hiermee saam is dit onduidelik watse rol Islamiste (wat deel maak van die TMC) sal speel in die toekoms van Soedan namate hulle hulself beskou as “tussengangers vir God en die Soedanese burgers”, soos volgens die FFC aan media (VOA)berig.

Tog is ons dankbaar teenoor God vir hierdie deurbraak, en ons is dankbaar vir jou gebede vir Soedan. Hou asseblief aan om vir Soedan te bid – vir elkeen wat betrokke is by die implementering van die ooreenkoms, asook vir goeie leiding en wysheid van hier af vorentoe

Hou asseblief aan om te bid vir wysheid en dapperheid vir die Kerk wat die geleentheid gegun is om insae te lewer op hierdie verandering. Bid dat die FFC nie sal terugstaan op hul eise vir godsdiensvryheid vir elkeen in Soedan nie, asook vir wysheid en dapperheid om druk teen te staan vanaf Islamiste wat wil hê dat Soedan onder Sjaria-wetgewing moet funksioneer.

Dankie dat jy ʼn vennoot in gebed is!

Bron: Reuters, VOA, Al Jazeera and AP.

Back To Top
Soek