Skip to content

GEBEDSFLITS: Skoolkinders in Nigerië ontvoer

In die vroeë oggendure van gisteroggend het onbekende rowers die Government Science College in Kagara, Nigerstaat, Nigerië bestorm. Daar was 650 kinders by die skool toe die aanval plaasgevind het.

Muhammad Sani Idris, ʼn woordvoerder vir die Nigerstaat Regering, het per telefoon aan die AFP nuusagentskap vertel: “Hulle het 42 mense ontvoer. Hulle het 27 kinders saam met drie onderwysers gevat. Een van die leerlinge is doodgemaak. Hulle het ook 12 familielede van die onderwysers ontvoer.”

President Muhammadu Buhari het aan sekuriteitsmagte die opdrag gegee om ʼn reddingsplan in plek te stel. Terwyl dit nog nie duidelik is wie vir die ontvoering verantwoordelik is nie, word daar aangeneem dat kriminele bendes, ook bekend as struikrowers, agter die aanval sit.

“Die onvoering van Christene en gematigde Moslem-burgers deur radikale Islamitiese groepe, asook die onvoering vir lospryse, word beskou as ʼn inheemse siekte van noordelike Nigerië. Dit het ʼn alledaagse verskynsel geword. Weens die onvoldoende beskerming van die regering se sekuriteitsmagte, word burgers, veral kinders, blootgestel aan kommerwekkende vlakke van gevaar en trauma wat onmiddellike en langtermyn skade gaan berokken aan die Nigeriese samelewing.

“Daadwerklike aksie is nodig vir Nigerië en haar internasionale vennote om die veiligheid van burgers en die beskerming van almal, ongeag van hul ras, geslag of geloof, te verseker,” meen Jo Newhouse*, woordvoerder van Geopende Deure sub-Sahara Afrika.

Hierdie ontvoering het plaas gevind slegs twee dae voor die derde herdenking van Leah Sharibu en die 109 meisies se ontvoering vanaf Dapchi in Yobestaat deur Boko Haram op 19 Februarie 2018. ʼn Maand na die voorval is al die oorlewendes, behalwe Leah (wat op daardie stadium 14-jaar oud was) vrygelaat. Sy het in aanhouding gebly omdat sy geweier het om na Islam oor te skakel.

Twee maande gelede, is 340 seuns van hul skool in Kankara, Katsina-staat onvoer en ʼn week later vrygelaat.

Vier jaar voor hierdie insidente, in April 2014, het Boko Haram byna 300 vroulike leerlinge van Chibok, Borno, ontvoer. 112 van daardie meisies is steeds in aanhouding.

Sluit by ons aan in gebed op die vooraand van Leah Sharibu se ontvoeringsherdenking:

  • Bid vir die veilige vrylating van hierdie nuwe gevangenes, en dat die Here hulle fisies en emosioneel sal beskerm terwyl hulle deur hierdie situasie leef.
  • Bid vir wysheid dat die regeringsmagte hul vrylating sal verseker, asook vir wysheid om te bepaal wat die beste manier sal wees om burgers teen kwaadstokers te beskerm.
  • Bid vir vernuwe omsigtigheid en deurbrake in hul onderhandelings vir die vryheid van die oorblywende Chibok-meisies, Leah Sharibu en talle ander wat steeds in aanhouding is.

Dankie vir jou gebede!

*Naam vir sekuriteitsredes verander.

 

Back To Top
Soek