Skip to content
Iranian Christian couple

GEBEDFLITS: Bid vir Irannese Christen-paartjie

In Junie 2019, is twee Christen-bekeerlinge, Homayoun (62) en sy vrou Sara (42) gearresteer terwyl hulle saam met ander Christen-families in die stad Amol, in die noorde van Iran, met vakansie was. Homayoun ly aan gevorderde Parkinson’s. Die besonderhedevan die paartjie se inhegtenisneming en vonnis is egter eers hierdie week bekend gemaak.

Terwyl alle lede van die groep ondervra is, is slegs Homayoun en Sara aangehou, eers in Amol en daarna in Tehran se berugte Evin gevangenis. Na ʼn maand in aanhouding is Homayoun vrygelaat, maar Sara is vir meer as twee maande in die tronk gehou, waarvan die helfte in alleenopsluiting was. Sy het ook erge psigologiese mishandeling verduur.

Sara sou aanvanklik elf jaar tronkstraf moes uitdien maar na ʼn appèlsaak in Desember 2020, is haar vonnis verminder tot agt jaar. Homayoun se vonnis bly egter twee jaar. Ander aspekte van hulle vonnis is gehandhaaf. Met hul vrylating moet die paartjie ses maande gemeenskapsdiens doen, en hulle word verbied om die land te verlaat en mag vir twee jaar nie lede van ʼn sosiale of politiese groep word nie.

Tydens die paartjie se appèlsaak, het hulle prokureur beredeneer dat die wet “onduidelik” is oor hoe die bymekaarkoms van ʼn groep Christene vertolk kan word as “lidmaatskap aan ʼn onwettige organisasie”.

Hy het bygevoeg dat, selfs al wou hy, sou Homayoun se siekte dit onmoontlik maak vir hom om by enige iets betrokke te raak wat as ʼn bedreiging vir nasionale sekuriteit gesien kan word.

“Om gevangenisstraf aan ʼn man van Homayoun se ouderdom toe te dien wat aan gevorderde Parkinson’s ly – en net omdat hy ʼn lid van ʼn huiskerk is – sou skokkend gewees het as dit nie was vir Iran se bewese prestasierekord vir die sistematiese vervolging van Persiessprekende Christene nie, ongeag hulle ouderdom, gesondheid, of enige ander billike oorwegings,” het Article 18 se Voorspraaksdirekteur, Mansour Borji, gesê.

Die paartjie wag nou vir ʼn oproep om by die tronk te rapporteer om hulle vonnis uit te dien omdat hulle lidmate en deel van die leierskap van ʼn huiskerk was. Iran se behandeling van sy Christenminderheid, veral die wat van Islam af bekeer, is die afgelope maande deur die VN gekritiseer. In November het VN-kenners ʼn brief aan die Iranse owerhede geskryf waarin hulle hul bekommernisse oor die situasie oorgedra het, die name van mense wat in gevangenis geneem was gelys het, en die regering benadruk om hulle regte te beskerm.

Bid asseblief vir God se beskerming oor hierdie paartjie terwyl hulle hul laaste dae saam spandeer en voorberei vir die uiterse moeilike tyd wat voorlê. Bid ook vir die talle Christene in Iran wat in die tronk sit vir hul geloof.

Dankie vir jou gebede!

Bron: Article 18

Back To Top
Soek