“Ons voel vergete”
Meer as 16 miljoen Christene in sub-Sahara Afrika is al gedwing om hulle huise te verlaat. Baie word weens hul geloof vervolg. Dit is nou tyd om al die geweld stop te sit en aan die genesingsproses te begin werk.
Oral is daar saamgeflanste tydelike tente wat min beskerming teen die uitmergelende hitte bied. ʼn Gevoel van hopeloosheid hang in die lug. Daar is nie genoeg kos nie, geen lopende water nie, te min toilette en siektes kom algemeen voor.
Hierdie kamp, met sy haglike toestande, is “huis” vir pastoor Barnabas, sy vrou en hulle vyf kinders. Die vloerspasie in hulle tent is niks groter as die spasie wat ʼn dubbelmatras opneem nie. Elke dag is ʼn stryd om te oorleef. Hulle bly nou al vier jaar lank hier.
“Elke persoon wat jy hier sien … ons is almal Christene,” sê pastoor Barnabas. “Ons is hier as gevolg van al die geweld. Miljoene Christene in Nigerië is ontwortel, maar die nuusmedia gee nie om nie en politici praat nie daaroor nie, niemand praat daaroor nie. Ons bly in die duister. Hoe sal jy voel as jy vergete is?”
Miljoene is ontwortel
Pastoor Barnabas is maar net een van die geskatte 16,2 miljoen Christene in sub-Sahara Afrika wat gedwing is om hulle geboorteland en huise te verlaat. Talle ander Christene soos hy word weens hulle geloof vervolg. Islam-terroristegroepe soos Al-Qaeda, al-Shabab en Boko Haram wil ʼn Islamitiese staat vestig en teiken Christene in die omgewing met ongekende geweld.
Gelowiges word aangeval, ontvoer en doodgemaak, en Christelike dorpe en skole word vernietig. Burkina Faso het 40% van sy grondgebied aan terreurgroepe verloor, en in plekke soos Nigerië blyk dit dat militante se dade ongestraf gelaat word.
Pastoor Barnabas het al eerstehands beleef hoe gevaarlik dit vir die gelowiges in Nigerië is. Dit was immers ‘n dodelike aanval op sy plaas wat hom na ʼn vlugtelingkamp gedryf het…
Aanval met ʼn kapmes
“Militante het ons omsingel, sommige met gewere, sommige met kapmesse, ander met stokke,” onthou pastoor Barnabas. “My broer is doodgeskiet en sy vrou is geskiet, met ʼn kapmes aangeval en doodgemaak. Ek het aangehou hardloop en is met ʼn stok aangeval. My hand is in die aanval gebreek.”
Pastoor Barnabas het nie net permanente beserings in die skrikwekkende geweld van daardie dag opgedoen nie, maar dit het ook ʼn verwoestende langtermynimpak op sy familie gehad.
“Ek het alles verloor,” sê pastoor Barnabas terwyl hy met ʼn kind langs hom deur die stof en afval van die vlugtelingkamp stap. “Alles in my huis is verbrand. Nou kan ek nie eers meer vir my familie sorg nie. Ek kan hulle nie kosgee nie. My kinders kan nie meer skool toe gaan nie.”
Pastoor Barnabas aarsel ʼn oomblik, oorweldig deur emosie. “As ʼn pastoor is ek veronderstel om vir my skape te sorg, maar mense is besig om hulle hoop in God te verloor as gevolg van die situasie waarin hulle hulself bevind. Ek het niks om vir hulle te gee nie. Ons kan net vir hulle bid en die Woord met hulle deel… Dit laat my baie, baie sleg voel.”
Arise Africa-veldtog
Onsekerheid en onstabiliteit plaas die toekoms van die Kerk in gevaar, en skep ʼn ontwortelingskrisis, ʼn opvoedkundige krisis sowel as ʼn gesondheidskrisis. Daarom roep pastoor Barnabas en Christen-leiers regoor sub-Sahara Afrika die wêreldwye Kerk op om deur die Arise Africa-veldtog daadwerklik op te tree.
Jy word gevra om in die pyn van pastoor Barnabas en ander te deel, om jou teen die geweld uit te spreek, met oortuiging saam te bid en een te wees met jou vervolgde broers en susters. Jou bydraes, gebede en dade kan help om die geweld stop te sit en die genesingsproses te begin.
Geopende Deure se plaaslike vennote het reeds noodvoorraad, kos en mediese sorg aan pastoor Barnabas en die ander Christene in die vlugtelingkamp verskaf. Vaardigheidsopleiding en traumasorg word ook beplan. Met jou ondersteuning, kan die vervolgde Kerk in sub-Sahara Afrika sterk en veerkragtig bly. En Christene soos pastoor Barnabas is nie van plan om moed op te gee nie…
“God het nog altyd vir my gesorg en my bewaar, en ek gaan nie ophou om Hom te vertrou nie,” sê pastoor Barnabas. “Ons hou ons oë op Hom gerig en bly in Hom hoop. Aangesien God hierdie stryd vir ons stry, sal daar ʼn dag kom wanneer ons ʼn goeie lewe sal lei.”
Sal jy met die Kerk in Afrika saamstaan?
Kerkleiers in Afrika vra jou nou om saam met hulle te staan om die geweld te stop en die genesingsproses te begin.
Deur Arise Africa, ʼn wêreldwye veldtog, kan jy jou vervolgde familie bystaan:
- Staan by die 16,2 miljoen Christene wat deur gewelddadige vervolging uit hulle huise gedryf word.
- Ondersteun vier miljoen gelowiges geestelik, emosioneel en fisies teen 2027.
- Versterk die Kerk in sub-Sahara Afrika om veerkragtig, vindingryk en invloedryk te wees.