Skip to content

Die Kerk in Indië – ʼn lewende getuienis!

“Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so liefgehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.” – Openbaring 12:11

Die Woord van God wys dat daar ʼn groot oorwinning en triomf in die getuienis van gelowiges is, en ons het dit sien gebeur, veral in Indië. Gelowiges in Indië het die vrugte daarvan gepluk om hul verhale van geloof en hoop aan hulle geliefdes en gemeenskappe te vertel. Ondanks die uitdagings wat hulle ervaar – onregverdige behandeling, om laaste in die ry te wees vir noodleniging gedurende die pandemie, en toenemende geweld en vervolging te midde van die stygende infeksies in Indië – die Here bring steeds baie mense al nader aan Hom.

Talle mense sal die getuienisse van gelowiges wat ons deel, onthou. Hoewel sommige van hul verhale ʼn pynlike en tragiese einde gehad het, is die Here vandag besig om hul verhale te herskryf en hul lewens as ʼn lewende getuienis te gebruik sodat baie mense Hom en Sy goedheid kan leer ken. Soos Kirti* en Kusum*, wat slagoffers was van talle aaklige onregte wat teen hulle gepleeg is. Nou is hulle oorwinnaars wat baie mense na die koninkryk van God lei!

Kusum is ʼn weduwee wat baie verduur het weens haar geloof in Jesus. Ons het haar verhaal in 2016 die eerste keer gedeel, toe sy vir haar man se dood geblameer is en verhoed is om haar seun te begrawe omdat sy geweier het om haar geloof prys te gee. Sy het voortdurende verbale mishandeling vanaf die ander dorpenaars ervaar soos wat sy nader aan die Here gegroei het. Haar skoonpa het haar geloof as toksies beskryf en haar een keer met ʼn byl genader, terwyl hy gedreig het om haar dood te maak.

Danksy jou ondersteuning en gebede, stap Geopende Deure se plaaslike vennote al die afgelope vyf jaar ʼn pad saam met Kusum. Hoewel sy vandag nog steeds deur talle mense vermy word weens haar geloof, hou sy aan om Jesus se liefde te deel.

Sy deel: “Sedert die inperking het tien nuwe families tot bekering gekom. My skoonfamilie het my erg vervolg, maar nou glo hulle in Christus. Hulle het in die verlede dikwels na my huis gekom om my dood te maak. Ek het altyd vir hulle gebid. Die Here het my gebede verhoor en nou is hulle gelowiges. Almal behalwe my skoonpa het tot bekering gekom – maar hy leer ook nou meer oor die Christelike geloof. Hy vra my ook nou om vir hom te bid.”

Die meeste mense in Kusum se dorp wat tot geloof in Christus gekom het, was siek weens die pandemie, maar hulle is genees nadat hulle kerk toe gegaan het. Dit is ʼn antwoord op Kusum se gebede aan die Here – die mense wat die naaste aan haar is, leer nou vir Jesus ken!

 

Kirti het ook Jesus se krag in hierdie tyd ervaar. Ons het in 2019 meer gedeel oor die dapper geloof wat sy openbaar nadat haar man deur Maoist-ekstremiste vermoor is omdat hy gekies het om vir Jesus te leef. Ondanks die vervolging wat Kirti steeds daagliks verduur, hou die Here aan om vir haar te voorsien en het Hy ook haar gebede vir haar familie en dorp beantwoord. God het ook nou haar skoonfamilie se harte versag.

“My skoonpa het my vroeër baie vervolg weens my geloof, maar hulle bly nou by my omdat daar niemand anders is om vir hulle te sorg nie. Hulle het voorheen gesê my man is doodgemaak weens my Christelike geloof. My skoonpa het nie in Jesus geglo nie. Hy het gedrink en my vervolg, maar ek het voortdurend vir sy redding gebid. Ek dank God dat hy die afgelope paar dae in Christus begin glo het,” sê Kirti.

Sy vertel verder: “Baie nuwe mense in my dorp het gedurende die inperking gelowiges geword. Ek het tydens die inperking baie tyd in gebed deurgebring. Talle dorpenaars het na my huis gekom vir gebede vir hul siektes en God het hulle almal genees. Nou het baie nuwe mense in my dorp ook in Jesus begin glo.

“Ek is ongeletterd, maar ek deel alles wat ek van die Bybel hoor met ander. Die meeste mense in my dorp kom na my toe vir gebede vir hul siektes. Ek bid vir hulle, en God genees hulle dan. Ek word steeds deur sommige mense in my dorp vervolg, maar ek is nie meer bang nie. God is by my.”

Dit is wat jou gebede en ondersteuning doen om gelowiges in Indië te help. Jy maak seker dat die Kerk in Indië sterk staan, en jy rus hulle toe om die Kerk verder uit te bou en die Groot Opdrag in dié land te vervul.

Jy kan aanhou om by die Kerk in Indië te staan deur ons wêreldwye inisiatief om te help met voorspraak vir godsdiensvryheid, en teen ekstremiste se plan om die Christendom en ander godsdienste in die land uit te wis. Sluit by ons aan vir 31 dae van gebed vir Indië en vind meer uit oor ons veldtog vir die Kerk in Indië. Klik hier vir #standfortruthindia.

 

Back To Top
Soek