Wees deel van ʼn buitengewone verhaal
ʼn Verhaal van ongelooflike wonderwerke en vurige geloof is besig om in Indië te ontvou. Maar die Kerk is onder druk – en Christene het jou hulp nodig.
“Hy sal by my wees”
Toe Laxman* se vrou siek was, het hy haar uit desperaatheid na ʼn kerk geneem. Wat daardie dag gebeur het, was die begin van ʼn buitengewone verhaal . . .
“My vrou het genesing ná slegs een gebed ontvang,” het Laxman, destyds ʼn toegewyde Hindoe, gesê. “Ek het toe die krag van dié God verstaan en dit het my vasberade gemaak om Sy boodskap te versprei.”
Ná teologiese studies het Laxman later ʼn kerk gestig en beleef hoe ongelooflike wonderwerke begin gebeur. Ongelukkig is hy eendag valslik daarvan beskuldig dat hy iemand beïnvloed het om tot bekering te kom. Dit het daartoe gelei dat die polisie op sy kerk toeslaan.
“Ek was besig met ʼn diens toe die polisie ingestorm het,” onthou Laxman met trane in sy oë. “Hulle het my aangerand, aan die kraag gegryp en met knuppels geslaan. Ek het gereken die dorpenaars sou tot my redding kom, maar niemand het opgedaag nie.”
Laxman is tronk toe gestuur, gemartel en gespot. Ná ses dae is hy vrygelaat – net om sy kerk in puin te vind, die gelowiges verspreid en sy lewensbestaan vernietig. Laxman is nou onder voortdurende polisiebewaking.
Dit is ʼn wanhopige situasie, maar Laxman sal nie moed opgee nie. Hy ontmoet ʼn handjievol Christene in die geheim en sê: “God het belowe Hy sal by my wees.”
“Niks kan ons keer nie”
Hari* het swaarkry beleef sedert hy begin het om Jesus te volg. Geloof in Christus het immers beteken dat hy sy rug gekeer het op die tradisionele godsdiens van sy stam in landelike Indië. Hy is uit sy huis geskop en deur sy familie verwerp.
Maar niks kon Hari, ʼn kerkleier, voorberei vir die vervolging wat deur die deure gebars het toe sy gemeente Jesus se opstanding vier nie.
“Godsdienstige ekstremiste het saam met die polisie by ons Paasdiens ingestorm,” het Hari gesê. “Hulle het gelowiges gedreig en hulle uit die kerk verjaag. Die polisie het my verbied om kerkdienste te hou en die ekstremiste het my met die dood gedreig.”
Die ongevraagde en onbeplande aanval was vernietigend, nie slegs geestelik nie, maar ook finansieel. “As leraar van ʼn klein kerkie is gelowiges se offergawes my enigste bron van inkomste,” het Hari gesê. “Toe die kerk sluit, kon ek nie meer my gesin onderhou nie.”
Maar danksy jou het Hari lewensbelangrike ondersteuning ontvang. “Ek het tot die Here gebid vir hulp en Hy het jou gestuur,” het Hari gesê. “Ek vergader nou in die geheim saam met ander gelowiges, in klein getalle en in huise. Niks kan ons keer om Christus lief te hê en Hom te dien nie.”
“Hulle kan nooit God se mense vernietig nie”
Wat in Mei 2023 in Manipur-staat gebeur het, was ʼn skrikwekkende voorbeeld van onbeheersde vervolging en brutaliteit deur die gepeupel. Hindoe-ekstremiste met ʼn radikale nasionalistiese agenda het Christene met uiterste geweld geteiken.
“Ek onthou hoe ek hulpeloos toegekyk het terwyl alles wat jare geneem het om op te bou, binne ure tot as verbrand het,” het Ajay* gesê. “Ekstremiste het huise aangeval, bakstene gegooi en deure stukkend geslaan nadat hulle die kerk aan die brand gesteek het.”
Duisende Christene het uit die streek gevlug en talle ander het hul lewensbestaan en huise verloor. Pastore is onder druk geplaas om Jesus te verwerp of angswekkende gevolge in die gesig te staar.
Hoewel dit vir hom belangrik was om sy eie gesin te beskerm, het Ajay as ʼn Geopende Deure-vennoot ook ʼn oorweldigende verantwoordelikheid ervaar om vir God se geloofsfamilie te sorg.
Jou ondersteuning het Ajay die krag, hulpbronne en geloof gegee om in Manipur-staat aan te bly en vervolgde gelowiges te bedien.
“Ek het die krag om my medegelowiges aan te moedig, want ek is deur jou bemoedig,” het Ajay gesê. “God het ons beskerm. Ekstremiste kan ons geboue vernietig, maar hulle kan nooit God se mense uitwis nie.”
Jou aandeel in die verhaal
Indië se Kerk is oorwinnaars en groei, maar dit is ook kwesbaar. Jy vertolk ʼn belangrike rol in dié buitengewone geloofsverhaal.
Jou ondersteuning kan voedselhulp, vervolgingsvoorbereidheid-opleiding, berading en kleinsake-ondersteuning aan gelowiges soos Laxman, Hari en Ajay verskaf. Jou gawes en gebede versterk Indiese Christene om veerkragtig te wees en jy ondersteun ʼn florerende Kerk.
*Name verander vir sekuriteitsredes.