VN-verslag dui op ʼn sterker greep deur die Islamitiese Staat op Libië
Reuters berig dat volgens ʼn verslag deur die Verenigde Nasies, die Islamitiese Staat (IS) sy greep op Libië versterk. Na raming is daar soveel as 6 000 IS-vegters tans in Libië en daar word gesê dat hulle by die dag sterker word.
Volgens ʼn verslag deur Reuters op 10 Maart, 2016, dui die Verenigde Nasies se sanksiesmonitors aan dat die Islamitiese Staat (IS) sy greep op Libië versterk. In hulle jaarverslag, meen die monitors dat Libië “meer aantreklik geword het vir buitelandse vegters wat hoofsaaklik vanaf Soedan, Tunisië en Turkye die land binnekom.” Na raming is daar tans soveel as 6 000 IS-vegters in Libië en daar word gesê dat hulle elke dag sterker word. Hierdie is voorwaar ʼn betreurenswaardige verwikkeling vanuit die perspektief van Christene in Libië, sowel as in die omliggende omgewing.
“Met die Islamitiese Staat wat hulle greep op Libië versterk, beteken dit dat Christene in hierdie streek sal voortgaan om ʼn vorm van vervolging in die gesig te staar wat wreed en gewelddadig is. Gevolglik is nie net die stabiliteit van Libië in die gedrang nie, maar die hele streek se stabiliteit. Indien die bedreiging van IS nie vinnig aangespreek word nie, kan die onstabiliteit in Libië oorspoel na die Maghreb, asook die Sahel-streek. Aangesien godsdienstige fundamentalisme en die fanatisme die onderliggende rede is vir die geweld deur groepe soos IS, hou die feit dat die groep se invloed verder uitkring, groot gevaar in vir die godsdiensvryheid van Christene, sowel as van Moslems wat nie IS se fanatisme deel nie. Boko Haram, wat aktief is in die suide van Libië, en Al-Qaeda in die Maghreb (AQIM) se bedrywighede, in baie dele van die streek, vererger sake net verder,” sê Yonas Dembele, ʼn vervolgingsanalis van die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys se navorsingspan.
Bid dat die Here vrede teweeg sal bring in Libië en vir Sy beskerming van die stabiliteit in hierdie streek.