Skip to content

Viëtnam: ʼn Toename in die Verbryseling en Verdrukking van die Kerk in 2015

Met 2015 meer as halfpad verby, is Viëtnam, die nommer 16 plek waar Christene die ergste vervolging ervaar, steeds beperkend teenoor en gevaarlik vir diegene wat Jesus volg. “In vergelyking met 2014, is 2015 baie moeiliker,” vertel kerkleier Van (nie sy regte naam nie) aan Geopende Deure-werkers. “Sedert die aanvang van die jaar tot en met nou, het die regering nie enige nuwer kerke erken nie. Ondergrondse kerke word ook toenemend vervolg. Die regering wil die getal mense wat kerk bywoon, beperk. Hulle wil nie groei sien nie.”

Nuwe wetgewing wat reeds in die vierde konsepfase is, bly steeds die groei van die Kerk inperk deur gewelddadige, oftewel verbryseling taktieke, of deur beperkings en verdrukking. Volgens Christianity Today, laat Verordening 92, wat in werking getree het in Januarie 2013, godsdiensgroepe toe om wettig te registreer. Voor godsdiensgroepe egter kan preek, die sakramente kan bedien of hul eie godsdienstige leiers kan verkies, moes hulle reeds vir 20 jaar lank aanbid het, “sonder om die regering te versteur”.

“Wanneer ons voorheen teen die stipulasies van Verordening 92 opgetree het, is ons boetes opgelê, gekeer of het ons waarskuwings ontvang. Maar sou ons iets ‘verkeerd’ doen binne die konteks van die nuwe wetgewing wat opgetrek word, sal ons as oortreders van nasionale wetgewing hanteer word,” sê kerkleier Goh (nie sy regte naam nie).

Gevalle van ‘Verbryseling’

Op 16 Junie 2015, het tien mans op motorfietse, drie kerkwerkers van Ha Tinh, in Noord-Viëtnam aangeval. Die kerkwerkers was op pad huiswaarts nadat hulle ʼn Christenbegrafnis bygewoon het. Die gemaskerde mans het die Christene se motor voorgekeer in die middel van die pad en toe die kerkwerkers geweier het om uit die voertuig te klim, het die aanvallers die motor verniel en die glasvensters gebreek. “Een van die stukke glas het een broer in die nek getref en baie bloeding veroorsaak,” sê Jim (nie sy regte naam nie) ʼn plaaslike pastor. Toestemming om die begrafnis te hou, is nie deur die owerhede uitgereik nie en dit is beweerlik die rede vir die aanval.

Gevalle van ‘Verdrukking’

Geopende Deure ontvang voortdurende berigte van eredienste wat onderbreek word, die gebrek aan erkenning vir kerke en ondervraging. ʼn Bron, Sang (nie sy regte naam nie) van Ho Chi Minh, Suid-Viëtnam, deel, “Die regeringsamptenare stel die lewe van Christene in gevaar. As jy ʼn Christen is in die werksplek of op skool is, moet jy jou geloof ten alle tye beskerm.”

Hierdie verdrukking word deur kinders ook beleef. Pastor Dor (nie sy regte naam nie) deel, “Daar was ʼn geval in my kerk waarin ʼn jong, graad vier dogtertjie betrokke was. Sy is gevra om te skryf oor ʼn persoon wat sy bewonder en sy het oor Nick Vujicic geskryf. Aan die einde van haar opstel het sy Nick se verklaring aangehaal en gesê dat sy tot alle dinge in staat is deur Christus wat haar die krag gee. Die skool dreig nou om haar te skors.”

Geopende Deure help gelowiges in Viëtnam deur seminare wat Christene voorberei op vervolging, bybelse opleiding, die verspreiding van Christenliteratuur en praktiese noodleniging.

Back To Top
Soek