Skip to content

Vervolgde families en die kruis wat hulle dra

God het ‘n ontwerp en doel in gedagte gehad toe Hy die gesinseenheid geskep het – ʼn ruimte waar Sy liefde ervaar en uitgebeeld kan word. Om as gelowiges oor ʼn veilige hawe te beskik waar ons as ʼn geloofsfamilie Christelike waardes kan uitleef, is iets wat gekoester moet word. In die Suider-Afrika geniet ons dié voorreg, maar vir baie Christen-gesinne regoor die wêreld is dit nie die geval nie.

 

In baie wêrelddele word Christengesinne blootgestel aan vervolging deur ongelowige families en gemeenskappe wat dié strydbyl opneem. Baie gelowiges word deur dié ongelowiges verstoot en in sommige lande selfs aangesien as wetsoortreders wat ouer garde teenstaan en tradisies verwerp. Die vyand gebruik vervolging as ‘n instrument om die Christelike gesinseenheid af te breek vanweë die belangrike rol wat elke familielid in die Liggaam van Christus vertolk. Dit laat gelowiges kwesbaar en getraumatiseerd, maar ten spyte hiervan, bly vervolgde gelowiges regoor die wêreld vasbeslote om sterk te staan vir Jesus.

 

Hoofde van die Huishouding

Christenmans, as eggenoot en vader, word as gesalfdes van huishoudings deur vervolgers geteiken om Christen-gesinne af te breek.

“Dit is ‘n eenvoudige beginsel: dood die leier en wen die stryd,” sê ʼn Indiese kundige. Deur mans te teiken, kan vervolgers die breër Christen-gemeenskap pyn toedien. As voorsieners van gesinne word hulle ontneem van die verantwoordelikheid om aan families te voorsien en te versorg. Deur mans vir moordbendes en kriminele groepe te werf, te ontvoer of dood te maak, word gesinne en gemeenskappe dikwels getraumatiseerd en weerloos gelaat.

 

Deur tronkstraf of dood word Christenmans verwyder as die beskermheer van gesinne en vroue en kinders word hierdeur baie meer kwesbaar vir aanvalle. Ten spyte van al die teenstand, bly Christenmans getrou. Vir deurbrake in dié situasies word daar na God uitgereik wat dikwels deur ander gelowiges, vennote van die Kerk of van Christelike organisasies soos Geopende Deure kom.

 

Versorgers in Geloof

Christenvroue bring vreugde in die wêreld wanneer hulle kinders baar. As die een wat almal in die huishouding koester en versorg, dra sy ʼn kruis swaarder as enige ander persoon. Sy word nie slegs geteiken vir haar geloof in Jesus nie, maar ook weens haar geslag. Christenvroue word ook gesien as seksuele voorwerpe en voertuie van skaamte vir die Christen-gemeenskap. Dit is veral van toepassing op kulture waar seksuele kuisheid onlosmaaklik met familie-eer verbind word wanneer hul reinheid aangeval word. Deur dié vroue seksueel uit te buit deur ontvoering en gedwonge huwelike, word die Christenbevolking se groei gestuit.

 

Hierdeur word die bevolkingsgroei van vervolgers onteenseglik aangehelp. Vroue is ook as versorgers in huise gewoonlik diegene wat die Evangelie na die volgende geslag oordra. Weens geloof in Jesus Christus as die Verlosser leef hulle ook saam met die wete dat hulle dikwels van kinders en mans geskei kan word. Baie Christenvroue staar verskillende vorme van vervolging in die gesig. Tog gaan hulle voort om gesinne geestelik te versterk en te midde van die teenstand bly hulle standvastig en sterk in geloof.

 

Die volgende geslag

Kinders is ‘n seën van die Here, vorm die krone van ouers en grootouers se wese en verteenwoordig ‘n voortsetting van ‘n geslag van mans en vroue wat Jesus liefhet. Weens die potensiaal om die Kerk te laat groei en die Woord te versprei word hulle ook kwesbare teikens van vervolging. Hulle waag ook om van ouers en familie geskei te word wanneer hulle gedwing word om ‘n ander godsdiens te aanvaar. Met dié werkwyse weet vervolgers die Kerk sal in die komende geslagte moontlik kan verswak.

Soos volwasse mans en vroue, word hulle vervolging ook deur geslag bepaal. Seuns staar bedreiging in die gesig van gewelddadige fisiese aanranding; óf om in militante groepe, óf gewapende bendes gedwing te word om as soldate opgelei te word.

Dogters loop die risiko van ontvoering, dwang huwelike en onder dwang dan kinders te baar om toekomstige soldate in sommige lande te wees; óf om ‘n ander godsdiens se bevolkingsgroei aan te help. In sommige lande word hulle gedwing om te leer van die land se dominante geloof as ‘n manier om die Christen-geloof ʼn verdere nekslag toe te dien.

Benewens die volgehoue ​​diskriminasie, verwerping en vervolging deur portuurgroepe, kan ‘n behoorlike opvoeding vir dié jongelinge geweier word. Onderwys “bepaal” ‘n kind se pad na finansiële en sosiale sekuriteit, waarsonder die nuwe volwasse geslag selfs meer kwesbaar sal wees vir talle vorme van diskriminasie. Sodoende word die hand verstek van diegene wat die Christen-geloof vyandig gesind is. Tog, só jonk soos wat die kinders is, bly hulle moedig en standvastig in geloof.

 

Ten spyte van vervolging, diskriminasie en verwerping wat hulle in die gesig staar, steun ​​vervolgde Christengesinne op God se Woord. Geloof bly vir hulle ʼn bron van hoop waaraan vasgehou kan word te midde van die stryd. Dit is in Jesus wat elkeen van hierdie familielede vrede vind, maar hulle het jou gebede nodig!

 

Hier is hoe jy vir vervolgde gesinne kan bid:

  • Bid dat Christengesinne wat vervolging en verlies van geliefdes ervaar, krag en vertroosting in die Here sal vind en aan Sy beloftes herinner sal word. Bid dat hulle deur liefde en gebed gebonde en standvastig sal bly in geloof.
  • Bid vir vaders en moeders van huishoudings binne die vervolgde Kerk. Bid dat God aan vaders die wysheid sal gee om hulle gesinne te lei op die weg van God se leringe. Bid dat Hy moeders sal versterk om getrou te bly en sal help om die warmte van hul liefde en geloof uit te brei deur gebed en dade.
  • Bid vir kinders om sterk te staan en die Here se weë te leer deur ouers se getroue optrede en God se Woord. Bid dat die Here se Leringe in hul harte sal wortel skiet en in alle gedrag weerspieël sal word.

 

Vervolgde gesinne regoor die wêreld het jou gebede en ondersteuning nodig. Jy kan ‘n geloofsheld wees deur ‘n saadjie van geloof en hoop te saai. Jy kan help om in hul dringende behoeftes te voorsien deur Bybels, Bybelse opleiding, traumasorg en noodhulp te verskaf. Klik hier om die lewens van baie vervolgde gesinne wêreldwyd te verander en om seker te maak dat alhoewel hulle vervolg word, hulle nooit alleen staan nie.

 

Bron: Open Doors’ Gender Specific Religious Persecution Report and Open Doors Targeting the Next Generation of the Church Article.

Back To Top
Soek