Skip to content

Verhoogde druk op Soedanese Christene namate ontmoetingsplekke gesluit word

Soedanese owerhede het die ontmoetingsplekke van Christengemeentes, wat die vlugtelinggemeenskap dien, in die hoofstad van Khartoem, gesluit. Dit volg na ʼn opdrag deur die Ministerie van Binnelandse Sake, aan die begin van Februarie, dat hierdie kerke teen 15 Februarie aansoek om registrasie moes doen.

“Vrydag het vlugtelingkerke wat gewoonlik by die Presbiteriaanse Kerkgronde in Jerief en Suq Arabi-omgewing bymekaargekom het, geleer dat hulle ontmoetingsplekke gesluit is en dat daar nuwe slotte aangesit is. Die Presbiteriaanse Kerk in Gerief was ook gesluit vir kerkdienste vir Soedanese Christene,” het ʼn bron, wat anoniem wil bly vir sekuriteitsdoeleindes, Geopende Deure meegedeel. “Ten minste ses kerke kon nie Vrydag of Sondag voortgaan met hul kerkdienste nie.”

Dié vlugtelinggemeentes in Khartoem wat hul aansoeke om registrasie teen die sperdatum ingedien het, is aangesê om addisionele inligting te voorsien. Hierdie addisionele inligting moet, onder andere, die name en adresbesonderhede van die seniorpastore, die getal en name van al die gemeentelede, asook presies waar hulle byeenkom, insluit.

Kerke wat hierdeur geraak word, sluit gemeentes in wat vlugtelinge vanaf, onder andere, Eritrea, Ethiopië, Suid-Soedan en die Filippyne dien. Sommige pastore het vroeër hul bekommernis uitgespreek en gesê dat hulle vrees dat die regering baie inligting rakende hul doen en late sal bekom, terwyl hul gemeentes nie geregistreer sal word nie – soos die geval was in naburige Eritrea.

Die regering van Soedan plaas Soedanese Christene toenemend onder druk. Twee Christenpastors, wat verlede jaar in Desember gearresteer is, word tans in die hoofstad in totale afsondering aangehou, sonder dat daar enige formele klagtes teen hulle gelê is. Daar is groeiende kommer oor dié twee pastore se welstand.

Back To Top
Soek