
Vanuit die hart
Liewe vennoot en vriend
Dit is so ʼn wonderlike voorreg om die geskenk van Christus se geboorte hierdie Kersfees met ander te deel en Sy lewe te vier.
Soos wat ons die einde van 2025 nader, draai ons harte natuurlik weer na die Heilige Land – die geboorteplek van ons geloof en die oorsprong van soveel stories wat gevorm het wie ons is. Maar wanneer ons daarna kyk, word ons daaraan herinner dat dit diep wonde dra.
In die Heilige Land is die Kerk onder ʼn ernstige bedreiging om uitgewis te word. Hoewel ons as ʼn organisasie die bestaansbedreiging vir Israel erken, kan die krisis vir Palestynse Christene en die Kerk se toekoms nie oor die hoof gesien word nie.
Christelike Arabiere wat in Palestina woon, ervaar al vir dekades vervolging en lyding weens hul geloof. Palestina se telling op die Wêreldwaarnemingslys het sedert 2021 voortdurend gestyg. Die uitbreking van die oorlog tussen Israel en Hamas in Oktober 2023 het geweldige skade aan die klein Christelike gemeenskap veroorsaak. Die Palestynse Kerk is, eenvoudig gestel, op die punt om te sterf.
Daar is hoogstens 350 Christene in Gaza oor, en hulle sal waarskynlik padgee as hulle die kans kry. In die Wesoewer is daar minder as 40 000 Christene oor, en ʼn groot uitvloei van gesinne word verwag. Die getuienis van Christus in die Heilige Land is op die spel.
Die oorblyfsels van die Kerk is onder ernstige druk in Gaza, die Wesoewer en Israel self. Sal jy asseblief tyd neem om vir die Kerk in Israel en Palestina te bid – dat Christene moedig, geanker en ʼn lewende getuienis van Christus se vrede sal bly.
Terwyl ons vir ons familie in die streek bid en oor die wonde van die Heilige Land nadink, mag ons aan die antieke proklamasie herinner word:
“Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here.” – Lukas 2:11
Mag hierdie vers as ʼn herinnering dien dat, selfs in tye van onrus, hoop nie verlore gaan nie en dat oomblikke van genade in die donkerste omstandighede kan ontstaan.
Sy geboorte in Bethlehem verklaar dat duisternis nie wen nie. Sy lewe en dood wys dat liefde oor haat triomfeer. Sy opstanding verseker ons dat hoop elke ryk en elke oorlog oorleef.
Mag ons ook ons wêreldwye familie onthou, insluitende kinders soos Robin in Bangladesj, wat uiterste ontberings in die gesig staar en hoop nodig het. Dit sluit gesinne in wat die lewensgewende hoop koester wat kom uit ʼn Bybel wat in hul hande geplaas word.
In hierdie tyd, terwyl ons bid, reflekteer en optree, dank ek julle dat julle saam met ons deur hierdie jaar gereis het en onlangs julle eie stories gedeel het oor hoe ons Verlosser julle lewens deur julle eerste Bybels verander het. Dit is só betekenisvol en ʼn herinnering aan die hoop wat God selfs in die moeilikste omstandighede bring.

Vrede
Lynette Leibach
Uitvoerende direkteur van Geopende Deure Afrika
