Vanuit die hart
Liewe vennoot en vriend
Soos die Augustuswinde buite toeneem en ons gretig met afwagting uitsien na die lente om na die wintermaande deur te breek, dink ek baie oor “verwagting”.
My pa is middel Julie oorlede ná ʼn kort, maar uitmergelende siekbed. Die afskeid en hartseer sou ondraaglik gewees het as dit nie was vir die gretige afwagting om by die Here te gaan woon sodra ons nie meer in die liggaam (2 Kor. 5:8) as volgelinge van Jesus is nie, en die Goddelike hoop van die opstanding van die gelowiges en die lewe hierna (Geloofsbelydenis van Nicéa). As gevolg van hierdie hoop, het ons nou die verwagting van ʼn reünie met my pa in ons vir-altyd-woning by Christus.
Miskien staar jy moeilike omstandighede in die gesig en het jy ʼn herinnering nodig om in hierdie verwagting te leef. Word bemoedig! Lewe in die hoop van ʼn lewe hierna, waar daar geen pyn of swaarkry meer gaan wees nie. In hierdie uitgawe gaan jy lees van ons geloofsfamilie in Afrika wat baie swaar kry. Dis ʼn desperate situasie waarin miljoene ontwortelde Christene hulle bevind, veral die Sahel-streek in Nigerië, Burkina Faso, Niger en Mali, sowel as die Sentraal-Afrikaanse Republiek en die noordelike dele van Mosambiek. Dit is ʼn komplekse situasie met godsdienstige en politieke oorsake, gedryf deur radikale Islamitiese opstand.
Tog sal jy ook lees van die Kerk in Afrika, wat vasstaan in hulle geloof en Jesus volg te midde van gevaar en ontworteling. En van die Kerk in Afrika se uitnodiging om op hulle oproep te antwoord om saam met hulle in gebed te staan en betrokke te raak by die Arise Africa-veldtog en petisie. Mag ons hierdie wonderlike geleentheid aangryp om met die Liggaam van Christus saam te staan. En mag ons geseën word deur ons betrokkenheid en gebede terwyl ons ly saam met die Liggaam wat ook ly (1 Kor. 12:25-27).
Vrede
Lynette Leibach
Uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika