Vanuit die hart
Beste vennoot en vriend
Om oor die werklikhede te lees wat ons geloofsfamilie in Indië in die gesig staar, herinner my dadelik aan die skrif in Paulus se brief aan die Korintiërs: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie; op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.” (2 Kor. 4:8-9)
Ons familie in Indië beleef tans ʼn situasie soos die vroeë Kerk. Hulle verduur vals aanklagte, tronkstraf, geweld en teistering. Dit is alles weens radikale nasionalisme wat deur Hindoe-ekstremiste en hul Hindutva-ideologie gedryf word. Sodoende word daar geen ruimte vir godsdiens- en geloofsvryheid gelaat nie. Gevolglik word kerkleiers dikwels geteiken, wat die kwesbaarheid van hul kerklede verhoog en dissipelskap ontwrig. Hierdeur word die grootste skade aangerig.
Dit is waarom Indië se verkiesingsuitslag vanjaar ʼn beduidende invloed sal hê om die vyandigheid teenoor Christene in dié land te vererger of te verminder. En waarom dit so inspirerend is om die verhaal van Laxman, wat in die aangesig van vervolging volhard, te lees.
Bid saam met my dat die Here die lewens van ons familie in Indië sal bewaar. En soos Paulus ook geskryf het, dat hulle nie moed sal verloor nie en hul oë op die onsigbare gevestig sal wees sodat die genade al meer mense kan bereik en danksegging kan oorloop tot eer van God.
Nou op ʼn meer persoonlike noot, ek is só dankbaar vir jou belangstelling, ondersteuning en gebede. As jy iemand ken wat sou belangstel om meer te weet oor die kwesbaarheid en oorwinning van ons geloofsfamilie wat Jesus op gevaarlike plekke volg, vra hulle om in te teken op ons gereelde e-posse of WhatsApp-kommunikasie.
Vrede
Lynette Leibach
Uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika