Van Indië na Suid-Afrika: Die uitleef van geloof as ʼn Christen
Ons het die voorreg gehad om insig te kry oor die situasie in Indië van ʼn Christen van Indië wat nou in Suid-Afrika woon. Hy het vir ons meer vertel oor die daaglikse stryd wat Christene in Indië ervaar, en hy vra ons gebede vir die huidige verkiesings in Indië. Lees hieronder wat hy te sê gehad het.
Die state of provinsies van Suid-Indië bestaan uit Kerala, Tamil Nadu, Telangana, Andrah Pradesh en Karnataka, met Kerala en Tamil Nadu wat die grootste deel van die Christen-bevolking huisves. Gevolglik het die Noord-Indiese state ʼn klein Christelike bevolking.
Tweedens dra die laer klas in terme van die kastestelsel amptelik by tot dié syfers omdat bekering na Christenskap vanaf ʼn ander geloof lank gelede weens verskeie redes plaasgevind het. Die hoofrede was die weiering om die laer klas gelykstaande aan hoër klasse in die kastestelsel te behandel. Een van die praktyke, wat selfs vandag nog in verskeie dele van Indië plaasvind, is om nie toe te laat dat Hindoes van ʼn laer kaste in Hindoe-tempels saam met mense van ʼn hoër kaste aanbid nie. Dit is nie ʼn probleem in stede nie omdat hierdie ondefinieerbare eienskappe nie volgens hul voorkoms geïdentifiseer en geklassifiseer kan word nie, maar dit is baie algemeen in plattelandse dorpies.
Mense in die hoër kaste dink altyd die Christendom behoort aan die laer kaste. Daarom doen familielede alles in hul vermoë om verhoudings met individue of selfs die hele gesin wat Jesus as hul Verlosser aanvaar, weg te steek of te verbreek, wat daartoe lei dat die gelowige sy/haar gesin prysgee of sy/haar geloof in die geheim behou.
Om bekering tot die Christendom te beperk, word voorregte soos hoër onderwys en werksgeleenthede wettiglik van hierdie laer klas mense ontneem as hulle hul Christelike geloof in die openbaar verkondig.
Wat nog meer hartverskeurend is, is dat segregasie binne die Christendom tot so ʼn mate op die kastestelsel gebaseer word dat daar aparte kerke vir elke kaste in dieselfde dorp is.
Die vlak van vervolging wissel van staat tot staat, gebaseer op hul vlak van sosio-ekonomiese groei. Bogenoemde segregasie bestaan steeds in die suidelike state, wat in vergelyking met die noordelike state aansienlik meer ontwikkel is. Boonop ervaar mense ook ernstige vervolging in die vorm van aanvalle deur die gepeupel en die vandalisering van kerke in sommige van die noordelike state, veral waar hul sosio-ekonomiese groei stadig is.
Kerke en pastore van alle denominasies ervaar die afgelope paar jaar voortdurende dreigemente en aanvalle op verskeie maniere, soos dat hulle nie toegelaat word om in openbare plekke te preek nie en baniere met erediensinligting nie in hul eie huise toegelaat word nie. In baie gevalle is pastore en gelowiges aangeval terwyl eredienste aan die gang was. Hoewel die Indiese grondwet alle landsburgers toelaat om hul eie oortuigings te volg en hul geloof vrylik te bevorder, mits ander oortuigings nie veroordeel word nie, neem hierdie tipe voorvalle teen ʼn kommerwekkende tempo toe.
Nou is dit feitlik onmoontlik om goedkeuring te verkry vir die oprig van nuwe kerkgeboue of die opknapping van ʼn bestaande kerk nadat dit gesloop is.
Ongelukkig is al die weeshuise, ouetehuise en ander sosiale aktiwiteite onder ʼn Christelike vaandel, wat minderbevoorregte mense ophef, se aktiwiteite verban omdat dit beskou is as maniere om mense tot die Christendom te bekeer met behulp van buitelandse geldelike ondersteuning.
Ek moet ook noem dat alle buitelandse sendelinge uit Indië verban is en dat dit vir hulle onmoontlik is om hierdie land te besoek, met die hoop dat dit sou verhoed dat die Evangelie aan onbereikte mense verkondig word, sonder om te weet dat God op geheimsinnige maniere werk.
Wat selfs nog meer kommerwekkend is, is die realiteit dat Hindoe-ekstremiste vol vertroue is dat hulle maklik kan wegkom met onwettige dinge wat aan Christene en Christelike instellings gedoen word, aangesien die Hindutva-ideologie en Hindoe-nasionalisme die denke van Hindoes deur die goed georganiseerde Hindoe-instellings beïnvloed.
Ons dank God dat ons nie direk of indirek enige vorm van vervolging in Suid-Afrika ondervind het sedert ons die Here hier begin aanbid het nie. Ons versoek almal nederig om vir die verkiesing in Indië te bid, wat op 19 April 2024 begin het, aangesien die verkiesingsuitslag grootliks sal bepaal tot watter mate Christelike minderhede in die toekoms hul vryheid van aanbidding en prediking in die land sal kan beoefen.