Skip to content

Ter nagedagtenis van Marawi, Filippyne, een jaar later

Gister, 23 Mei, was dit ʼn jaar sedert die Maute jihadiste groep (wat geaffilieer word met die Islamitiese Staat) die stad van Marawi in die Filippyne beleër het, in ʼn poging om ʼn nuwe kalifaat in Suidoos-Asië te vestig en uit te brei. Dié vyf maande lange konflik  het die stad tot sy knieë gebring en plaaslike inwoners gedwing om te vlug.

Een van die oorlewendes, Pastoor Leo* onthou wat gebeur het, “Dit was senutergend. Die bomme het nie vir ʼn oomblik opgehou nie… Daar was elke aand lugaanvalle. Hulle [die regering] het die hele stad van Marawi gebombardeer.”

ʼn Ander oorlewende, Hamil* (21) is van sy familie geskei terwyl hulle van die chaos gevlug het. Hy is weer met meeste van sy familie herenig, maar het sy ma in die proses verloor. Sy was siek, en weens die voortdurende oorlog was hospitale en apteke gesluit, en is haar sieketoestand onbehandeld gelaat. “My ma is dood weens siekte. Ons het nie geweet waar om haar op te spoor nie. Ons was hulpeloos… “ vertel hy.

In die hitte van die stryd, het God vir Leo en Hamil gebruik om kos en noodlenigingspakke te versprei wat voorsien is deur Geopende Deure en ander organisasies, wat sommige in die stad gehelp het om te oorleef.

Ongelukkig is daar nog baie wat gedoen moet word in die stad voordat die plaaslike inwoners kan terugkeer. Ayesha*, ʼn veldwerker van Geopende Deure, het gesê, “Die huidige situasie in Marawi is steeds baie onstabiel. Vir ons om die mense te kan help… moet ons weet hóé om hulle te help om hul lewens te herbou.”

Bid dat dit moontlik sal wees vir die mense van Marawi om hul lewens te herbou. Mag talle mense Christus ontmoet deur die getuienis van die Christene om hulle. Bid dat God sal aanhou om te werk deur Geopende Deure se ondersteuning aan ons broers en susters in die Filippyne.

Dankie vir jou gebede!

*Name verander vir sekuriteitsredes.

Back To Top
Soek