Getuienis: “Julle vra altyd hoe dit met ons gaan”
Abraham en sy gesin is deur gewelddadige vervolging uit hul huis verdryf. Nou is hulle onder 16,2 miljoen ontwortelde Christene in Afrika suid van die Sahara. Jou ondersteuning hou hulle – en hul geloof – lewendig.
Dit was middernag toe die eerste geweerskote klap…
Abraham is gewaarsku dat Fulani-militante beplan om sy dorpie in Benue-staat, Sentraal-Nigerië, aan te val, en daarom het hy sy vrou en drie kinders na veiligheid gestuur. Maar Abraham kon nie sy broer red nie.
“Hulle het hom deur die deur van sy huis geskiet, toe het hy na buite gegaan en hulle het hom in die kop geskiet.”
Dit was meer as drie jaar gelede. Sedertdien woon Abraham en sy gesin in ʼn tydelike tent in Ichwa, ʼn kamp vir interne ontwortelde persone (IDP’s). Dit is te gevaarlik om huis toe te gaan, want militante sal die gesin doodmaak as hulle nie die Islam-geloof aanneem nie.
Maar toestande in die kamp is desperaat…
Geen kos, geen hoop nie
“Ons sukkel om aan die lewe te bly,” sê Abraham, wat die rol van kampvoorsitter oorgeneem het. “Kyk na my kinders, hoeveel gewig hulle verloor het.”
Tot sewe mense slaap in elke tent, en 3 000 mense deel net 15 toilette. Abraham se kinders gaan nie meer skool nie, en hy is bekommerd oor hul toekoms. Hy het sy eie droom om universiteit toe te gaan, laat vaar. Dit is geen verrassing nie dat Abraham soms vra waar God is.
Jou omgee
Maar jy bring hoop na Ichwa se kamp vir interne ontwortelde persone. Jou ruimhartige ondersteuning beteken dat noodsaaklike voedsel en praktiese hulp Abraham en ander gelowiges bereik.
“Toe ek vir die mense sê dat Geopende Deure-vennote ons kom besoek, was hulle verheug oor die hulp wat julle ons gee,” het Abraham gesê. “Die laaste keer toe julle kos voorsien het, het dit vir sowat twee maande gehou, selfs vir gesinne met baie lede.”
Abraham waardeer egter bowenal jou standvastige omgee – want dit wys dat God hom nie in die steek gelaat het nie.
“Dinge is baie sleg hier in die kamp, maar sodra ons julle sien, raak ons vrolik en opgewonde,” het Abraham met ʼn glimlag bygevoeg. “Julle vra altyd hoe dit met ons gaan, en dit alleen maak ons baie gelukkig. Ons weet God help ons.”
Danksy jou weet gelowiges in Afrika suid van die Sahara soos Abraham dat hulle nie alleen is nie.
“Ons bid altyd dat God engele tot ons redding sal stuur,” het Abraham gesê. “Ons sal God aanbid omdat
Hy ons lewens gered het. Ek het nog steeds vir God. Hy sal my verseker verlos.”
Bid asseblief:
- Vra God om Abraham aan te moedig in sy rol as kampvoorsitter.
- Bid vir ʼn einde aan honger en siekte in Nigerië se vlugtelingkampe.
- Bid dat die Arise Africa-veldtog bewustheid oor gewelddadige vervolging in Afrika suid van die Sahara sal verhoog, en ʼn einde aan die lyding van Christene soos Abraham sal bring.
Staan saam met gelowiges in Afrika suid van die Sahara en baie ander lande regoor die wêreld waar hulle vervolg word omdat hulle Jesus volg.
Jou geskenk vandag kan help om hulle te onderhou deur broodnodige hulp, traumasorg, dissipelskap en nog baie meer aan hulle te voorsien. En jou gebede kan help om hulle op te hef tydens die uitdagings wat hulle in die gesig staar.