Skip to content

Vroue van die vervolgde Kerk: Gertrude

Gertrude* (27) lê bebloed op die grond, met ʼn skietwond in haar maag en haar voet wat klop van pyn waar twee koeëls haar getref het. Sy lig haar kop uit die modder en kyk terug na die veld waarvandaan sy gevlug het. Dis ʼn afgryslike toneel… Om alles te kroon, het gewapende mans haar man doodgemaak, terwyl hul driejarige seuntjie toegekyk het en daarna spoorloos verdwyn het.

Gertrude en haar man was op hul plaas in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) toe die Geallieerde Demokratiese Magte (ADF) hulle aangeval het. “Ek het ernstige beserings opgedoen omdat ek drie keer geskiet is. Toe die derde koeël my tref, het ek al my krag verloor en op die grond neergeval.”

Sy was hierna ʼn weduwee met ʼn beperkte inkomste, permanente beserings en heelwat kinders om te versorg.

Die ADF het in Mei 2018 ook haar suster vermoor, so sy was nou ʼn enkelouer vir beide haar en haar suster se kinders.

“God het my uit die gevaar gered en ek het hoop dat Hy altyd teenwoordig is. As ek ver van Hom af weggedwaal het, sou ek lankal dood gewees het.”

Geopende Deure het Gertrude bygestaan met finansiële hulp om ʼn klein onderneming te begin. Sy het ʼn winkel oopgemaak waar die dorpsmense daaglikse benodigdhede kan koop, en sy is vasbeslote om ʼn sukses daarvan te maak.

Hoe kan jy ondersteun?

Bid. Bly op hoogte van nuus uit die vervolgde Kerk. Gee ʼn geskenk vandag om gelowiges te ondersteun wat die ergste vervolging vir hul geloof in Jesus verduur.

Jou ondersteuning vandag sal hulle help om staande te bly met die wete dat hulle nooit alleen is nie.

*Naam verander vir sekuriteitsredes.

Back To Top
Soek