Skip to content

Soedan: Sewe aanklagtes teen Soedanese pastore na maandelange onwettige gevangehouding

Na agt maande van regsonsekerheid, het Soedan uiteindelik pastore Hassan en Kuwa van ten minste sewe oortredings aangekla, waarvan sommige strafbaar is met die doodstraf indien hul skuldig bevind sou word.

Hassan Abduraheem Taour en Kuwa Shamal, beide pastore van die Soedanese Kerk van Christus, wat onder aanval is, word “aangekla van medepligtigheid aan die uitvoering van ʼn kriminele ooreenkoms en oorlogvoering teen die regering,” volgens Christian Solidarity Worldwide (CSW). Dié twee Christenkerkleiers staar ook aanklagtes van spioenasie in die gesig, deur die teenkanting van die openbare gereg deur middel van geweld of kriminele mag, wat haat tussen klasse aanhits, het CSW bygevoeg. Die maksimum tronkstraf wat opgelê kan word vir oorlogvoering teen die regering (Artikel 51 van Soedan se wetgewing) en spioenasie (Artikel 53), is die doodstraf.

Hassan is sedert 18 Desember in gevangenskap sonder enige aanklagtes teen hom, wat teenstrydig is met Khartoem se eie wetgewing. Intussen is Kuwa op dieselfde dag gevange geneem, vrygelaat en weer op 24 Mei gevange geneem. Volgens Soedanese wetgewing, moet ʼn gevangene binne 45 dae na inhegtenisname óf voor die hof verskyn, óf vrygelaat word – ʼn reël wat in die geval van beide Hassan en Kuwa, geïgnoreer is.

Aanvanklik is daar geglo dat die pastore op 14 Augustus voor die hof verskyn het, maar World Watch Monitor verneem dat die verhoordatum op 14 Augustus skielik uitgestel is na 21 Augustus. Volgens die Sudan Tribune het die verhoor, onder streng sekuriteitsmaatreëls, op hierdie datum aanvang geneem.

Ten spyte van die baie ander oortredings, word die Christene beskuldig van die “verspreiding van valse nuusberigte, asook die indringing en fotografie van militêre gebiede en toerusting.”

Beide Hassan en Kuwa kom vanuit die Nuba-mensegroep, ʼn mensegroep eie aan die grensgebied van die nou onafhanklike Suid-Soedan, en onder die mensegroepe wat die etniese en godsdienstige gesag van Khartoem weerstaan. Selfs voordat Kuwa weer in hegtenis geneem is, het bronne berig dat Hassan aanklagtes van “ondermyning van die gereg” in die gesig kon staar, aanklagtes wat Soedan in die verlede gebruik het na die langdurige gevangenskap van Christene.

Bid asseblief vir Hassan en Kuwa terwyl hulle wag om te hoor wanneer hulle weer voor die hof moet verskyn.

Soedan is #8 op die Geopende Deure 2016 Wêreldwaarnemingslys van plekke waar Christene die ergste vervolging ervaar.

Back To Top
Soek