Reeds 730 dae: Chibok-ouers nog steeds in die duister oor waar hul dogters is
Op 14 April, 2016, sal dit twee jaar wees sedert Boko Haram meer as 200 meisies ontvoer het vanaf die Chibok Hoërskool, in noordelike Nigerië se Borno-staat. Tot op hede het die Chibok-ouers geen konkrete nuus ontvang oor waar hul dogters is nie.
Dit sal môre twee jaar wees sedert Boko Haram meer as 200, hoofsaaklik Christenmeisies, ontvoer het vanaf die Chibok Hoërskool in noordelike Nigerië se Borno-staat. Vir die afgelope 730 dae, het hierdie ouers geen konkrete nuus ontvang oor hulle dogters nie.
Boko Haram se ontwykende leier, Abubakar Shekau, het gespog dat hulle die dogters tot Islam laat bekeer het en hulle toe aan Moslemmans verkoop het om mee te trou. Party vroue, wat gered is uit Boko Haram-kampe, getuig dat hulle die dogters of gesien het, of van hulle gehoor het. Sommiges meen dat die dogters Moslems geword het, party is selfs glo Moslemkrygers. Ander sê dat hulle goed behandel word, eenkant gehou word, en uitstekend versorg word, omdat hulle in bedingings gebruik kan word.
Sommige waarnemers spekuleer dat ten minste die helfte van die meisies reeds doodgemaak is, ander raai dat die meisies onder druk geplaas word of gefnuik word om selfmoordbomaanvallers vir Boko Haram te wees. Die regering rep egter nie ʼn woord nie – niks word gesê oor voortgaande soektogte óf volgehoue onderhandelinge óf reddingspogings nie.
Die Chibok-ouers – wat deur siektes geteister word as gevolg van die konstante onrustigheid en bekommernis oor die welstand van hulle dogters en die gebrek aan konkrete verwikkelinge – kom môre byeen vir ʼn gedenkdiens. Bid die Here se beskerming oor hierdie gedenkdiens, vir die Here se vertroosting en genesing, en dat die meisies veilig terugbesorg sal word. Bid ook dat meer gedoen sal word om die Chibok-gemeenskap te help om, soveel as wat moontlik is, terug te keer na “normaal”.